ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

OP ‘N PELGRIMSROETE IN SAOEDI-ARABIË

First published in Die Burger, November 2015

“To live in one land, is captivity,

To run all countries,

a wild roguery.”    John Donne

Kamele poseer vir foto's

 Gruiswoestyn, Bedoeïne – regtes met kombuisvadoeke as hooftooisels en lang, wit rokke – tuitlipkamele, Lourens van Arabië se mitiese spoorlyn, en dan Madein Saala. In die Koran word Madein Saala ook genoem; dit het bekend gestaan as al-Hijr en dit dien as voorbeeld wat met ‘n afvallige volk kan gebeur.

Sit jou lapdoek op jou kop

Jy kan net Madein Saala sien as jy Saoedi-Arabië kan binnekom. Jy kan net Saoedi-Arabië binnekom as jy daar gaan werk (behalwe as jy as Moslem Mekka besoek).

Jy wil, glo my, in elk geval nie regtig soontoe reis nie, newwermaaind daar gaan werk. Maar soms land jy daar op en dan is dit ‘n enorme katarsistiese avontuur. Dít dalk ‘n storie vir ‘n ander dag, of ‘n ander leesblad, een oor lewensreise en introspeksie en swaarkry op ander maniere.

Lewenslesse leer is een ding, reiservaring ‘n ander. Laasgenoemde makliker, beide laat ‘n sekere tipe mens tiek. Madein Saala is een van daai plekke waar leunstoelreis die ding sal moet doen behalwe as jy op een van daai sesmaandelikse advertensies in veral Die Burger reageer…

Petra se kleinboet

Madein Saala is die kleinboetie van die onbeskryflike Petra in Jordanië. En dit is nou ‘n plek om oor liries te raak. ‘n Tweedagpas is nie genoeg nie.

Daarenteen is ‘n paar uur by Madein Saala voldoende alhoewel die omgewing nog talle ander erg moeite-werd plekke bied om te besoek.

Daar is Al-Oela se verlate modderdorpie waar ek in een van die gehuggies ‘n sanderige teepot sonder deksel opgetel het en wat nou op my kombuiskas staan. Daar is dele van die Hejaz-spoorlyn wat dateer uit die dae van Lourens van Arabië.

Rondom Al-Oela is koppies wat jy binne ‘n paar uur soos ‘n boerbok kan uitklim. Bo-op sien jy kliphoop-grafte van eeue gelede, volgens ons Franse gids, en dan dwaal jou oog na die woestyn-gesigseinder. Of jy kan in ‘n canyon in die hittige son afstap en Bybelse plekke van offerande ontdek.

Terug by Madein Saala, want dit was die eintlike rede hoekom ons die naweektog van Taboek aangepak het.

Hoekom juis daarnatoe? Of dit nou as die nommer een besienswaardigheid (bron: Off-Road in the Hejaz – Patrick Pierard & Patrick Legros) of die mees beroemde argeologiese attraksie (volgens die Lonely Planet) beskryf word, die feit bly staan: dit is ‘n unieke ervaring wat deur min beleef word.

Madein Saala was bekend as Al-Hijr in die dae toe dit ‘n stokou halfwegstasie was op die oeroue handelsroete van ‘n hoogs suksesvolle kommersiële ryk wat van Alexandrië in Egipte tot by Aleppo in Sirië gestrek het.

Die ongelooflike graftombes is tussen 100 v.C. – 100 n.C. uit klip gekap. Die enigste beskawing wat destyds meer invloedryk was as dié van die Nabateaanse ryk was dié van Petra. Tussen hierdie twee beskawings het die reisigers op die Frankinsens Handelsroete beweeg; in later jare het die pelgrims van Damaskus oppad na Mekka en Medina dieselfde roete gevolg.

Hiert, jou kameel se kind

Kamele het swaar gedra aan lapis lazuli van Afghanistan, Indiese speserye, goud, en hars van Hadramoet-struike. Soveel as 700 kg frankinsens is op een dag tydens sekere Egiptiese feeste gebruik.

Die Nabateaanse volk was Semities en het ryk geword deur ‘n tipe tolgeld van die kameelkaravane te hef. Bedoeïne het gou besef dat 25% tolgeld van elke karavaan meer winsgewend is as die plunder van die eerste en dalk die tweede karavaan.Na die Romeine ‘n see-handelsroete gevestig het, het hulle fonteintjie opgedroog en teen 106 n.C. was Madein Saala verlate.

Eensame woestynpad

Madein Saala lê sowat 300 kilometer noord van Medina op ‘n windgeteisterde vlakte in die noordweste van die land. Besoeke aan Mekka en Medina is slegs vir Moslems beskore, maar gelukkig lê Madein Saala net-net buite die grense van hierdie provinsie.

Die eerste Westerling om Madein Saala, ongetwyfeld sprakeloos soos ons, te aanskou, was Charles Doughty en dit was in die 1880’s (sommige bronne gee die datum as 1876 aan) toe hy die pelgrimsroete op die hakke van ‘n Damaskus-karavaan gevolg het.

So beïndruk was hy met wat hy gesien het, dat hy drie maande lank die geskrifte neergeskryf en die argitektoniese style geskets het. (Lees meer daarvan in sy boek “Travels in Arabia Deserta”:  gedruk in 1888, tans uit druk).

Bokvleishappies op die sandpad

Dit was natuurlik lank voor deesdae se bokvleisburgers as wegneem-etes, maar hieraan het ons gou gewoond geraak.

Stel jou nou die volgende voor: vyf Suid-Afrikaners klouter in ‘n Land Cruiser om die tog van Taboek na Madein Saala aan te pak. Bietjie skrikkerig (oukei, die macho nommers in die groep ontken dit) om die onbekende woestynpad aan te durf, maar andersins reg vir avontuur en boere-(en boerin)bloed skrik nie sommer vir koue pampoen nie.

Ons neus wys suid. Altans ek dink dit was suid. Ondertoe.

Oupa

By die eerste petrolstasie (sowat twee rand per liter) vra hulle of ons Russies is.

Wat?

Nee, ons het dan nie eens snorre nie.

Turks dalk?

Sover dit my aangaan, kan dit dalk die abaya-kamoeflering – ene vlermuis lyk ek – wees.

Janoub Afrique?!

 Kan nie wees nie. Is, is regtig.

Die volgende vraag vang ons onkant: Is ons dan nie bang om so deur hulle

land te ry nie? Hmmm.

Gegewe dat Saoedi’s “teoreties” aan die regterkant van die pad ry(volgens Lonely Planet se webwerf), is dit dalk net nog ‘n rede om in ons pasoppens te wees.

Koes links, koes regs

Ver van die huis

Ons ry deur die Groot Niks. Nog groot niks. Hier en daar baie stowwerige gehuggies. Langhaarbokke. Kamele.

Waarheen Gehasi

En dan, pasop, hier kom ‘n ou van voor aan die regterkant van die pad. Telkemale. Sjoe, ons/hy het hom/ons gemis. Verder is ons ook nog bedag op Saoedi-padgebruike soos om skielik links uit die baan heel regs te draai .

Hier en daar sien ons ‘n omheinde naweekpaleis van een van die paar duisend prinse. In stille kontras daarmee bokwagters op donkies of kamele. Een selfs met ‘n hond wat haram (verbode) is.

Ons ry Al-Oela binne. ‘n Mooi dorpie en dit sien ons nie meer noord waar ons bly nie.

Moskee in Al-Ula

Al-Oela, ‘n oase-dorp, lê in ‘n kom van klipperige heuwels. Dis ongewoon groen, dis skoon gemeet aan Midde-Oosterse standaarde en die oorspronklike modderdorpie lê nog in die middel. ‘n Spierwit moskee spog met ‘n Karoo-agtige kerktoring wat van oral sigbaar is. Die dorpsinwoners kom ook minder kil oor as dié van Taboek.

Ons boek in by Madain Saleh Hotel and Resort, eintlik maar die enigste opsie vir internasionale werkers in die koninkryk wat Madein Saala kom besoek. Ons kan kies tussen ‘n hotelkamer of ‘n Bedoeïn-tent wat eintlik maar ‘n rondawel is wat ingerig is om die idee van Bedoeïn-verblyf te gee. Ons vat ‘n blaaskansie van sanderig kamp, ‘n Saoedi-tydverdryf.

‘n Franse aksent in die woestyn

 Douvoordag ontmoet ons ons gids, ‘n Fransman, wat hier woon, ‘n boek oor die area geskryf, en wat dit sy lewenstaak gemaak het om eerstens soveel as moontlik van die omgewing uit te vind en tweedens om soveel moontlik mense daaraan bekend te stel. Sy passie en entoesiasme ken geen einde nie.

Bergklim is ons voorland. Hyg hyg. Dis 350 meter óp.

Ek weet nie van ‘n ander Afrikaanse woord wat asemrowend kan vervang om die uitsig te beskryf nie. Uitsig na voor, uitsig na agter, uitsig van nog 100 meter hoër. Rotsformasies wat soos gesmelte versiersuiker lyk.

Groen, want Al-Oela is ‘n oase-dorpie soos ook die meeste ander dorpies, en dan sand, nog sand, woestyn. Palmbome. Verskeie wit moskee-minarette. Plat wit geboue. Moddergehuggies met platgevalle dakke en sonverweerde vensterrame omring deur nuwer, eenvoudige geboutjies.

Al-Oela van bo lyk toe soos ek ‘n woestyndorpie in my verbeelding voorgestel het voor ek Midde-Ooste toe gekom het.

Heelbo is Turkse forte wat die Hejaz-spoorlyn bewaak het. ‘n Paar meter verder netjiese, maar effens oneweredige kliphope (grafte, sê Patrick). Selfs van onder in die vallei tel jou oog die simmetrie van kliphope op die rant op. Van 5000 jaar gelede, sê Patrick.

Ek sukkel om my kop rondom dit te kry.Ek bespeur meer as ‘n tikkie twyfel by myself, nie in Patrick se legio interessante feite nie, maar in hierdie konsep van tyd en die bepaling daarvan.

Skeptisisme aldan nie, ek het myself telkemale betrap dat die geykte uitdrukking ‘wieg van die mensdom’ by my opkom. By klip – en grotgrafte, by rotstekeninge van “driebeen” manlike figuurtjies soos Patrick die 10 000 jaar oue tekeninge met ‘n vonkel in die oog beskryf. Volgens Patrick word hierdie deel van die woestyn ononderbroke bewoon van 10 000 jaar gelede regdeur die Bybelse tyd tot nou. Sjoe.

Wat op moet weer af

Af is die stap makliker en vinniger as op. Nog driebeen-mannetjies (hoe anders teken jy tog dan nou seuntjies en dogtertjies, want die mense het mos nog nie klere gedra nie…) en rotsgeskrifte in drie verskillende alfabette. Die rotsboodskappe is deur drie verskillende groepe wat die Frankinsens Roete gedeel het, gelaat. Hulle het mekaar noodgedwonge verdra.

As jy tyd op hande het, loop jy keer op keer van hierdie rotsgeskrifte raak. Een soort lyk amper na ‘n tipe kursiewe styl; die tweede vertoon meer geometries. As jy in die dorpie rondloop, sien jy hier en daar ‘n klip met een van hierdie boodskappe wat as boublok in van die ongemesselde geboue gebruik is.

Visioene van ‘n koue bier in blinknat glase help ons niks, want dis ‘n droë land. Ai tog, ‘n sappie moet maar die ding doen. Andersins moet ‘n nie-alkoholiese suurlemoenbier die kopsmokkelwerk doen. Of ‘n Pepsi wat ons, gebreinspoel deur Arabies, met ‘n B wil spel soos wat my studente dit doen.

Op julle merke, gereed, weg. Nog om te sien, Patrick het nog om te wys en vertel, sy energie blyk nimmereindigend te wees. Dis tyd vir meer onlangse geskiedenis.

Soos in die Bybel

Dit voel amper soos die Bybel in prentjies. Eenvoudige grafte wat dateer van omtrent 100 v.C. tot 100 n.C. Grotkamers wat deur deuropeninge aangedui word. Sommige kamers met kliplyste waarin doodskiste sonder deksels uitgekap is. Gedagtes van Lasarus soos in die Sondagskool vertel.

In Bybelse tye is daar geglo dat ‘n versierde graftombe ‘n stabiele hiernamaals verseker. Sou die huidige Saoedi-spreekwoord dat ‘n vrou deur haar hele lewe niks behalwe ‘n sluier en ‘n graf besit nie, toe ook gegeld het?

Enkel-graftombe Madain Salah

In Madein Saala is daar omtrent 150 grafte, party met baie meer detail as ander asook een ultra-indrukwekkende alleenstaande graf, die Qsar Farid.

Onwillekeurig wonder mens hoe lank dit gevat het om dit letterlik uit te káp. Hoeveel mense sou daaraan gewerk het? Vir wie sou dit gewees het? Terwyl ons nog wonder, klim Patrick summier tot hoog teen die fasade op.

Oppad soontoe word ons ‘n put gewys waar Mohamed ‘n wonderwerk verrig het.

Die mutawwa (religieuse polisieman) by die skool waar ek klasgee, vertel in kleur en geur na ons besoek hoe ‘n wyfie-kameel genoeg melk verskaf het wat die put kon volmaak en wat die hele gemeenskap gevoed het. So ‘n broodjie-en-vyf-vissies storie op ‘n manier. Volgens oorlewering het die Tamoediese volk die kameel doodgemaak en, soos met Sodom en Gomorra, is hulle gestraf.

Hiert! Hier kom ‘n luukse sedan met twee bokke op die agtersitplek verby.

Steeds is daar nog om te sien. ‘n Gerestoureerde stasie met ‘n oorgedoende lokomotief wat uit die Eerste Wêreldoorlog dateer. Al die omringende geboue soos die werkswinkel is netjies en outentiek gerestoureer. Op die perron het ‘n foutjie ingesluip – die ligte lyk asof dit in ons Waterfront hoort. Of in ‘n Paryse systraatjie.

Die Diwan of begrafnis-restaurant

Die fassinerendste is die Diwan,‘n begrafnis-restaurant of vergaderplek waar daar party gehou en offerandes gemaak is. Dis ‘n groot grotkamer – waarvan die vierde muur heeltemal ontbreek- met ‘n klipgebeitelde bank al langs die een muur af. Met die stap soontoe deur ‘n mini-siq (rotsgang) sien ons klein altaartjies en klipkanale wat water na klipkommetjies gelei het.

Oppad terug na die hotel gooi ons petrol in by ‘n marmerpilaar-petrolstasie, net nog ‘n moet-dit-sien-om-te-glo Saoedi-fenomeen. ‘n Pakistanie met ‘n lapdoek glimlag breed en laat ons selfs toe om ‘n foto van hom te neem. Masalama groet ons toe ons ry.

‘n Paar maande later was dit ons finale masalama  aan die woestyn voor ons Afrika-waarts gevlieg het.

By 'n pad-moskee

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on April 16, 2018 by in Internasionale reis – Afrikaans and tagged .
%d bloggers like this: