ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

Brand se Baai – Sonder sein en spoeltoilet

First published in Die Burger, July 2017

2017 het – soos elke ander jaar – met ‘n spoed weggespring. Om jóú batterye – nie dié van jou selfoon, tablet of skootrekenaar, want geeneen kan jy by Brand se Baai gebruik nie – te herlaai, wyk uit na die diep Weskus.

This slideshow requires JavaScript.

Mik vir Lutzville. Dis die naaste dorp – Koekenaap buite rekening gelaat. Lutzville is 22 km van Vredendal, 34 km van Strandfontein, 42 km van Doringbaai en Klawer onderskeidelik, 52 km van Vanrhynsdorp en 325 km van Kaapstad met die N7 langs.

Vanaf Lutzville laat jy jou wiele sing op die teerpad direk kus toe. Knap voor Namakwa Sands se myn – jy kan dit nie mis nie en jy kan in elk geval nie daar inry nie – draai jy regs. Nou’s dit koebaai, teerpad tot jy weer gaan huiswaarts keer.

Dit het al ‘n ritueel by ons geword om een keer elke hoeveelste jaar wanneer ons ‘n paar dae oor die besigste tyd in die jaar afhet, by Brand se Baai te gaan tent opslaan.

Vier by vier, of nie

‘n Viertrekvoertuig is streng gesproke nodig, maar daar’s brawes wat kán sand ry wat dit ook waag. Daar’s ook gereeld ‘n hele paar wat hulle op barmhartige Samaritane moet verlaat wat moet help uitgrou en daarna uittou. In sulke situasies lyk die manne verleë en die vroue is dankbaar hoewel hul naels reeds afgekou is of hul mondhoeke na onder trek.

Die boere wie se skape net anderkant die heining wei is om verstaanbare redes nie geneë dat honde hul by hul base moet aansluit nie. Ons sien wel stroopsoet honde wat net om die tente en kinders se speelplek hou.

Brand se Baai en ander baaie in die omtrek is veral gewild onder Noord-Kapenaars. Ons het selfs met ‘n paar gesels wat vir lang jare by Strandfontein gekamp het, maar wat nou hier penne inslaan. Ander Noord-Kapenaars kamp al vir generasies hier.

Waar die Wes-Kapenaars sommer na die hele stuk kus as Brand se Baai verwys, weet die Noord-Kapenaars presies waar Floors se Gat, Kalkbaken, Graauwduinen, Grouduin se Kop, Blinkwaterbaai en Geustyn se Gat is.

Op jou merke, gereed, pak

As jy ook wil gaan – onthou: hier’s niks. Nie afgemerkte kampeerkleims, nie ablusieblokke met spoeltoilette, nie krane met lopende water – jy moet al die nodige saamneem en totaal selfversorgend wees.

Dit beteken nie jy moet álles – behalwe die kombuiswasbak soos gesoute kampeerders oor die kombuistreilerkampers spot – saampiekel na die diep Weskus nie.

Mossels vir die aand se pot word sommerso enkeldiep uitgehaal

Mossels vir die aand se pot word sommerso enkeldiep uitgehaal

‘n Ingeduikte pot vir mossels wat jy sommer enkeldiep kan uithaal, ‘n rooster vir braaitjoppies en kreef (binne seisoen as die see saamspeel – ons ondervinding was dat die branders selfs ‘n gesoute visskieter kan fnuik) –‘n koffiebeker, bord, mes, vurk en lepel vir elkeen, koffie en beskuit, dalk ‘n kampyskassie wat vanaf jou voertuig se battery loop, en ‘n ordentlike wynglas.

Dan – ‘n pak aartappelskyfies of twee, olywe, brie-kaas en ingelegde vye om aan te peusel. Jenewer en tonikum vir so elfuur soggens se skink as die son al lank genoeg gesig gewys het. Rooiwyn saam met jou biefstuk as die son reeds gesak het. Genoeg leesstof, elk na sy eie smaak.

Maar eers moet jy op die plek waar jy wil kamp, kleim afsteek. Die keuse is so eenvoudig as klippe wat reeds gestapel is om as braaiplek te dien. Of ‘n bamboeskol in die see waar jou wederhelf sê die kreef hou. Of ‘n krans wat ‘n mate van skuiling bied.

Of helaas, ‘n plek waar die vorige ghwar nie sy rommel en sigaretstompies agtergelaat het nie. Dis weliswaar net enkele kere wat ‘n mens dit sien, want diegene wat hierdie ongerepte stuk kus verkies, is amper almal omgewingsbewus en behandel die natuur met respek.

Tussenwerpsel: as jy oor Desember in hierdie omgewing gekamp het, onderskeidelik met ‘n voertuig met ‘n CJ- (Paarl) en CL-nommerplaat(Stellenbosch) ry en daar klein kindertjies saam met jou was, praat ek nou van jou.

‘n Beskutte ‘stranderf’ agter ‘n rots so groot soos ‘n huis geval ons; dit kos egter eers skoonmaak en optel. Dis nie lekker om by die bure – ‘n relatiewe begrip, want niemand kamp hier ongenooid binne sig van ander nie – te hoor dat die vorige kampeerders ook van die Boland afkomstig was nie.

‘n Klein grafie – ons probeer lig van die situasie maak met een wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer – moet diens doen in die afwesigheid van ‘n spoeltoilet of ablusieblok.

As jy moeg gelees is of kriewelrig begin voel, kan jy noord na Groenriviermond ry. By Groenriviermond is ‘n fotogeniese mosterd en swart vuurtoring.

As jy laatmiddag terugkeer,  wip meerkatjies onverwags op en af. Jy kyk vir hulle, hulle kyk vir jou.

Dis eers met ons derde besoek aan Brand se Baai wat ons flaminke teekom

Dis eers met ons derde besoek aan Brand se Baai wat ons flaminke te siene kry

As jy te lui vir ry is, hou die draaie van die seevoëls – meeue, kormorante, standlopertjies en swart-tobies – dop.

Die ou hande van Brand se Baai

Die ou blou bus – ‘n regte, egte een – wat as blyplek ingerig is en ‘n klipgooi van die see staangemaak is, het ons nie hierdie keer gesien nie.  Ook nie ‘n besonder ou lorrie wat al der dagen sat was, maar op een of ander manier hier moes uitgekom het. Of ‘n pienk Volla met houding nie.

Die huis wat aan Worsie Visser behoort het, blyk effens opgeknap te wees. Kamp Rooi(gety) se mense is op hul pos. Soos vorige jare, mymer ons.

Dit reën (nie) katte en honde nie

Selfs in die somer kan dit aan hierdie deel van die Weskus sommer skielik begin toetrek. Kort voor lank val ‘n reënbui soms uit. So ‘n reëtjie kan vir lank aanhou as die weergode nie aan jou kant is nie.

Die son sak in die weste oftewel aan die Weskus

Die son sak in die weste oftewel aan die Weskus

Sorg dus dat jou tent waterdig is, alles wat jy nie nat wil hê nie, snags weggepak is, en dat jy ‘n stel warm klere ook ingepak het.

‘n Laaste wenk: as jy so gelukkig is dat ‘n Noord-Kapenaar vir jou ‘n skaaptjoppie van sy plaas af present gee, skryf sy nommer neer. Sodra jy by die huis kom, bestel ‘n heelskaap by hom. Sulke tjoppies kry ‘n mens sekerlik nêrens anders nie.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on May 6, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .
%d bloggers like this: