ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

Baikal is die pêrel van Siberië

First published in Die Burger, October 2014

BAAI IN DIE KOUE WATER VAN DIE BAIKAL-MEER

As ‘n mens van die Baikal-meer lees of sommer net die naam hoor, klink dit misterieus, deel van ‘n wêreld wat ons nie ken nie. ‘n Lewe wat ‘n mens – veral as jy in Afrika woon – jouself nie kan indink nie.

Om in Siberië te woon, is om ‘n lewe van uiterstes te lei – een van bitterlik koue winters met sneeustorms, maar ook van warm somers met hordes muskiete. Dis die plek van Kosakke en waar woorde soos taiga en tundra opduik; dan moet ‘n mens maar opsoek om agter te kom waaroor dit gaan.

Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is -5° Celsius; in Januarie is die gemiddelde temperatuur ‘n onmenslike -25° Celsius. Daarenteen het die temperatuur in Julie 2014, d.w.s. in die middel van die somer, tot ‘n ongehoorde 35° Celsius gestyg.

Om oor Baikal uit te kyk

Om op die oewer van die Baikal-meer – wat die Pêrel van Siberië genoem en in die suid-oostelike deel van Siberië aangetref word – te staan, voel so half surrealisties. Die meeste mense wat wel hierdie voorreg beleef, het met die Trans-Siberiese trein tot by Irkoetsk gereis en vandaar ‘n dagekspedisie na Listwjanka aangepak. Listwjanka is die Baikal-dorpie wat die naaste aan Irkoetsk is.

'n Tjorrie kruie in die agterstraatjies langs

Die maklikste – en goedkoopste – manier om vanaf Irkoetsk na Listwjanka en die Baikal-meer te reis, is met ‘n mini-bus. Mini-bussies vertrek gereeld – hoewel nie op spesifieke tye nie – en dit duur sowat een uur en 40 minute voor hulle op die kaai by Listwjanka stop.

Ons het besluit om een nag in Listwjanka, naby die Angara-rivier, oor te bly. In die somer is dit orals volgeboek en is daar hope aktiwiteite om die besoekers te vermaak; in die herfs is dit maar stil en die meeste restaurantjies se deure is toe.

Off-season at Listvyanka on Lake Baikal

In die somer kan jy swem hoewel die water nooit warmer as 15° C raak nie. Die water is helder, maar nie kristalhelder soos wat sommige mense beweer nie. Dalk het dit ook met die bewolkte, grys dag van ons aankoms te doen. Die eerste dag wat ons daar is, sif ‘n motreëntjie neer en dis snerpend koud.

Daar’s ‘n Baikal-staproete; duik en jetski is opsies, en jy kan in die nag op die meer gaan visvang. Die klein toerisme-kantoortjie op die kaai is uiters behulpsaam en vriendelik.

In die winter kan jy ys-bergfietsry of vir van vyf kilometer tot etlike dae met honde (wat nie Engels verstaan nie) gaan slee-ry. Minder avontuurlustiges kan ysbeeldhouwerk beproef.

'n Brugversiering by Listvyanka

In Februarie kan jy oor die meer ry aangesien die eerste meter van die oppervlak van die meer gevries is. Dis weliswaar nie orals ewe veilig nie en nie vir bangjanne soos nie, bespiegel ons terwyl ons onsself probeer voorstel hoe dit dan lyk.

Oeps, daar sink ‘n lokomotief

In die Russiese-Japanse Oorlog van 1904-1905 het ‘n lokomotief in die meer geval nadat ‘n spoorlyn oor die ys aangelê is. Die lokomotief is nooit weer gevind nie.

Daar word ook vertel dat 650 miljoen goue roebels, deel van die skatte van die tsar, gedurende die Russian Civil War op die bodem van die Baikal beland het. In 2008 is soekgeselskappe uitgestuur om die verlore goud te probeer opspoor.

Besoek ‘n eiland of ry ‘n trein

Olkhon-eiland is per veerboot bereikbaar.  Die eiland is 72 kilometer lank en die hoofdorpie is Khuzhir. Jy kan na die Sjamaan-Rotse gaan kyk hoewel dit nou nie jou asem gaan wegslaan nie.

Om met die Circum Baikal-spoorlyn te ry, is meer gewild onder diegene wat hierdie deel van die wêreld besoek.

Wat maak Baikal spesiaal

Die Baikal-meer is die oudste (25 miljoen jaar), grootste (3.15 miljoen ha) en diepste (1 700 meter) meer op planeet aarde en is in 1996 as Wêreld-Erfenisgebied verklaar. Die meer bevat 20% d.w.s. een vyfde van alle vars,lopende water op aarde. En ja, hulle sê die water is drinkbaar.

'n Russiese vermaning by die piekniekplekke langs Baikal-meer

Die meer strek oor 636 kilometer van noord na suid hoewel dit slegs sestig kilometer wyd is. Dit lyk dus ietwat soos ‘n piesang sou jy dit uit die lug sien, soos die Lonely Planet dit dan ook beskryf. As jy by Listwjanka staan en oor die massa water uitkyk, kan jy jou nie indink dat jy nie oor ‘n oseaan tot by die horison staar nie.

Die Khamar Daban-berge vertoon mistig daar ver oor die water en blykbaar vaar jy ure lank sonder dat dit lyk of die berge enigsins nader kom.

Die endemiese flora en fauna van die omgewing sowel as die biodiversiteit van Baikal word hoog aangeskryf. In die Baikal-meer leef 1340 dierspesies – waarvan 745 endemies is – en 570 plantspesies – waarvan 150 endemies is.

In Listwjanka kan die varswaterrobbe, wat nerpa genoem word en eie aan Baikal is, by die Nerpinarium gesien word. Die geboutjie lyk egter maar klein en beknop van buite en as diereliefhebber besluit ek om myself liewers nie hieraan bloot te stel nie.

Omoel, ‘n tipe salmforel,  staan bekend as die beste gerookte vis in die wêreld. As jy in die agterstraatjies van Listwjanka stap, sien jy hoe primitief die rookproses geskied, maar stry gaan jy nie stry as jy dit eers geproe het nie.

Lees meer oor:
·        Die Baikal-meer: http://whc.unesco.org/en/list/754
·        Die verlore goud van die tsar: www.spiegel.de/international/world/the-czar-s-lost-gold-russian-submarine-hunts-clues-to-century-old-mystery-a-715373.html
·        Die Circum-Baikal Trein:
         www.waytorussia.net/Baikal/Destinations/CircumBaikal.html

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on November 3, 2018 by in Europa and tagged .
%d bloggers like this: