ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

VROLIK IN VENESIË/ALTYD LUS VIR VENESIË

First published in die Burger, October 2010

die-oudste-venesiaanse-tradisie

Kanaal is so ‘n plat woord vir dit wat tipies Venesies is. Venesiese glas is amper net mooi as jy dit daar sien, maar heelwat minder as jy dit by die huis uit die sneespapier haal. Venesië kan te besig wees, maar dat dit kan teleurstel, kan ek my nie indink nie.

G’n wonder Truman Capote het ‘n besoek aan Venesië vergelyk met die eet van ‘n hele boks likeursjokolades op een slag nie.

Drie besoeke het nog nie my lus vir Venesië bevredig nie. Inteendeel. Dis nie om iets spesifieks te sien of besoek nie. Dis om rond te dwaal, te verdwaal, die atmosfeer in te drink, êrens bekostigbaar (en dis moeilik om in Venesië te kry) saam met die pelsjasgekledes in die winter en die magdom toeriste in die somer iets te drink of eet.

Vergeet van ‘n duur en oorgeromantiseerde gondola-rit. Klim op ‘n vaporetto saam met ou tannies met hul inkopiesakke – jy sien dieselfde as wat jy van ‘n gondola sou sien, net sonder aria-begeleiding.

EILANDE WAT RYM

Daar is ook vaporetti na Murano, die eiland waar die glasblasers woon en werk, en Burano, die eiland waar redelike nors tannies by hul voordeure kant hekel. Burano is mooier as Murano, maar die dagekspedisie neem ‘n volle dag in beslag. Die huisies op Burano is skreeuhelder geverf – turkoois, lila, baksteenrooi, oranje – met hortjies in kontrasterende kleure. Die mense gaan doodgewoon met hul lewe aan terwyl toeriste tussen hul huise rondloop en rondloer. Baie van die glas is kitscher as kitsch. Selfs al hou jy van tong-in-gie-kies kitsch, is die meeste (verstout ek my om te sê) wat hier te koop is, te oorweldigend kitsch. Tog vind ‘n blou-en-geel glaspampoen en ‘n hoenderbottelstopper  hul pad na my dagsak. Kan my verskoning wees dat die glasindustrie uit 6 v.C. dateer…?

tipies-burano

 DROOGVOETS OP DIE PIAZZA

As dit ‘n eerste besoek aan Venesië is, is dit ‘n goeie idee om op die eerste dag ‘n gevoel van die stad te kry. Op Piazza San Marco (die naam laat jou dadelik aan roomys dink)) is altyd ‘n lieflike atmosfeer. Op mini-podiums voor (duur) restuarante speel mini-simfonie-orkessies. Hordes toeriste (in die somer) voer honderde duiwe en kameraflitse gaan onophoudelik af.

Hopelik het jy die voorreg (ja, jy het reg gelees) om daar te wees as ‘n wolkbreuk of harde reënbui skielik uitbars en  San Marco in ‘n oogwink oorstroom  Die Venesiërs noem dit acqua alta of hoogwater en die ergste opgetekende voorval was in 1966. Een oomblik is dit sonnig; die volgende oomblik waai die wind in vlae, donker wolke verskyn uit die niet, dit begin reën en liggies hael. Die Venesiërs skarrel (steeds elegant) rond en die toeriste lag – dis ‘n avontuur in Venesië! Swiesj swiesj stap almal na ‘n restaurant wat òf droog is òf nog plek het.

Reeds uitgeboek by ons hotel omdat ons laatmiddag sou vertrek, is dit minder  plesierig om deurnat ander blyplek op te spoor. Na ‘n redelike soektog kry ons ‘n lieflike kamer wat op een van die kanale uitkyk. Aan die oorkant van die kanaal is ‘n huis sigbaar waarvan die onthaalvertrek kompleet met Venesiese kristalkandelare twienke. Só  woon (sommige van) die Venesiërs.

Een van die lekkertes van Venesië is om te verdwaal. Al kom jy lyfseer geloop terug by jou hotel, sal jy verkwik voel deur dit waarop jy toevallig afgekom het.

Op ‘n klein piazza’tjie kom ons ‘n enig-in-sy-soort winkel teë. Die winkelpoppe is konings met krone en stiletto’s (in mansgroottes). Op ‘n volgende besoek aan Venesië spoor ek dit so wraggies weer op – verdwaal is verdwaal is verdwaal, lyk my. ‘n Ander wandeling lewer ‘n terracotta dak op – orals oor bedek met talle skewe skoorsteentjies.

GOEIE GENUGTIG, ‘N GUGGENHEIM

In ‘n klein systraatjie is die kleinste Guggenheim Kunsmuseum, voorheen die privaatwoning van Peggy Guggenheim (met haar kat-, skoenlapper- en vlermuis-s0nbrille). Peggy en haar veertien honde is in die tuin (origens gevul met moderne standbeelde) begrawe. Die huis self is onindrukwekkend, maar die kuns (onder andere een Chagall en twee Salvador Dali’s) slaan jou asem weg. Behalwe moderne kuns, is daar ook replikas van Peggy se ontwerper-skoene en -handsakke en natuurlik die sonbrille.

KUNS MAAK NIE JOU MAAG VOL NIE

Kos is dúúr in Venesië en baie keer teleurstellend. Vermy al die plekke met spyskaarte met foto’s buite opgeplak het. Vermy ook al die plekke wat op die hoofstaproetes oppad na San Marco is. Dit mag ‘n growwe veralgemening wees, maar hier het ek al die slegste pizza van my lewe geëet en die meeste restuarante hier rond is slegs vir niksvermoedende toeriste. Stap na ‘n stiller deel en kyk waar die Venesiërs eet.

As jy, soos ons, ‘n plekkie raakloop waar seekat-ink gegeurde risotto of pasta bedien word, sit jy dadelik. Dis nou na jy darem eers vinnig geloer het hoe die pryse lyk. Verlustig jouself in die subtiele anyserige smaak (maar sonder dat dit na outydse droplekkers proe)– dit geval nie almal nie, maar dis die smaak-ekspiriment werd as dit ‘n nuutjie vir jou is.

As middagete ‘n bederf-jouself kwaliteit aangeneem het, is ‘n outydse wynkroegie met ‘n lae plafon net die plek vir ‘n glas of drie wyn (jy hoef mos nie te bestuur nie!) en antipasti vir knibbel in plaas van ‘n aansit-aandete. Moenie nalaat om artisjokke op tipiese Italiaanse manier voorberei, te bestel nie. Dalk het dit tot gevolg dat jy, soos ek, vier keer  vir nog na die toonbank terugstap. Die porsies was wel klein…of so het ek myself wysgemaak.

Voor jy totsiens aan Venesië sê, bederf jouself met ‘n Bellini van prosecco (in die somer) of ‘n warmsjokolade (in die winter) by Harry’s Bar. Die wie’s wie van die wêreld hang daar uit. Dalk sien jy iemand beroemds; andersins drink jy net die atmosfeer in en beplan hoe jy met jou volgende reis waarheen ook al nog ‘n paar dae in Venesië kan bywerk.

EET  BY:  Do Mori, Calle dei Do Mori – die oudste wynkroeg in Venesië

NEEM HUIS TOE:  Enige produk van Lush, Cannareggio, 3822 of 95,  San  Polo                                                         Moderne/funksionele glas van Domaghi, Cannareggio, 5261 of                                                   San  Polo 1409/a                                   

BEDERF JOUSELF:   By Harry’s Bar, net om die hoek van Piazza San Marco, Calle                                                       Vallaresso, 1323

BESIGTIG KUNS:  Peggy Guggenheim Kunsmuseum, Dorsoduro, 704

NEEM FOTO’S:  Op Piazza San Marco, op Burano en Murano, van die Canal Grande en                                       Ponte Rialto

                           

voor-harrys-bar

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on February 14, 2017 by in Internasionale reis – Afrikaans.
%d bloggers like this: