ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

KAP TENTPENNE IN BY DIE PAARL

First published in Die Burger, November 2013

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Ry kort entjie en span uit langs die Bergrivier

20180718_144729

As jy smag daarna om van die stadslewe te ontsnap, maar so der dagen sat voel dat jy nie ver wil ry nie, kan jy so wrintiewaar net buitekant die Paarl kom uitspan.

Op die oewers van die Bergrivier

Om die Bergrivier as’t ware as deel van jou grond en jou speelplek te hê, is min mense beskore. Selfs as dit slegs vir ‘n paar wegbreekdae die geval is.

Die Bergrivier vloei oor spoelklippe regdeur die Berg River Resort. Dis amper te idillies om waar te wees. Skadu-bome floreer met die nabyheid van die rivierwater. Die gras is groen; die braaidromme staan reg; en net mooi orals – daar is sowat 150 kampeerplekke – kan jy die kabbeling van die water hoor. Die klank van die water is so strelend op die gemoed dat jy sommer gou-gou vergeet dat jy beswaarlik 45 minute se ry van Kaapstad is.

Met my besoek op ‘n weeksmiddag tref ek ‘n Switser aan wat by ‘n oopvoutafeltjie met sy skootrekenaar sit. Ek hou hom ‘n hele rukkie dop voor ons begin gesels. Sy oë dwaal keer op keer na die uitsig voor hom – ‘n druipende wilgerboom, die verbyvloeiende water en watervoëls wat wei.

Hy vertel dat hy en sy vrou van Switserland na Egipte en vandaar deur onder andere Noord-Soedan en Etiopië, Kenia, Zambië en Malawi tot hier gery het. In Noord-Soedan het hul geen probleme ondervind nie; in Etiopië kon hul dit nie waag om êrens te stop nie, want hordes mense sou hul bestorm om vir alles moontlik te vra; en ja, hulle was by die mees suidelike punt van Afrika, L’Agulhas, glimlag hy erg ingenome met homself.

Hierdie tydjie by die Berg River Resort is hul laaste voor hul huiswaarts keer. Helaas, die avontuur is oor. Gepas afgesluit op ‘n groen grasperk, ‘n prentjiemooi rivier en naby aan alles wat ‘n mens nodig het (en wat jy nie altyd orals in Afrika kry nie).

Vir die kinders is daar ‘n skoppelmaai wat oor die rivier uitkyk, ‘n waterwurm, mini-gholf en ‘n kampie met twee gulsige varke en twee baba-varkies wat lustig oink as jy hulle voer.  Die boerbokkies bê verwaand en eet saam aan ryskoekies.

Verder kan daar geroei, geswem of vir krappies in die rivier gesoek word asook op die uitgestrekte grasperk balspeletjies gespeel word. Die oord is so groot dat jou kroos selfs vir dae lank wegkruipertjie sal kan speel sonder dat die wegkruipplekke te min raak.

Dagbesoekers word wel toegelaat, maar dit sluit níé groepe in nie.

  • Op die webwerf bergriverresort.co.za kan jy foto’s sien; meer lees; verneem na beskikbaarheid sowel as bespreek.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on July 18, 2018 by in In die Boland and tagged .
%d bloggers like this: