ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

14+ DOENDINGE IN DIE SANDVELD

Oorspronklik gepubliseer in BuiteBurger, die Burger, September 2016 (Ekstra & nuwe foto’s hier)

Gooi sand! Stadiger! Hier’s baie om te doen in die Sandveld!

Die Sandveld wat so rofweg van Piketberg na Elandsbaai in die Weskus strek, is uitgestrek. Plek-plek maar yl. En ja, sanderig – rooi sand, geel sand, vaal sand.

Besienswaardighede is nou wel nie so ontelbaar soos die sand van die see nie, maar as jy hierdie geweste deurkruis, word jy telkemale verras en wens jy laterhand jy kan die dae uitrek.

1 Skermsweef in Porterville

Voortrekkerstraat, die hoofstraat van Porterville, is sowat een kilometer lank en daar is een vierstop. As jy ‘n kultuurkat is, wag die Jan Danckaert Museum en lieflike kerke op jou. By die Porterville Hotel is allerhande interessante verwikkelinge soos ‘n antiekwinkel aan die gang – hou hierdie spasie dop. Oorkant die hotel verkoop ‘n vriendelike rasta-man met sagte oë kruie en vertel vir ons dat sy naam ‘vuur’ beteken.

As jy hou van adrenalien, kan jy vlerksweef of by plekke met name soos Die Hel en De Tronk gaan voetslaan. Die rare Disa Uniflora kom ook in die omgewing voor.

* Sou jy meer wou uitvind: www.portervilletourism.co.za en www.paraglide-south-africa.com/tandem-flights/flying-sites/porterville/

 

2 Pak af in Piketberg

Dit gaat maar sukkel-sukkel om op ‘n Maandag ‘n glas wyn oor middagete in Piketberg in die hande te kry. Met droë kele verbeel ons ons vir ‘n oomblik ons sien kamele rondloop. Die vriendelike balju help selfs rondbel om te hoor waarheen ons ons kan begewe.

Dit kom nou daarvan as jy jou aan al die mooie geboue verkyk en orals ‘n geselsie aanknoop.

Die omgewing bied verskeie opsies vir bergfietsry en voetslaan. Synde maar sissierig by tye, gaan vind ons nie uit wat vuilspring (‘dirt jumping’) by Kruistementvlei behels nie.

* Kyk na: www.piketbergtourism.co.za

3 Fynbos in Goedverwacht en Wittewater

Goedverwacht en Wittewater is voormalige sendingstasies. Hier ken die “kloewers” hul snoek en patats. Mense ry van heinde en verre om die fynbos van die omgewing te besigtig.

* Lees meer: www.goedverwacht.com

4 Jou ma – of die hotel – vir ‘n eendvoël aansien in Eendekuil

Daar’s iets bevrydends daaraan om nêrens vooraf te bespreek nie, maar net te ry soos jou neus jou lei. Soms beteken dit egter dat jy vinnig ‘n alternatiewe plannetjie moet uitdink. Dis nou as jy agterkom die Eendekuil Hotel is deesdae ‘n rehabilitasiesentrum! Ons oorweeg vlugtig om maar vir die wis en die onwis vir een nag daar in te boek. Dalk baat dit ons later in ons lewe.

Dis die vriendelike mense van Tokkie se Winkel wat ons van ons dwaalspoor vertel. Ene Tokkie was nog nooit betrokke by die winkel nie, maar die Eendekuilers noem die winkel so, en daarmee basta. Binne adverteer ‘n plakkaat die jaarlikse Moeggeploeg-dans waarheen jy jou koelboks, vrou, kind en skoonma kan bring.

dsc_0072

5 Die driemanskap van Velddrif, Laaiplek en Port Owen

As jy hou van ongekunsteld, sal jy hou van Velddrif en Laaiplek. Die tyd het hier stilgestaan, en die mense is plat op die aarde. Met die geringste aanmoediging leer iemand jou bokkom skil. Bokkomlaan op die Bergrivier roep beelde van vergange tye op.

In hierdie geweste kan jy na hartelus visvang, bootry of voëls kyk.

* Verken die omgewing: www.velddriftourism.co.za

6 Tjil in Dwarskersbos

Dwarskersbos het sy naam gekry van die kersbos wat in die omgewing kry. Daar word vertel dat Dwarskersbos die plek is waar Vasco da Gama die eerste keer voet aan Afrika-wal gesit het.

Die karavaanpark is nog al die jare gewild. In Dwarskersbos kan jy net tjil, lang ente op die strand gaan stap, die mooiste sonsondergange afneem of daai grote probeer uittrek.

* Dwarskersbos is een van die 12 stoppe op die Bergroete van: www.westcoastway.co.za/dwarskersbos/

7 Voëlkyk by Rocherpan Natuurreservaat

By Rocherpan is die perfekte habitat vir watervoëls; dus stroom voëlkykers graag hiernatoe. Blomkykers natuurlik ook. Rocherpan is ‘n kusnatuurreservaat met seisoenale vleiland en ‘n paar eko-kothuise sowel as voëluitkykpunte.

* Kyk watter voëls jy kan aftiek by: www.capenature.co.za/reserves/rocherpan-nature-reserve/

8 Ry ‘n brander by Elandsbaai

Elandsbaai is die mekka van branderplankry. Wees gewaarsku, die water is kóúd. As jy meer van ‘n landdier is, kan jy in die omgewing gaan bergfietsry, rotsklim of die Elandsbaai-grot verken.

Hengelaars kan in die Elandsbaai Hotel se bloumuurkroeg vir die “laagvliegende kroegdame” (lees maar die bordjie langs die brandewynbottels) – toemaar, haar blaf is erger as haar byt – vertel van die een wat weggekom het. Of hulself verkyk aan die muurskildery van ‘n meermin wat ‘n kreef vashou.

* Elandsbaai is een van die 12 stoppe op die Bergroete van www.westcoastway.co.za/elands-bay/

dsc_0249

9 Verloor jouself in Redelinghuys en Verlorenvlei

Die huise, buitegeboue en alles-wat-vier-mure-het in Redelinghuys is beskilder met landelike tonele. Dit alleen maak die uitry na hierdie Sandveldse dorpie die moeite werd. Hoenders pik-pik teen ‘n buitemuur; eende hou twee bootjies, Tillie en Lientjie, geselskap; ‘n kat loer oor ‘n onderdeur; ‘n ouma trek nuuskierig die gordyn weg om te loer wat in die straat aangaan.

Verlorenvlei is een van die grootste mere in Suid-Afrika waar meer as 200 voëlspesies hou. Die vlei strek van Redelinghuys tot by Elandsbaai waar dit by die Atlantiese Oseaan invloei.

Die skaars Sandveldlelie groei in die distrik.

* Verken die omgewing: www.westcoastway.co.za/redelinghuys-and-velorenvlei/

10 Lê laag in Leipoldtville

Soos so baie ander dorpies in ons land het Leipoldtville as gevolg van die NG Kerk tot stand gekom. Die dorp is na die vader van Louis Leipoldt, die bekende digter en kosfundi, vernoem.

By die algemene handelaar – die gebou is in 1898 opgerig – word die koerant nie daagliks afgelewer nie, maar daar is ‘n interessante implement- en blikversameling en ‘n vriendelike eienaar wat jou van die distrik sal vertel.

Ry rond tot jy die ongelooflike beelde van ‘n skrootmetaalkunstenaar, Wessie, langs sy huis raaksien. Klop aan die deur; dalk is hy tuis.

dsc_0576

11 A, ons is in Aurora

Knap buite Aurora is die terrein waar die eerste geodetiese opmetings in Suid-Afrika gedoen is. Sir Thomas Maclear het in 1838 hier die opmeting van ‘n noordelike terminaal van ‘n lengtegraadboog uitgevoer om die ware vorm van die aarde te bepaal. Hy wou die opmetings deur Abbe de la Caille in 1752 in dieselfde area bevestig.

Vanaf Aurora ry jy met ‘n nou paadjie met die mees asemrowende uitsig na Danielshoogte Privaatreservaat bo-op die berg.

* Lees meer oor die geodetiese opmetings: www.ngi.gov.za/index.php/technical-information/geodesy-and-gps/history-of-geodetic-surveying-in-sa

dsc_0719

12 Begeef jouself na Graafwater

Graafwater voel of dit in die middel van die spreekwoordelike nêrens is. Dit maak dit nog lekkerder om hier aan te doen.

By die Graafwater Hotel is oorslaapplek; twee mak boerbokke, Ella en Bella; en twee grysstreepkatte wat op die kroegtoonbank uitstrek terwyl ons in ‘n nagemaakte Graafwaterse aksent bedien word.  My gedorie, hier stap ‘n troetelvark met ingroeinaels en ‘n voorliefde vir bier en Niknaks die kroeg binne. As jy sy growwe maagvel krap, val hy om van lekkerte. En steun herhaaldelik diep.

Kyk hoe lyk Graafwater Hotel: www.wikivillage.co.za/graafwater-hotel

dsc_0551

13 Nie net sitrus in Citrusdal

Citrusdal is díé plek vir San-tekeninge en rotsklim. En sitrus.

Die omgewing leen homself tot viertrekvoertuigroetes, varswaterhengel en verskeie voetslaanpaaie.

* Vind meer oor die omgewing uit: www.citrusdal.info

14 Piekenierskloof

As om te zipline (oftewel foefieslaaid of ritslyn) vir jou ‘n nuutjie is, is Piekenierskloof se lyne gebruikersvriendelik hoewel dit nie so mak is dat dit nie jou adrenalien laat vloei nie.

* Lees die Roaming Giraffe se blog oor zipline in Piekenierskloof: www.jabedi.com/2016/07/15/zip-lining-west-coast-style/

One comment on “14+ DOENDINGE IN DIE SANDVELD

  1. Esna Swart
    January 28, 2017

    Nou is ek darem lus om te gaan kyk hoe die Sandveld lyk….dalk so net na die eerste winter reen geval het.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 28, 2017 by in Die res van Suid-Afrika.