ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

BILBAO – ‘N MOOI MUSEUM EN ‘N HOND WAT BLOM

First published in Die Burger, January 2011

Dit kan net Frank Gehry wees. Wat met so ‘n ontwerp vorendag kom.  Dis bietjie uit die pad. Dis nie jou gewone toeriste-stad nie. Juis. Jy moet bietjie meer moeite doen Bilbao te besoek.

Buite Bilbao is dit heuwelagtig en groen. Plek-plek lyk dit of die plattelandse geboutjies uit ‘n kunsfliek kom. Growwe klipmure, outydse rooi teëldakke wat afskilfer, elkeen met ‘n lappie groente.

‘n Groterige deel van die stad is maar roeterig vuil met verwaarloosde woonstelgeboue. Rondom die Guggenheim is dit skoon, mooi, modern en herinner aan Madrid. Die metro-stasie-ingange is glaswurms. Die blombeddings val ons dadelik op. En die elegante skoenwinkels. Met beide besoeke vier jaar uitmekaar lyk dit of daar voortdurend verbouings en opgradering plaasvind.

Oorkant die stasie aan die anderkant van die rivier is Casco Viejo (Ou Stad). Dis ‘n mengelmoes van boheemse winkels, likwidasie-plakkate op vensters, mense wat nie by die hoofstroom kan of wil inskakel nie, en plekkies wat leerbaadjies verkoop met langsaan ‘n winkel wat in ou-tannie-klere spesialiseer. Daar’s ‘n haarsalon wat lyk of hul heeltyd party hou en net soms hare knip of kleur. Daar’s meer materiaalwinkels as in ons tekstielbedryf, of so voel dit.

Soos ons stap, is die Spanjaarde verskriklik vriendelik. Op ‘n spontane, plattelandse manier. Almal is ingenome met toeriste in Bilbao. Een vrou soengroet ons op beide wange.

Baie mense praat Basque Euskara, ‘n onverstaanbare taal vir Suid-Afrikaners. Tapas word pintxos genoem. Sommige mense glo dat Basque van ‘n Afrika-taal afstam.

Eers sien jy die Hondjie (Puppy deur Jeff Koons). Eintlik ‘n funksionele tuin in die vorm van ‘n flap-oor babahondjie. As jy naby staan, hoor jy besproeiing binne-in. Jy weet nie of jy eers die Hondjie (deur Hugo Boss geborg) moet bekyk of jou vergaap aan die gebou nie. Later gaan jy die reuse langbeenspinnekop sien. En die weerkaatsing van die Guggenheim in die rivier.

Guggenheim Bilbao oortref alle foto’s wat jy vooraf gesien het. As jy gelukkig genoeg is dat die son effens agter die wolke is as jy fotograaf speel, reflekteer dit nie so erg nie. Woorde sukkel ook om die ware beeld deur te gee. Selfs foto’s vang dit nie heeltemal vas nie. Dis ongetwyfeld ‘n ongeëwenaarde ontwerp. Dit bestaan uit talle oneweredige vlakke van silwer titanium, amper soos ‘n outydse skip met seile.

Binne wissel uitstallings gereeld. Dis meestal modern, soms abstrak. Of speels soos 150 Multi-Coloured Marilyn Monroe en 37 White Mona Lisa’s, beide deur Andy Warhol. Soms grens dit aan die absurde soos ‘n allemintige kurktrekker wat na ‘n boot lyk of ‘n doolhof wat jy giggelend agterkom op niks uitloop nie. Asof gesnoer tot stilswye lap niemand iets uit aan die volgende besoekers nie. En wag by die eindpunt vir hul reaksie as hul uitpeul.

Daar is die hoog aangeskrewe Bilbao Guggenheim Restaurant, ‘n kafeteria en museumwinkel. In die somer kan jy langs die rivier onder sambrele sit. Hopelik val die lig net mooi reg sodat jy agter jou die ware Jakob het en voor jou die bewerige silwer weerkaatsing.

Die uitsig oor die rivier van agter die Guggenheim

By Spaanse museumwinkels moet jy nie sommer verbyloop nie. Daar’s die gewone – plakkate (met kunstige ontwerpe), notaboekies, almanakke en ‘n reuse versameling boeke. Daar’s vervelige goed soos sambrele, T-hemde en serpe. Dan’s daar versamelaarsitems soos Peggy Guggenheim-sonbrille, Bauhaus-koffiestelle en ongewone blomvase met kurwes wat blondines nie het nie.

Ons sluit die dag by Bar Rioja in Casco Viejo af. Dit klink verskriklik jolig met stemme wat beurtelings huil en sing. Ons bestel huisplonk en beskou gemoedelike Spanjaarde se manewales. Toe my reismaat opmerk dat een van die mans na ‘n ouer weergawe van Antonio Banderas lyk, dreig hy om homself te ontbloot – omdat hy Spááns is, nie Amerikaans soos Banderas nie. Gmfff.

Op ons laaste aand kom ons tot die gevolgtrekking dat die Spanjaarde van partytjies hou, en erg patrioties is. O ja, en hulle dra die mooiste skoene!

DAGEKSPEDISIE NA SAN SEBASTIAN
San Sebastián is een uur per bus uit Bilbao. Die eerste deel is erg industrieel en maar armoedig; dan heuwels op heuwels. San Sebastian is ‘n vakansiestad vir rykes met verkeersboetes wat daarby pas (vra maar vir vriend André…). Daar is twee beskutte baaie – een herinner aan Knysna. Aan een kant van die halfmaanbaai is duur hotelle, villas en internasionale ontwerperswinkels; skuins bokant is die ouer deel.
 

 

SO AMPER WAS DIE BILBAO GUGGENHEIM NIE DAAR NIE
 
Net voor die offisiële opening het drie mans hulself vermom as tuiniers. Hulle sou kwansius aan Jeff Koons se Puppy werk, maar in hul blompotte was 12 handgranate versteek. Twee Spaanse polisiemanne het snuf in die neus gekry; een is in die aanval geskiet en het gesterf. Daar is vermoed dat die separatiste-groep ETA verantwoordelik was.
‘N LYS VAN GUGGENHEIMS
·        Venesië
·        Las Vegas
·        Dubai
·        New York
·        Mexiko
·        Lituanië
·        Berlyn
Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on March 24, 2017 by in Internasionale reis – Afrikaans and tagged .
%d bloggers like this: