ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

PAARL – ‘N ELLELANGE HOOFSTRAAT IN DIE BOLAND

HOOFSTRAAT MET RUIM KUIERHART

First published in Die Burger, March 2012

By Jan Kan op Picardie-plaas kuier die skape saam (2)

Dis nie ‘n ouvroustorie dat die Paarl se hoofstraat die langste hoofstraat (‘n volle twaalf kilometer) in Suid-Afrika is nie. Al is daar ‘n kinkel hier in die middel rond.

In die Paarl raak dit brandwarm, en ysigkoud

Net na jy van die N1 afgedraai het, verrys so ‘n klein waterwieletjie by die ingang na die eerste woonbuurt. Vir ‘n oomblik kan jy jou dalk net wil-wil verbeel jy’s in die Hollandse platteland. Of begin wonder of Don Quixote se kleinseun dalk in Courtrai kom aftree het. As jy in geskiedenis belangstel, is daar ‘n Wamakersmuseum by De Poort.

‘n Lappop en ‘n vars pampoen

Net ‘n entjie aan staan Jan Kan Plaasstal se bord wat aankondig of daar vars vye of vetkoek beskikbaar is. Draai gou af in die kort straatjie. Dis sekerlik die enigste plaasstal waar swartkopskape saam met jou by die tafeltjies op die gras kom sit.

Op ‘n Saterdagoggend is jou volgende stilhouplek by die Lazy Days mark by Laborie. Laborie se wingerde strek tot teenaan die hoofstraat. Is daar nog ‘n dorp wat met ‘n wingerd in sy hoofstraat kan spog?

By Laborie se Lazy Days Saterdagmark is tradisionele en internasionale produkte te kry (2)

Drink vonkelwyn terwyl jy deur die stalletjies stap waar die Paarliete saamsit en kuier.

Neig noord met jou neus tot twee kleurvolle bestemmings stilhou vereis. By Incanda is die einste leerbank waaroor jy al gedroom het. Tonett’s se vensteruitstallings maak jou lus vir blomme koop, of bruilof hou. Êrens in ‘n stoorkamer het hulle selfs lewensgrootte kamele met lang wimpers en slap nekke.

Dis onmoontlik om KWV se imposante hoofkantoor mis te kyk. Vergaap jou aan die gebou, die ou bome en die tuin, maar dis nie hier waar jy hul Roodeberg en koffie-pinotage Café Culture kan proe nie.

Paarl se ou argitektuur

Skuins oorkant is ‘n elegante gebou, La Concordia, wat herinner aan ‘n Victoriaanse vrou met ‘n kantsambreel en ‘n oprygrok. Aan die voorkant gebeur daar tot op hede nog niks nie en die Paarliete is al ietwat ongeduldig gewag oor die belofte van wat nog kom.‘n Blerts oranje verraai die aanwesigheid van ‘n jolige eetplek na agter.

Loer na die Di-Rialto geboutjie, eens ‘n skuur en jare terug heeltemal omskep. Bespiegel onder jou mede-passasiers hoe die binnekant lyk.

Hiert jy, hier’s nog ‘n wingerd. Kyk nou mooi, moenie regs draai by die verkeerslig nie – die Paarlse boulevard is vir dié wat vinnig aan die anderkant van die dorp wil kom. Dis nie vandag jy nie.

Moenie skrik as ‘n swartgeklede figuur skielik langs jou venster verskyn nie. Dis die plaaslike mimiekkunstenaar. Hy verdien beslis ‘n fooitjie.

Net mooi hier kry jy van die mooiste geboue in die Paarl. Op die eerste hoek oorkant die wingerd is ‘n dubbelverdiepinggebou wat smag na ‘n swierige huurder.

Eet jouself magie vol, pensie dik

By Proviant is boerekaviaar(murgbene op plaasbrood), skilpadjies(lewer in netvet) en lamsniertjies. Oorkant Proviant is ‘n paar wonings wat lyk of hulle in dekortydskrifte (moet) pryk.

By 10 Chapters is ‘n wye verskeidenheid wyne – nie net van die Paarl-distrik nie. Draf in as die baas net mooi vanaand by jou kom eet.

Uit die hoek van jou oog sien jy knobbelrige akkerbome, wit of groen broekieslace, lushof-tuine, lae muurtjies en skuifraamvensters.

Tyd om te parkeer en die volgende straatblok of drie te voet te verken. De Kraal Galery sal jou kunstenaarsiel verkwik. Sit by Gieter het so pas oopgemaak. Die spyskaart verander elke dag, maar daar’s altyd gourmet broodjies en slaaie met kombinasies waaraan jy nie self sou gedink het nie. Neem unieke Makietie-linne en deli-produkte uit die omgewing huis toe. Met die uitstap staan rusbanke en ou kaste hoog opgestapel.

As jou maag begin knor

Noop is die restaurant in die Victoriaanse huis op die hoek. By Marcs Mediterranean Restaurant beïndruk die jong sjef, Nandé, met van Lebanese mezze-borde tot Chalmar-biefstuk.

By Marcs is die tafels trots Suid-Afrikaans en die kos Mediterreens (2)

In dieselfde ou skakelgebou is ‘n paar drumpels wat jy kan deurtrap. By Peaches and Cream is die jong energie amper tasbaar. Drink koffie, eet koek, sit op die stoep of op ‘n vrolike rusbank en kyk wat die veelsydige winkeltjie alles oplewer.

Koop eklekties by Peaches and Cream en bestel daarna koek en tee (2)

Dis onmoontlik om die baldadige winkelpoppe en fiets-met-‘n-mandjie mis te kyk. Dis definitief nie “plein op die hoek van mein”-straat nie en Nothing Plein  is ‘n aanwins vir die dorp.

As jy elke oggend in die Hoofstraat afry, kan jy kyk hoe hierdie dames se uitrustings verskil

By die huis op die stopstraat se hoek is ‘n tuiswinkeltjie, Emma-J, waar jy jou blieng-begeertes kan vervul. Oorkant is Frocks waar daar meer as net verruklike rokke hang.

Is dit nie net mooi tyd vir middagete nie? By Terra Mare is Olivier die Switserse gasheer van die besigste restaurant op die dorp. Sommerso met die aansit word basilie-olyfolie en balsemiese asyn saam met vars brood bedien.

Nog is het einde niet. De Oude Paarl se geboue dateer uit die laat 1700’s. Die Paarl is nie verniet bekend vir sy twee allermooie kerke nie. Loop deur die ou begraafplaas van die Strooidakkerk.

Ongeërg op die sypaadjie

Kyk net al die mense by ‘n Bolandse sypaadjie-kafee. Dis by Juno, die gewildste bymekaarkomplek. Roxy weet wat sy hier doen. Fietsryers eet ontbyt of wors-op-die-spies; mamma’s wat kinders by die skool afgelaai het, ruil stories; en  bankamptenare drink Miss Molly-vonkelwyn.

Oorkant Juno’s is Bella Bellota vir pizza’s onder sambrele. Agter Bella Bellota is Vleiskombuis en dis nie net die eienaar se Hollandse aksent wat jou laat voel of jy Europese kwaliteitsvleis hier kry nie.

Langs Juno’s is WineFolk vir wyn in vate uitgestal terwyl jy ook jou eie olyfolie kan tap. Binne stapafstand van Juno is die kleurvolle Kikka koffiewinkel met hul pienk en lemmetjiegroen baniere. Langs Kikka eet jy Italiaanse roomys by Lecca il Gelato.

‘n Tikkie Parys in die Paarl

Moet net nie verby Marie Antoinette van der Merwe – from Paris to Paarl verbyry nie. Hier’s tierlantyntjies en fieterjasies – van ‘n hart van doringdraad tot kussings met klossies, van Paryse sandale tot linte en koekblikke langs hoededose.

Hou reguit verby die stadsaal, maar as die ou flieks aan die oorkant oop is, moet jy gou by die AGS Kerkgebou in die Protea Aanbiddingsentrum inloer. Art Deco van binne en buite – hierbinne wag ‘n storie, vir diegene wat skrywersbloed het.

By Houtstraat Galery – by die kunsgalery of die geskenkwinkel – sal jy vir enigiemand wat jy ken,  iets verleidelik kan uitsnuffel.

Dwars-in-die-Weg het meer potensiaal as waarvoor dit tans benut word. Voor of na koffie by Bean in Love in die ou rottangwinkeltjie is dit ‘n handvol treë om te gaan kyk wat jy by die spesialiswinkeltjies vind. Die oopplan binnehof vra vir ‘n roesemoes van stemme en borde tot boordensvol wat uitgedra word.

Die sy-aansig van die Toringkerk is nog mooier as die voorkant – bekyk die torinkies van die noordekant af.

Eers regs, dan slap links

Net mooi by die (tans onbenutte) ou Poskantoor-gebou neem die hoofstraat, soos ‘n rivier, sy eie loop. Kan iemand nie hierdie ou gebou in ‘n teatrale restaurant of ‘n sjarmante teater omskep nie, klink die versugting op. Draai regs, en dadelik weer links. Nou ry jy in die rigting van Noorder-Paarl.

By die vierrigting-stopstraat is rietbesems, sonneblomme, gietyster-planthouers en wegsink-pouffes te koop. By Die Skatkis loer ou porseleinpoppe uit die venster en binne wag ou glase of ouma se slaaibak op jou. Druk jou neus verder noord. Die Family Farm Stall het rakke propvol emaljeware.

Sodra jy die eerste wingerd bespeur, is jou hoofstraat-verkenning op ‘n einde. In die somer kan jy by Tea under the Trees op die grasperk gaan uitspan. Voor jy jou neus terugdraai na waarvandaan jy gekom het, moet jy net gou kyk hoe lyk ons eie Noorder Paarl Mall. Hier in die Paarl het ons ‘n sin vir humor – buiten ‘n voorliefde vir wyn en goeie kuiers.

 

KOM SIT IN DIE ROOI STOELE VAN DIE OUMEULTEATER

 

Wanneer laas was jy in ‘n sitkamerteatertjie? ‘n Jolkol sonder fieterjasies. Die ene nostalgie – ‘n knus ruimte waar jy sommer met glas in die hand ‘n vertoning kyk en heeltemal gemesmeraais voel omdat die kunstenaars so naby aan jou is dat jy amper aan hulle kan raak.

Piekel ‘n klomp vriende saam en kom beleef die Paarl se Ou Meul Teater.

Lees by www.oumeulteater.co.za wat jy te siene kan kry.

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 4, 2017 by in In die Boland and tagged .