ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

BUENOS AIRES IS DIE PARYS VAN SUID-AMERIKA

First published in Rapport, August 2011

Meesleurende tango-musiek volg jou soos wat jy geld uitgee. Op so baie wat jy net móét hê. Of wat jy nie weer teen hierdie pryse gaan kry nie. Dis een van die kenmerke van Buenos Aires. Die ander kenmerk is die tango-musiek wat in eetplekke gehoor word; die straatmusikante wat tango-musiek speel en daar’s tango-paartjies wat sommer op straathoeke en in wandelhalle optree. Gaan ten minste een aand na ‘n tango-vertoning wat gewoonlik ‘n ete insluit en as die gogga jou byt, kan jy tango-lesse neem.

Recoleta is soos 'n kunsgalery

Buenos Aires is ‘n vroue-stad, eerder as ‘n destinasie waar mans baie vind om te doen. Dis nou behalwe as hulle vir Suid-Amerikaanse biefstuk en robuuste rooiwyne wil saampiekel; dán sal hulle nie teleurgesteld wees nie. Dit beteken dalk net dat hul bedags sal moet saamdrentel. En hul beursies moet saamneem. Want Argentinië is nie meer so goedkoop as wat dit ‘n paar jaar terug was nie.

Buenos Aires vrá om verken te word. Dis ‘n ongelooflike groot stad, en elke buurt bied iets anders. Baie van die geboue het aandag nodig; baie ander is liefdevol gerestoureer; en selfs die verwaarloosde argitektuur het ‘n bekoring van hul eie. ‘n Ou teater wat in ‘n boekwinkel, El Ateneo, omskep is, is asemsnak-mooi en getuig van wat met ou geboue gedoen kan word.

Die meeste toeriste begin by Calle Florida. Sodat hulle ‘n gevoel van die stad kan kry. Florida gee ‘n voorsmakie van die res van Buenos Aires. Galeria Pacifico is ‘n boetiekwinkelsentrum, nie net ‘n samevoeging van ‘n klomp winkels nie. Dit lyk of die winkels meeding – die een met die mooiste interior van almal het  turkooisgrys mure, donkerhoutkaste en tromp de l’oeil kersiebloeisels.

Tango Graffiti

Die res van Florida is ‘n stylvolle mengelmoes van kettingwinkels (ook die Spaanse Zara), skoene vir fetisjiste, hordes leerbaadjies – eintlik enigiets waaraan jy kan dink. As jy Florida beproef het, of selfs nog voor jy Florida betree, kan jy ook eerder met die ellelange Santa Fe op stap. Hier is minder toeriste en dus beter pryse. As jy afdraai in Honduras,  vind jy nuwe inspirasie vir jou klerekas, jou styl, jou huis. Vandaar is dit net ‘n straatblok of twee tot in Palermo Viejo en dis waar die Argentynse juppies uithang.

Die Argentynse hoofstad is deurspek met koffiewinkels uit vergange se dae. Skuins oorkant Recoleta Begraafplaas is La Biela waar nie net gryskop-ooms en –tannies bymekaarkom nie, maar wat uit lank terug dateer. So ook die meeste van die ander elegante koffiedrinkplekke. By koffie hoef dit ook nie te bly nie – orals word glasies vonkelwyn of plaaslike wyn ook bedien. Wees versigtig langs wie jy by La Biela gaan sit – by ‘n paar tafeltjies is lewensgrootte poppe van bekendes wat lank terug hier uitgehang het. Die kelners giggel tog te lekker as jy oorleun om te vra of jy daar mag sit.

Behalwe speel, moet jy darem van die besienswaardighede ook besoek. Evita se praalgraf is maar net een van die grafte met standbeelde wat soos kunswerke lyk, wat in Recoleta Begraafplaas te sien is. Evita het vanaf Casa Rosada oor Plaza Mayo uitgekyk toe sy haar beroemdste toespraak gemaak het. Langs beide Plaza Mayo en Recoleta is ‘n katedraal waarby jy maar kan instap.

Sondae is daar net een plek om te wees – by die San Pedro antiekmark in San Telmo. As jy eers daar is, sal jou voete jou vanself lei van Plaza Dorrego waar die mark gehou word, na die omringende restaurantjies en winkels. By La Botica de Vicky in die Ezeiza Galeria is daar ou aandhandskoene en jou ouma se hoede; by La Vieja eet die ou inwoners van San Telmo; by Plaza Dorrego Bar kry jy rou grondboontjies saam met jou bier; by Le Balcon kan jy oor die geroesemoes uitkyk; en by Bar Sur sit omtrent net toeriste aan.

Buenos Aires is stapvriendelik en daarby is die huurmotors lekker goedkoop sodat jy maklik een kan naderwink as jy na ‘n buurt aan die oorkant van die stad wil gaan of as jou inkopies te swaar of te veel raak. Sommige speel tango-musiek in hul motors en glimlag van oor tot oor as hul sien jy waardeer dit.

Ook maar goed die stad leen haarself tot stap, want orals is daar restaurante om jou te verlei. Cabaña las Lilas is die beste plek aan Puerta Madero (hul Waterfront); Piso 20 het ‘n wonderlike uitsig oor die stadsliggies; Campo dei Fiori is gewild onder die plaaslike Italianers; by Cipriana is die ontvangs so gul dat jy voel of jy almal ken en boonop is daar ‘n turksvy-voorgereg op die spyskaart; by Central sukkel jy om te kies tussen haascanneloni of gestopte kwartel.

Behalwe al die prettige winkels en kosmopolitaanse restaurante  lewer die stad allerlei ander juweeltjies op – ‘n lemmetjiegroen haarsalon genaamd Cool Cuts; die geurigste chimichurri-sous by ‘n hoekkafeetjie; ‘n deli genaamd Taura  waar dit lyk of die kliniese dekor deur ‘n hospitaal geïnspireer is; groot melkbekers – wat soos pikkewyne lyk – by Calma Chicha; ‘n botaniese tuin waar katte letterlik orals dut; en Jardin Japones, ‘n Japanese tuin met ‘n sushi-kroegie en ‘n tradisionele teehuis.

'n Blaaskansie tussen die tango-passies deur

As jy jouself wil bederf, is high tea by Alvear Palace die aangewese manier om die middag te verwyl. Enigiets – van mengeldrankies by die swembad, ‘n konjak in die leeskamer, of ‘n uitmuntende maaltyd in een van die twee restaurante – by Faena Hotel and Universe is iets waarmee jy nog lank sal spog as jy by die huis vir almal vertel waar jy oral was.

Die Argentyne reik uit na jou voor jy nog daaraan kan dink om hul beter te leer ken. By Cipriana verskyn ‘n bottel gehoute chardonnay onverwags op my tafel na ek aan die eienares ‘n artikel oor haar restaurant wat in ‘n Midde-Oosterse koerant gepubliseer is, gewys het. Op ‘n straathoekie kom ‘n ou omie in sy oorpak nader toe hy sien dat ek nie kop of stert van my opgefrommelde kaart kan uitmaak nie. Hy dring daarop aan om saam met my te stap – hy draf eers weg om sy werksak te gaan haal – en al geselsend neem hy na waar ek wou wees. Dis toe nie heeltemal die regte straat nie, maar sy bereidwilligheid is al wat tel en ek kry ‘n knop in my keel toe hy my op die wang soengroet voor hy verder gaan. ‘n Ander keer is ons deur La Boca, die ou Italiaanse woonbuurt, deur ‘n sokkie-verkoper na ‘n eetplek aan die buitewyke daarvan begelei.

Alle paaie lei na Plaza Dorrego Bar of dit nou Sondag is of nie. Daarbinne is dit rokerig en neutdoppe bedek die vloer, maar dis asof dit so moet wees en die geroesemoes van Argentynse stemme klink passievol oor hul land, die politiek en natuurlik oor sokker. Buite op die plein word sangria gedrink; daar speel musiek en die inwoners van San Telmo kuier van tafeltjie na tafeltjie. Dis g’n wonder ons het amper die meeste aande hier ‘n draai gaan maak voor ons gaan inkruip het nie. Viva la vida  in Buenos Aires.

 

El Ateneo, Avenida Sante Fe 1860 – een van die 10 beste boekwinkels in die wêreld
Calle Florida – stylvolle koffiedrinkplekke sluit in Café Richmond en Florida Cafe
Zara-klerewinkels – kyk vooraf by www.zara.com en begin dienooreenkomstig spaar
Recoleta Begraafplaas – draai links as jy uitstap en gaan kyk die serene wit en goue binnekant van Basilica Nuestra Senora del Pilar net langsaan
Casa Rosada – slegs ‘n gedeelte van Casa Rosada kan besoek word; dit sluit ‘n klein museumpie op die grondvloer in waar meer oor Argentinië, hul oud-presidente en die gebou self geleer kan word
Plaza Mayo – op Donderdae is daar steeds ‘n demonstrasie van die ‘madres’, die moeders van seuns wat onder ‘n vorige bewind tydens 1976-1983 verdwyn het en van wie die regering nooit rekenskap gegee het nie.  
La Vieja Restaurant – volgens die New York Times is die biefstukke so groot dat hulle stilweg bid dat die sjef nie een op sy voet moet laat val nie
Bar Plaza Dorrego – dateer uit 1881. Die kelners dra steeds manelpakke, maar jy kan jou naam in die houtpanele uitkerf om te wys jy was daar. Dit was Carlos Gardel, die tango-koning, se uithangplek
El Balcon – Skakel 00 54 11 4362 2354 om vooraf te bespreek
Bar Sur – wees gewaarsku: as ‘n Tango Danza vertoning aan die gang is, word jy sommer maklik nadergetrek om saam te dans
Cabaña las Lilas – begin die aand met ‘n vonkelwyn-skemerkelkie met perskepulp
Piso 20 – kry ‘n voorsmakie van wat om te verwag by www.youtube.com/watch?v=2nQbJjRxK8
Campo dei Fiori  – hierdie Italiaanse restaurant spog met 25 verskillende soorte vars pastas sowel as palmharte as voorgereg
Chimichurri – volg die resep op www.asadoargentina.com/chimichurri-recipe/  om jou eie chimichurri te maak
Calma Chicha –  hierdie winkel het ook baie ongewone en praktiese leerartikels byvoorbeeld koeileer-lappieskomberse asook plekmatjies en posmansakke van Argentynse leer
Jardin Japones – voer karpe wat uit jou hand kom eet of eet tradisioneel Japanees hier
Faena Hotel and Universe – die hoofrestaurant is El Mercado en dis ‘n elegante weergawe van El Obrero in La Boca; dan is daar ook El Bistro wat met sy ongewone dekor jou as’t ware nooi om te kom aansit

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on March 31, 2017 by in Internasionale reis – Afrikaans and tagged .
%d bloggers like this: