ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

SO ‘N PARMANTIGE PIESANG!

First published in Die Burger, April 2012

Gekultiveerde koraal. Blinkblou, gepoleerde perlemoenskulp. Houtkrale. Gewone goiingsak. Selfs rubber.

Mijou Beller ontwerp en maak al die onweerstaanbare juweliersware in haar winkel in Houtbaai self. Die einste winkel wat die afgelope tyd in die nuus was. Plaaslik en internasionaal. Hier en daar het dit gegons oor wat haar oorgekom het. Dalk pasella publisiteit, maar dis glad nie ‘n aangename affêre nie. En dis nog nie alles oor nie.

Eendag was daar ‘n soet piesang

Twaalf jaar gelede het Dolce & Banana (hierdie Engelse piesang spreek jy met ‘n Italiaanse aksent uit sodat die woord so ‘n op-en-af ritme van sy eie het) se deure oopgemaak. Vir ses jaar is hier ontwerp, verkoop, gegroei en vir die eens Franse eienares was haar werk haar passie en plesier. Na ‘n halfdosyn jaar van besigheid doen, lewer die posman ‘n brief af. Nogal van Dolce & Gabbana, ontwerpers waarvoor sy groot respek het. Daar word daarop aangedring dat sy haar naam verander.

Mijou Beller bly glimlag deur die hele petalje

Die naam het gebly en tot en met 2011 was dit so half vergete. Toe verskyn daar nog ‘n brief waarvan die inhoud amper heeltemal dieselfde is as die vorige brief wat Mijou jare gelede ontvang het. Om ‘n lang storie kort te maak, is daar besluit om maar naam te verander, want dit gaan nie so maklik wees om hierdie saak te wen nie. Of dit nou sin maak, aldan nie.

‘n Groot bohaai

Maar nog is het einde niet. Nou eis Dolce & Gabbana die helfte van hul (duur) regskoste. Vir ‘n klein besigheidjie in die Republiek van Houtbaai kan dit moontlik hul einde beteken. Wêreldwyd is hieroor berig. Selfs die Britse Vogue (waarin Dolce & Gabbana gereeld advertensies plaas) het genoem dat Mijou vir Stefano Dolce getwiet het dat sy sy sin vir humor in sy ontwerpe bewonder. Sy het egter geen antwoord gekry nie; al volg hy haar op Twitter. Tot in New York en Indië is hieroor geskinder.

Dis sommer ‘n tros piesangs

Mijou haal haar skouers op. Dis wel ongedane sake. Op haar blog merk sy skalks op dat sy nog altyd gehoop het dat Vogue oor haar juweliersware sal skryf. Nou het hulle darem al oor haar geskryf! Wie weet waaroor hul volgende skryf?

Die tyd sal leer – soos ons oumas baie keer gesê het as daar nie ‘n ander antwoord was nie – wat sal gebeur.

Aardse, bonkige en kleurvolle kostuumjuwele

Intussen stuit niks Mijou se kreatiwiteit nie. Alles om haar inspireer haar. Sy was nog altyd geïnteresseerd in mode en dit wat sy weet, het sy haarself geleer. Haar gunsteling edelsteen? Eerder nie – sy werk die graagste met koraal. Sy gebruik baie perlemoenskulp, sê sy met ‘n glimlag. Eintlik enigiets wat uit die see kom. Selfs dryfhout. Alles wat aards is. Sy hoop haar kostuumjuwele is bonkig elegant, nie bloot blieng nie.

Sy en haar permanente span van drie jong vrouens uit Imizamo Yethu doen alles self. Behalwe ontwerpe uitdink, word hier naaldwerk gedoen, krale gekleur en alles aanmekaar gesit. Hul idees verander die heeltyd. Soms is daar drie nuwe idees op een dag; ander kere werk hulle vir twee weke aan dieselfde idee.

Behalwe by haar eie winkel, verkoop Mijou ook aan ander winkels sowel as aanlyn. Met ‘n groot bestelling word die familielede van haar permanente span se hulp ingeroep wat natuurlik tot verdere werkskepping lei.

 Trots Suid-Afrikaans

Die eens Franse Mijou woon al dertig jaar lank in Suid-Afrika. Dis nou haar land; al verraai haar sagte aksent dalk iets anders.

Waarom Houtbaai? Haar gesig verhelder. Want dis so pragtig! En sy kyk my ietwat verbaas aan asof sy wil vra of ek dit dan nie self raakgesien het nie. Ook is hier ‘n dorpsgevoel, gaan sy voort, maar dis tog na genoeg aan die stad. Sy’s ‘ontstam’ voeg sy by; na ‘n maand in Frankryk wil sy huis toe kom. Sy was vyf jaar laas in Cannes waar sy vandaan kom – sy is net eenvoudig te besig, vertel sy.

Sy raak amper liries. Suid-Afrika is so ‘n wonderlik interessante plek om in te woon; hier’s so baie kleur oral om ons; en Suid-Afrikaners se kreatiwiteit ken amper geen gelyke nie. Dit voel vir haar of daar in Frankryk nog dieselfde idees gebruik word as wat sy dertig jaar gelede daar gesien het. Sy vermoed dis deels te danke aan ons reënboognasie. Stilweg klop ek ons Suid-Afrikaners spreekwoordelik op die skouer.

Terwyl ons in ‘n flouerige sonnetjie by ‘n tafel op die sypaadjie gesels, kom gesels ‘n verbyganger met Mijou oor die “bisar” saak teen haar. Jinne, daai Italianers weet seker nie eers waar Houtbaai is nie, word daar gesimpatiseer en moed ingepraat. Met die wegstap vertel Mijou dat die Houtbaai-gemeenskap haar verskriklik ondersteun. Nie net deur self van haar juweliersware aan te skaf nie, maar die gastehuise stuur hul kliënte en baie Houtbaaiers draf gou in om ‘n geskenkie te koop. In die somer trap die toeriste haar drumpel deur.

Etnies boheems

Mijou en haar Duitse man,Ralf, het vir dertien jaar ‘n restaurant bedryf. Altwee is eintlik kreatiewe siele en die restaurantwese gaan hulle nie weer sien nie. Ralf skep oorwegend strandhuisdekor uit ou houtvate en gedroogde palmtakke. Soms word skulpe ook gebruik. Ethno Bongo se skeppings word ook hier op dieselfde perseel in die hoofstraat van Houtbaai verkoop en verskaf ook werk aan drie plaaslike mense. Langwerpige magnetiese foto-borde en kershouers is baie gewild. Dramatiese kandelare en lampkappe uit hout en skulp is enig in hul soort.

Een van Ethno Bongo se ontwerpe

Dit lyk geensins of die hele petalje enigsins vir Mijou haar joie de vivre laat verloor het nie. Steeds tong in die kies is haar winkel se naam nou “ … & Banana” en sy sê ongeërg met ‘n stout glimlag dat Dolce & Gabbana geen monopolie op piesangs het; altans nie sover sy weet nie.

Lees oor Mijou se manewales:

 Kyk na Banana se ontwerpe by, maar wees gewaarsku dat die webtuiste se naam ook sal moet verander: dolceandbanana.com

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on September 21, 2017 by in Iemand wat my fassineer and tagged .
%d bloggers like this: