ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

PRINS ALBERT: Kampvuur-kuiers in die Karoo

First published in Die Burger, August 2013

PRINS ALBERT: KAMPPLEK VIR PRINSE

20180701_143544

Prins Albert is  moontlik een van die dorpe in Suid-Afrika met die meeste én die mooiste gastehuise en selfversorghuisies. Miskien is dit daarom dat daar min van hul kampplekke gehoor word. Dié is daar wel, en aldrie is net so mooi soos Prins Albert self.

So oud soos die klowe

Oudekloof is op ‘n werkende uitvoervrugteplaas.  Dis knap buite die dorp, maar steeds naby genoeg aan die Swartbergpas vir diegene wat verder sou wou gaan verken.

Op die plaas self is ook oorgenoeg om kampeerders besig te hou. ‘n Wye verskeidenheid boksoorte, ystervarke, muishonde, aardwolwe, jakkalsies, otters, aardvarke, rooikatte, muskeljaatkatte, miervreters en bedreigde oewerkonyne noem die klowe van die plaas hul huis.

Deon Gouws, die eienaar, het onlangs drie nuwe bergfietsroetes (onderskeidelik 4.3 km, 9.5 km en 20.1 km) in die Prins Albert Wildpark uitgelê. Hy’t nie vooraf besef wat dit sou behels nie, vertel hy glimlaggend. Hy moes omtrent 78 aanwysingsbordjies inkap!

Al die fietsroetes begin en eindig by die plaasopstal. Roete 1  is op goeie grondpad; Roete 2 en 3 is gekombineer met tweespoor-grondpaadjies.

Met die inry by die plaas sien jy die mooiste plaaswerkershuisie met lanterns aan ‘n boog waar die tuinpaadjie begin. Skuins oorkant rus ou plaasimplemente wat net so mooi in die kampeerarea langs die rivier sou kon vertoon.

Hou al langs die 1889-plaashuis (met ‘n oorspronklike Bolinder-houtstoof en Africana-skilderye) en die pruim- en appelkoosboorde af tot jy teen ‘n ry silwer dunstam Chinese populierbome – by wyse van spreke – vasry. In seisoentyd mag jy maar self vrugte – en growweskilsuurlemoene – pluk.

Kan ‘n kampplek oulik wees? Hierdie een is. Op die oewers van ‘n triekelriviertjie aan die een kant en die populiere aan die ander kant is tien staanplekke. Hier’s oorgenoeg skadubome met ‘n hangmat of twee waarin jy op die naat van jou rug met ‘n lekkerleesboek kan ontspan.

Kampeerders hoef hulself egter nie tot hierdie spesifieke kampplek te beperk nie. Enige plek op die plaas kan daar gekamp word.  ‘n Gewilde staanplek in die veld is langs die waterkanaal genaamd “Watervalletjie”.

Deon sê sy plaaskampeerplek is veral gewild onder pensioenarisse wat sommer vir ‘n week kom bly. Na dese gaan bergfietsryers ook onder die kampeerders begin tel.

As jy nie ‘n fietser is nie, kan jy op Oudekloof gaan stap; voëls kyk en aftiek; en sterre kyk  (toerusting kan verskaf word) of probeer tel. Kanoe’s kan gehuur word; as dit te veel reën, kan biljart of veerpyltjies in die kamer neffens die plaashuis gespeel word. Selfs ‘n klein plaasgimnasium is in ‘n ou stoortjie ingerig.

In die vallei van die Boesmans

Net ietwat suid (drie kilometer om presies te wees) van Prins Albert word die Boesmansvallei – deel van die Swartberg Privaat-Natuurreservaat – aangetref. Hierdie einste vallei is vir duisende jare deur die San bewoon. As jy tot aan die einde van die vallei voetslaan, kom jy op die Ein Gedi-waterval af. Ein Gedi beteken ‘fontein van klein bokkies’.

Op ‘n stil Sondagmiddag is bokspoortjies orals op die grond te sien en ‘n meerkat hardloop teen die rantjie uit. Elke kampplek het ‘n rietafdakkie, ‘n stapelklipbraaiplek en ‘n alleenstaande wasbak; vir elektrisiteit word R15 per dag betaal. Tente kan gehuur word.

In die reservaat kan jy in rotspoele of swemgate lyf natmaak; andersins kan jy gaan stap om die lang klipmure wat amper twee eeue gelede gebou is, te aanskou.

Alternatiewelik is hier houthutte, kleiner kothuise of een groot kothuis te huur.

In die hartjie van die dorp

Nie net in die hartjie van die dorp nie, maar ook nog op ‘n olyfplaas geleë, vind jy Olienhof.  As jy ‘n langerige asem het, kan jy na ‘n restaurant in die hoofstraat loop, sou die lus jou oorval.

Olienhof het ‘n knus kamparea waar troeteldiere – mits dit vooraf gereël word – ook welkom is. Dis ongetwyfeld diereliefhebbers wat hier aan die roer van sake staan – ‘n lui swart-en-wit kat stap heen en weer en ‘n onnutsige worshond bons saam met ‘n Jack Russel op die gras rond.

Jy kamp op gras onder skadubome waaronder braaikonka’s gereed staan. ‘n Ou trekker en wa laat almal om die vuur oor vervloë dae praat voor die tjoppies gaar is. Kampeertariewe sluit elektrisiteit in; warmwaterstorte help teen die winterkoue.

Drie volledig gemeubileerde kothuisies met olyfkultivar-name is ook te huur. Kinders onder twee jaar kamp/bly gratis.

Droëvrugte en olywe van die plaas word te koop aangebied.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 2, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .