ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Stadsjapies kom span hier uit

First published in Die Burger, June 2013

Stadsjapies kom span hier uit

Boetiekhotelle is al ‘n paar jaar die in-ding onder reisigers wat al geruime tyd hul rugsakke weggebêre het, maar ek weet nie of boetiekkampeerplekke al op die radar verskyn het nie. Of dit nou na dese as sodanig gaan bekend staan, betwyfel ek, maar dat dit kampering in ‘n totaal ander liga plaas, is ‘n uitgemaakte saak.

Nóú’t ek almal darem lekker nuuskierig. Dis dus tyd om die aap uit die mou te laat. Sowat 5.8 kilometer buite Montagu op die R62 oppad na Barrydale sien jy vlae wapper. Hier lê Montagu Guano Cave.

20190317_180242

Ek’t nou wel nie apies hier gesien nie – dankie tog, ‘n aap hoort nie in ‘n hok nie – maar hier is wel ‘n Australiese emoe, wolvoet alpaka’s, swart buksie-varkies, plesierige donkies (een van die min kere wat ek nog ooit ‘n uitgelate donkie gesien het), en ‘n magdom kwetterende ganse. Ook ‘n mak kraanvoël wat kordaat naderstap om kos te bedel.

‘n Naweek wat die siel streel

Die streelplaas – jou kinders streel die diere en jy streel jou vrou – is maar een van die aantrekkingskragte by Montagu Guano Cave. Die Montagu(of Guano)-Grot strek vir honderde meters agtertoe. Binne-in die grot woon derduisende vlermuise. Nee man, ‘n vlermuis is glad nie so grillerig as wat jy dink nie. Kyk weer, dis eintlik ‘n oulike dingetjie veral as hy so onderstebo hang.

Dis hierdie einste grot waarin Sloet Steenkamp (vertolk deur Ian Roberts) in die TV-reeks Arende weggekruip het, vertel die ontvangsdame met sterre in haar oë. Dis net mooi hier waar daardie einste episodes verfilm is.

Die grot is nog nie naastenby volledig verken nie. By die ingang van die grot is ‘n Boesmantekening. Hierdie guano (of vlermuismis) is in 1890 by die grot uitgehaal en twee belangrike items is gevind. Die een was ‘n geboorde klip en die tweede was ‘n stukkie olyfhout met ‘n geronde punt aan een kant.

In 1964 het ‘n Amerikaanse argeoloog, Charles Keller, verder ondersoek ingestel en na hy dinamiet ingespan het, het hy ‘n hele paar duisend spiespunt-artefakte gevind. Sy bevinding was dat die grot eens gebruik is om handbyltjies en ander gereedskap te vervaardig. Lees meer hiervan by: http://www.montaguguanocave.co.za/docs/cave-article.pdf

As jy by Montagu Guano Cave kom kamp, kan jy meer van vlermuise en die grot leer; jy kan visvang of in die verhitte swempoele swem;  jy kan perdry of in die berg gaan stap.

Daar word nie ‘n fooi vir dagbesoekers gehef nie. Jy betaal slegs vir wat jy kies om te doen. Jy kan wel nie self na die grot gaan nie; trekkerritte word gereël om kampeerders (of dagbesoekers) soontoe te neem.

By Montagu Guano Cave is dertien ultra-netjiese kampeerplekke  wat – soos die paaie soontoe – met perskepitte bestrooi is.  Die ablusie-fasiliteite spog met vrolike pienk gordyne en uniek geteëlde mure.  Boonop is voorsiening vir rugsakreisigers gemaak; hier’s boslapa’s vir families wat te lui is om ‘n woonwa te sleep of ‘n tent op te slaan; verder is luukse tentakkommodasie vir gesinne of kliphuisies ook beskikbaar.

Ek wil, ek willie

Almal van ons ken seker ten minste een paartjie waarvan manlief gek daaroor is om te kamp, maar vroulief is gewoonlik maar langtand as die volgende kampeernaweek beplan word. Montagu Woonwapark wat ampertjies binne-in die dorp geleë is, bied die oplossing sodat beide partye tevrede gestel kan word. By hierdie privaatoord kan hy braai en sy kan gaan koffie drink, kuns kyk of snuisterye koop. Siedaar, geen huismoles.

Met my aankoms by hierdie privaatoord word ek maar koel ontvang. Ek lyk seker nie of ek ‘n tentpen kan reguit inkap nie – ek moet bieg dis nie te ver van verkeerd nie.  Ek het al voorheen so by myselwers gedink dat ek en my wederhelf dalk – soos ‘n egpaar wat ek ken – ‘n reel moet vaslê dat ons nie met mekaar mag praat tot die tent klaar opgeslaan is nie.

Die oumense het altyd met respek gepraat van iemand wat hul hand op hul plek hou en dis duidelik sigbaar dat dit is hoe hierdie oord – net mooi waar daar eens ‘n appelkoosboord was – bedryf word. Juis daarom noem party mense dit sommer die Appelkoospark.

By Montagu Woonwapark kamp jy onder skadu-bome; die gras is groen; en die kampplekke is gelyk. ‘n Groot plaasdam is die tuiste van ‘n verskeidenheid voëls en jy kan met trapbote die dam verken.

Verder is hier konferensie-fasiliteite, ‘n televisiekamer, ‘n speelarea vir kinders, swembaddens . Behalwe kampplekke is daar ook ander verblyfopsies beskikbaar. Lees maar die reëls aandagtig – hier is meer as ‘n handvol ‘geen’- en ‘asseblief’-vermanings waarby uitroeptekens gevoeg is.

Montagu is so om en by 160 kilometer van Kaapstad. Die nabye omgewing – en die dorp self – bied geleentheid vir wynproe. Terwyl vroulief kuns besigtig, kan manlief seker maak die tjoppies sis op die kole, want die dorp is net ‘n flinke stap vanaf die oord.

KONTAKBESONDERHEDE:
·        Kyk net na die wye verskeidenheid wat by  http://www.montaguguanocave.co.za/ aangebied word!
·        By http://www.montagucaravanpark.co.za/ kan jy onder andere sien watter spesiale aanbiedinge gedurende die winter beskikbaar is.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 20, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .