ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

‘n Storm in ‘n teekoppie

First published in Die Burger, October 2013; adapted

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Vind sielslafenis in tee

PrinsAlbert2 (2)

Nectar Tee

‘n Geurige koppie troos as jy sat voel en lus is vir niks meer as om geselsies te maak met ‘n teekoppie in jou hand nie. En ‘n soetkoekie om daarin te doop.

Kry ‘n mens nog tannies wat teeblare lees? Wat veronderstel is om vir jou te kan sê of jou ridder op ‘n wit perd eendag gaan opdaag;  of jou skip gaan inkom; of dit wat jou nou pla maar net ‘n storm in ‘n teekoppie is en vanself gaan oorwaai.

‘n Geurige koppie tee op sy tyd troos as dit jou afdag is, verkwik as jy der dagen sat voel en dan ruil ‘n mens darem ook nog lekker stories uit as jy ‘n teekoppie in jou hand vashou.

Die sigeuner van tee

Eers in ‘n turkoois sigeunerkaravaan, nou in die hartjie van Woodstock.

‘n Marokkaanse teepot met mentteeglasies wink jou na binne. By Lady Bonin’s Tea Parlour gaan sit jy kruisbeen op grofgeweefde sitkussings om ‘n beskilderde, lae houttafeltjie. Teen die muur hang verweerde tasse waarop fyn teekoppies uitgestal is.

Jessic Bonin raak liries oor tee, wat sy ‘n elikser noem. Sy het by haar ouma geleer om tee te waardeer, om ‘n geurige koppie tee te maak, asook allerhande ander geheimpies van tee.

In haar tee-boudoir maak sy haar eie unieke teevermengings.

Die eerste tee wat in ons kommetjie geskink word, is Dragon Well-groentee. Dit is subtiel op die tong. Niks herinnner jou aan drake of putte nie, al is daar talle legendes oor hoe hierdie tee sy naam gekry het.

Die tweede tee is die sjampanje van tee, hoor ons. Dit het ‘n musikale naam wat van jou tong afrol: Darjeeling. Laastens volg ‘n vrugtige vermenging: hibiskus, framboos, gedroogde appel en narsing. Die bestanddele gee jou immuniteit ‘n hupstoot, maar ons drink dit sommer vir die lekker.

Lady Bonin bedien net rou kos (deesdae ‘n tendens). ‘n Skyf rou pizza is verbasend lekker: die basis is lynsaad en ‘n hawermengsel, bo-op is avokadopeer, tamatie en pesto. Die Florentynse koekies is gegeur met vye en rooswater. Die kaaskoek het ‘n neutonderlaag en is met pynappel gegeur.

Dalk word Lady Bonin se sigeunerwoonwa hierdie somer weer êrens getrek. As jy ‘n borrelgomblou karavaan bespeur met vlaggies wat langs die kant wapper, gaan maak kennis.

Binne word nie teeblare gelees of in kristalballe gestaar nie, maar dis waar jy meer van tee leer as wat jy ooit kon droom.

  • Lees meer by ladybonin.com of besoek Lady Bonin by die Woodstock-nywerheidsentrum, Albertstraat 66, Woodstock.

Teeserviese in Tulbagh

Het Land van Waveren is knap agter Things I Love

Het Land van Waveren is knap agter Things I Love

As jy nie by jou ouma(-grootjie) ‘n teeservies geërf het nie, kan jy by Things I Love ‘n teestel van doerie tyd kies. Van hoek tot kant teen die hele agtermuur begroet koppies en pierings, koekbordjies en tuitteepotte uit hul These Foolish Things-versameling jou.

By Things I Love word selfs teekoppie-plantpotte verkoop

By Things I Love word selfs teekoppie-plantpotte verkoop

Daar is Art Deco-melkbekertjies, deftige Victoriaanse teestelle, teekoppies met fyn blommetjies of dun strepies, eens geliefde koppies met windbarsies en trousseau-suikerpotjies wat vir die mooi uitgestal word.

Sousbekertjies, koffiebekers van Harrods, porselein-groenteskottels en muurhorlosies staan tussen silwerteepotte. Dekadente gevulde pannekoeke met gekaramelliseerde vrugte, kaaskoek, suurlemoenskuimtert, Belgiese sjokolademoussekoek en appelkrummeltert word saam met verskeie soorte  tee bedien.

Maak ‘n draai by die deli-yskaste. Paddagang se sjerrie, hul gefortifiseerde rooiwyn genaamd Brulpadda en hul boetiekbrandewyn, Paddapoleon, staan ook op die rak.

  • Besoek Things I Love by Van Der Stelstraat 61, Tulbagh.

Oulap se rooi (teepotte) maak mooi

Purple Porthie se Rooi Teepot Galery

Purple Porthie se Rooi Teepot Galery

Almal ken hom sommer net as Portchie (wat skilder). Hy was die seun van ‘n groenteboer en winkeleienaar in die Vrystaat en omdat dit meestal Portugese was wat daardie tyd kafee’s op die platteland besit het, het hy summier op skool die bynaam van Portchie gekry. Al sprak hy nie ‘n sprook Portugees nie. Die naam het gebly, tot vandag toe waar hy sit en skilder in sy The Red Teapot Galery in ‘n besige straat in Stellenbosch.

Portchie aan't skilder by The Red Teapot

Vanwaar dan die galery se naam? Portchie vertel geduldig dat sy eerste plek se naam Purple Palette was; die tweede Blue Brush. Toe hy sy galery in Stellenbosch wou oopmaak, het hy eintlik so half toevallig besef dat hy ‘n hele versameling rooi teepotte het. Daarby val dit hom toe by dat pers, blou en rooi mos juis drie komplementêre kleure is. Siedaar! Sy galery sou na sy rooi teepotte vernoem word.

Tussen al die skreeuhelder kuns en objekte pryk die einste rooi teepotte van Spanje, Mexiko, Kingsstraat in Londen en verskeie ander bestemmings regoor die wêreld. Dit hang aan linte uit die plafon; dit pronk langs vrolike papier-mâché varke; daar’s selfs ‘n leerteepothandsak. Nie een van die teepotte is te koop nie.  Die skelrooi teepotte getuig van Portchie se lewenslus, so ook sy skilderye.

Portchie se voorliefde vir baldadige kleur blyk sommer met die instap

Portchie se voorliefde vir baldadige kleur blyk sommer met die instap

  • Kyk na Portchie se vrolike kuns by portchie.com of besoek The Red Teapot, h/v Kerk- en Andringastraat, Stellenbosch.

Tee vir twee

Drink tee in een van die ou herehuise by Rupert Rotschild

Drink tee in een van die ou herehuise by Rupert Rotschild

Op een van die eerste dae hierdie winter wat die reën liggies, maar deurdringend begin neersif, maak ek my tuis voor ‘n knetterkaggel in ‘n ou herehuis net buite Franschhoek. By hierdie wynplaas wat eens aan Graham Beck behoort het, druk Antonij Rupert Wynlandgoed nou ‘n nuwe stempel af. Dit sluit ‘n middagtee in wat individueel vir ‘n minimum van twee mense voorberei word. Bespreking is noodsaaklik.

Daar is ‘n verskeidenheid geurige tee waaruit jy kan kies. Maar soms is ‘n pinkie-in-die-lug drinkdingetjie nie hoog op jou dag se lys van prioriteite nie. So bevind twee van ons onsself op ‘n dekadente sofa knus by die kaggel met ‘n glasie of drie L’Ormarins Brut Classique op ‘n triestige agtermiddag.

Behalwe vir komkommer-en-roomkaas broodjies-minus-korsies en salmhappies wat die koningin sou geval, is die res van die drie-laag koekstaander ‘n soettand se droom. Aarbeitertjies, sjoksalami, botterbroodjies, rooifluweelkolwyntjies en tradisionele koeksisters – met die verfrissende gebruik van kruie uit hul eie tuin – daag ons uit om nie kilojoules te tel nie.

Mooi, mooier, Myatt

By Myatt Café and Chocolatier op die boonste vlak van die Waterfront sou ‘n Parysenaar in haar potloodrompie en polvye tuis voel. Tog blyk dit ook ‘n gunsteling plek vir sakemanne met skootrekenaars te wees. Dalk is hul heimlik verlief – of eerder versot – op die ongewone kurwes van die wit-en-goue teepotte.

By Myatt bespeur ek ‘n kinderlike speelsheid, so asof hulle weet hulle hoef hulself nie te ernstig op te neem nie. Die lewe is mos altemit ernstig genoeg.

Sit in 'n elegante glaskas op die boonste glasvlak van die Waterfront-sentrum

Sit in ‘n elegante glaskas op die boonste glasvlak van die Waterfront-sentrum

As jy in hierdie glaskas – met swart kandelare wat lyk asof hul op die tafeltjies gaan drup – plaasneem, voel die lewe sommer na ‘n lied. ‘n Heserige Jacques Brel-lied.

Myatt bedien wortelkolwyntjies waarop marsepeinworteltjies skeefweg lê en pienk tertjies wat soos streepsuikerkieries lyk; sjokkolwyntjies spog met blou magrietjies en blinkertjies; en honderde-en-duisende strooiseltjies asook strikkies word mildelik ingespan.

  • By myattcafe.com kry jy ‘n voorsmakie van hul filosofie; hul koeke, kolwyntjies, makaroens en sjokolades; sowel as hul geskenke.
  • Myatt Café en Chocolatier is by Winkel 6244 aan die Waterfront. Skakel hulle by 021 418 8844 of e-pos myattcafechocolatier@myatt.co.za

 Die kroon van die sjokolade-skeppings

‘n Wyn-en-sjokoladeproe verdryf die huidige winterkoue so gou asof jy die towerwoord simsaliebim voor ‘n geslote deur uiter sodat die deur daarna terstond oopswaai.

Twee bibberende Paarliete voel dadelik tuis toe Marisa Lucas ons entoesiasties verwelkom en ons op ‘n tikkie geskiedenis van La Couronne (wat ‘die kroon’ beteken) getrakteer word. La Couronne was die naam van die vegskip waarmee die Le Roux-familie, die eerste eienaars van hierdie plaas, in 1688 in die Kaap aangekom het. Dis nie al wat ons leer nie – vir die eerste keer leer hierdie twee brunette wat bakboord en stuurboord nou eintlik beteken. Sommige van die wynname hou by die skeepsnaamtema soos die La Couronne Starboard White en die La Couronne Portside Red.

Ons twee wynliefhebbers proe Merlot Rosé saam met Turkish Delight; Sauvignon Blanc met ‘n veselperske-witsjokolade; Merlot met ‘n donker sjokkie gevul met donker caramel; La Couronne se Portside-versnit (Merlot, Cabernet Franc, Petit Verdot en Malbec) met ‘n truffel; en laastens muskadel (afkomstig van Calitzdorp) met kaneelsjokolade.

In die somer word ongehoute Chardonnay in plaas van Merlot bedien; piekniekmandjies word ook in die vooruitsig gestel. Vra in ‘n stroopsoet stemmetjie of jy ook van die Malbec kan proe – dis die eerste Malbec wat in die Franschhoek-vallei gemaak is.

Daar is maar net een Tafelbaai (Hotel)

'n Psigedeliese veerligte kaaskoek

‘n Psigedeliese veerligte kaaskoek

Die wie’s wie van Hollywood (en die res van die wêreld) het al hier gebly. As dit nie Michele Obama is nie, is dit die president van Tanzanië, of die Parlotones. Josh Groban en F.W. de Klerk het al hul kop op die Table Bay Hotel se kussings neergelê.

Dis dus nie onmoontlik om jouself in die geselskap van uitgesoekte geledere te bevind as jy hier kom middagtee geniet nie. Maar ag wat, dis net so genotvol om oor die hawe uit te kyk terwyl jy telke male heen en weer na die spogtafel stap terwyl ‘n vars potjie tee vir jou aangedra word.

By die Table Bay bestaan middagtee uit drie gange. Eers word soutighede van quiche tot salmbroodjies by die tafel bedien; daarna volg botterbroodjies; en laastens begeef almal hul na ‘n tafel wat die oë laat rek. ‘n Psigedeliese kaaskoek, ‘n lemoenkoek met pienk spinsuiker wat soos een van Fergie se dogters se hoede verrys; gedekonstruktureerde melktert in glasies; boeboer met laventel gegeur – die een suikersoet gastronomiese skepping na die ander.

Die gemakstoele spog met botanies-geïnspireerde stoffering; die sytafeltjies het uitskoppote; ou kaarte en seilskepe knipoog vanaf die mure – kortom, dis die ideale plek om laatmiddag tee te drink op die wyse waarop hierdie ritueel sou ontstaan het.

2 comments on “‘n Storm in ‘n teekoppie

  1. Tannie Frannie
    February 18, 2019

    “…spinsuiker wat soos een van Fergie se dogters se hoede verrys” 😀

  2. ilsez
    March 6, 2019

    Dis nou al Katherine se suster se hoed… of wie was dit nou weer by meer onlangse koninklike troue?! Gie gie ek hou nie tred met die roiaals nie…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on February 18, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .
%d bloggers like this: