ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

VAAR VALPARAISO BINNE

First published in Die Burger, December 2011

Geel, blou, rooi, groen. Sinkdakke. Geboutjies wat herinner aan plakkershutte langs die N2 net duskant Kaapstad Internasionaal. Net – hierdie gehuggies is ‘n dagekspedisie buite Santiago, Chile.

Die Suid-Afrikaanse gringos kom nou inloer

Ook is hierdie bont huisies ingedruk teen steil heuwels tussen lowergroen plantegroei. Van ver (vanaf die busstasie waar jy uitklim na ‘n 2-uur rit van Santiago) lyk dit ook meer higiënies, meer georganiseerd, skoner as wat ‘n mens verwag. Tussenin die heuwelgeboutjies is ascensores (kabelhysbakkies) wat takketak opwaarts kruie.

Valparaiso is eintlik bekend – desondanks die feit dat dit ‘n UNESCO Wêreld-erfenisgebied is – vir Pablo Neruda se La Sebastiana huis. Dít alleen verg ‘n uitstappie soontoe. Dis ook wat ons soontoe laat gaan het.

Valparaiso self – onderkant die heuwels – is nie oral toerisvriendelik nie. Sommige reisgidse waarsku teen rondloperhonde wat saans gevaarlik kan wees. Ons sien ‘n paar brakke wat lyk of hul gedurende die dag hul roes afslaap. Ons sien ook van die plaaslike mans wat lyk of hul gevaarliker as die honde kan wees. Die vismark-area was definitief aan die ongure kant en ons is vinnig daar weg.

Klaarblyklik moet 'n mens nie slapende honde in Valparaiso wakkermaak nie

Nietemin is dit interessant om deur Valparaiso te stap. ‘n Blok of twee, drie onder die busstasie is die groentemark van die buurt. Behalwe ‘n Chileense bergie of sakkeroller hier en daar is die Chilene oorstelp om buitestaanders in hierdie deel van hul dorp te sien.  Die geel-en-groen onderdakmark beslaan sowat ‘n straatblok. As jy jou oë na bowe slaan, sien jy die tipiese reënboogdakhuisies van Valparaiso wat van heuwel na heuwel strek. Regdeur die stad en om die baai. Dis ‘n kleurvolle sinkplaatbuurt.

Sommige gehuggies het drie verdiepings – die eerste stene, die tweede sinkplaat en die derde soms glas. Baie is verwaarloos; ander lyk of die helder verf dit aanmekaar hou.

Dele van Valparaiso is maar haglik en dis nie 'n goeie idee om daar te gaan rondloop nie

Valparaiso was eens ‘n belangrike hawe-stad en die finansiële hoofkwartier van Chile. Dit moes lank terug gewees het, maar al Valparaiso se sjarme het nie verlore gegaan nie.

Kleur is kenmerkend van Valparaiso

Die welvaart van eens word in die ascensores weerspieël. Juis met een van hierdie ascensores bestyg ons die heuwel waarop La Sebastiana geleë is.

Met die eerste oogopslag is La Sebastiana blóú, en so ietwat saamgeflans asof dit stuk-stuk gebou is. Pablo Neruda het drie groot liefdes in sy lewe gehad en was meer as een keer getroud. Behalwe om te dig en skryf, het hy ook as konsul in verskillende lande gewerk. Sy eerste boek is gepubliseer toe hy nog op universiteit was. Hy het op ‘n manier twee lewens gelei – as skrywer cum digter, en as politikus.

Neruda se huis is speels, ‘n plek om partytjie te hou, ‘n plek om te lag. Uit amper elke vertrek kyk jy uit oor die Valparaiso heuwels. Daar’s ‘n amperse lewensgrootte hobbelperd; daar’s eetborde geïllustreer met warmlugballonne; daar’s filigrein (filigree) toiletdeure; daar’s regte-egte boegbeelde. In die koffiewinkeltjie kan jy Heidi-en-Peter broodjies met gesmelte kaas bestel.

Neruda het geglo (veral) mans moet nooit hul speelsheid verloor nie en in hierdie huis van hom straal dit uit elke hoek. Pablo het sy gunsteling leunstoel “Die Wolk” genoem. In dieboonste deel van sy huis was ‘n studeerkamer wat aan die wind uitgelewer was. Dit het vir hom soos ‘n skip op die see gevoel as hy hier gesit het terwyl die wind gewaai het. Neruda was mal oor skepe, maar het verkies om nie homself op water te begeef nie. Hy’t homself as ‘n “kaptein van die land” bestempel.

'n Poskaart van Pablo Neruda se studeerkamer wat aan die wind uitgelewer was

Na ‘n uitgerekte besoek aan La Sebastiana was daar nog tyd vir ‘n antiekwinkel of twee, maar ons het seker gemaak dat ons voor donker weer ons bus terug na Santiago haal.

 

 
PABLO NERUDA SE HUISE IN CHILE
 
Las Chascona (die vrou met die woeste hare) is op ‘n heuweltjie in die hoofstad Santiago. Kunswerke van sy vriend, Diego Rivera, is ook hier te sien. Neruda was gek oor kleur en gekleurde glasvoorwerpe is oral strategies geplaas sodat die kleur optimaal sigbaar kan wees. Hier is berugte etes om die steeds gedekte tafel gehou. Die eetkamer het ‘n geheime in- of uitgang wat in ‘n muurkas versteek is.
 
Isla Negra  is 45 minute suid van Valparaiso. Neruda was ‘n obsessiewe versamelaar en dit kan duidelik in Isla Negra gesien word. Oorspronklik was dit ‘n kliphuisie, maar deur die jare het Neruda verskeie kamers aangebou.
 
La Sebastiana in Valparaiso. Dele van die huis lyk soos ‘n skip  en baie van die eklektiese dekor het ook ‘n boottema. Soos die vorige twee huise, is La Sebastiana ook gevul met speelgoed. Vir een van die enigste vertrekke wat nie ‘n see-uitsig het nie, is ‘n ander plan deur Neruda beraam. Die muur is blou geverf sodat dit hom aan die see kon herinner.
Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on March 23, 2017 by in Internasionale reis – Afrikaans and tagged .
%d bloggers like this: