ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

Vier Holi by Taj Mahal

Originally published in Rapport, June 2011.

Sommige moet-sien-ervarings is soms uiters teleurstellend. ‘n Groot bohaai oor niks.

Dit was egter allesbehalwe die geval met die Taj Mahal. Dis so imposant soos Tafelberg. Dis witter as Pamukkale in Turkye, Soos die Eiffel-toring Frankryk is, is die Taj Mahal Indië. Bygevoeg, Indië het so baie fasette dat ‘n reisiger vir maande aaneen op nuwe ervaringe kan gedy. Die Taj Mahal is indrukwekkend. En bittermooi. Eintlik beeldskoon.

Doer sit ek ook op 'n bankie

Oor ‘n piesang-lassi by Joney’s Place in Agra praat die Swart-susters (ek en my suster, Esna Swart) oor daai eerste aansig van die Taj Mahal. Oor die tuine . Oor die refleksie in die langwerpige poele. Oor die aanloop en oor hoe die roomwit argitektoniese wonder voor ons verrys. Oor hoe baie Indiër-families dit as gewone uitstappie afmaak.

Mmmm, so ‘n lassi gaan goed af. Dis nou nie ‘n bhang lassi (‘n dagga-melkskommel) nie. Dít het ons nooit te siene, of te proe, gekry nie.

Trompetblaser op 'n klein tempeltjie waar ons verbyry

Ons bly in die luuksste – hierdie term word uiters relatief gebruik – kamer van ‘n rugsakreis-verblyfplek in die Tan Ganj, die ou deel van Agra. Dis skoon genoeg. Van die plat dak af kan jy ‘n Kingfisher bier drink – wat jy laer af in die straatjie moet gaan koop – terwyl jy duidelik die Taj Mahal ‘n paar blokke verder kan sien.

Met ons aankoms stel ons die lekkerte van die liefdestempel sien, uit. Dus loer ons eers van die dak af. Dan gaan stap ons rivierkant om. Maar eers gaan kyk ons na die baksteenkleur Agra Fort. Na Delhi Fort maak dit minder van ‘n indruk, maar ons kan wel sê dat ons dit ook gesien het. Dalk ietwat van ‘n foutjie. Dis die agterom stap. Die rivier is VUIL. Die oewers ook. Soos amper alles in Indië. Daai brosjure-foto’s is almal gedokter, glo my. Veral die foto’s waar die Taj Mahal se refleksie in die rivier afgeneem is. Lig jy egter jou oë, vergeet jy van dit agter, onder en rondom jou.

Die Taj Mahal se argitek het ook die asemsnak-oomblik van die gebou die eerste keer aanskou, uitgestel. Eers stap jy by ‘n groot oop binnehof met gras en ‘n paar bome in. Die geboue rondom verhoed jou om jou eerste blik van die Taj Mahal te kry. Stout ape ruk die ligte op die dak heen en weer en kyk uitdagend na onder. Van die eerste ingang waar jy toegang betaal, gaan jy deur nog twee ingange – die laaste een is sagte roomwit en omring die Taj Mahal. Almal vergaap hul en dink eers later daaraan om foto’s te neem. Voor jou lê ‘n aantal langwerpige poele met tuinpaadjies weerskante, daar’s ‘n marmerpodium met Prinses Diana se bankie (of altans dis waarmee mens dit onmiddellik vereenselwig), gesnoeide boompies en natuurlik baie toeriste.

Ons stap om en om. Maer mans met lang grys baarde sit kruisbeen en kyk; hul jasrokke netjies onder hul knieë ingevou. Die vroue het hul beste sari’s aan – die gekleurde steentjies en gouddraad skitter in die son.

Die koepel is massief, die mure so glad jy kan nie die versoeking weerstaan om jou hand daaroor te laat gly nie. Die binnekant is amper teleurstellend, want dis klein en minder gedetailleerd as wat ons vooraf in ons geestesoog gesien het. Tog is die eenvoudige binnekant sag op die oog en die gemoed.

Dis laatmiddag en ons sien die son sak. Wat ‘n aangesig! Ook maar goed so, want die volgende oggend is dit te mistig om die Taj Mahal met sonsopkoms te sien.

Die Tal Mahal is ongetwyfeld een van die wêreld se mees indrukwekkende geboue. Sela.

Elke hanteerder was sy eie olifant

Die Swart-susters KAN beplan. Ons kom ‘n dag voor Holi in Agra aan, en bly tot daarna. Oorgehaal om die kleurpoeierfees in die ou dorpie te beleef. Trek iets ouds aan, los jou kamera by jou blyplek en verlustig jou in die atmosfeer. Dis verf, poeier, ‘n gestoeiery, uitgelate gille en pienk, geel, smaraggroen en pers wat op jou neerreën. Of wat deur vrypostige jongmense in jou hare gevryf word.

Harde musiek blêr vanuit die meeste huise en eetplekkies. Jong kinders vul ballonne met water of skiet met waterpistole. Honde en bokke loop rond met blertse pienk of geel. Ons sien net een heilige koei wat dit ook ontgeld het.

Agra bestaan op ‘n manier uit drie dele – die moderne dorp, die ietwat vervalle ou dorp en ‘n groot militêre basis. Riksjas wag op elke hoek en neem jou vir ‘n paar roepees van die een na die ander. Daar is ou platdakgeboutjies te sien, maar ook pragtige koloniale geboue.

Geen passasiers hierdie tyd van die dag

Die Sheraton-hotel is die toppunt van luuksheid en hul boetiekwinkel is verbasend bekostigbaar. Ons stap uit met ru-sy klere en handgeverfde olifant-etse.

Agra laat ‘n mens so bietjie aan ‘n Indiese gereg dink – ‘n bietjie komyn, ‘n paar kardamomsade, ‘n knypie borrie bygeroer en alles stadig geprut. Net so het Agra ‘n bietjie oud, ‘n bietjie nuut, ‘n riksja-omie wat tandeloos ‘n restaurant aanbeveel, ‘n straatkind wat bedel – ‘n bietjie soet met ‘n branderige nasmaak.

Geskiedenis van Holi: Holi is ‘n Indiese fees wat van eeue gelede dateer en wat in meer as een religieuse geskrif beskryf word.

Die betekenis van die fees het oor die jare verander – destyds was dit ‘n ritueel wat deur getroude vroue uitgevoer is om die geluk en voorspoed van hul families te verseker asook om die maan te aanbid. Deesdae word dit as ‘n fees gesien wat die begin van lente vier. Daar’s ‘n speelsheid en ‘n soeke na geluk in die dag se vieringe. Die aand vooraf word vure aangesteek en offerandes neergelê. En genoeg kleurpoeier gekoop vir al die kaskenades wat met Holi gepaard gaan.

Van Delhi na Agra: Van New Delhi-stasie, nie Old Delhi. Maak seker jou taxi-bestuurder verstaan anders gee dit dalk ‘n dolle gejaag om 5h15 in die oggend af.

Baksheesh portiers is byderhand om jou bagasie op hul koppe te dra, desondanks hul seningrige kuite. Oral op die stasie slaap huislose families. In sekondes spring hul op en laat spat as die polisie patrolleer.

Met die Shabtada Express kry jy twee ligte etes, koffie of tee en mineraalwater by die spotgoedkoop prys ingesluit.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on March 29, 2017 by in Internasionale reis – Afrikaans and tagged .
%d bloggers like this: