ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Skud lyf by Mzoli’s

First published in Die Burger, 2011/2012

Die mees demokratiese plek waar jy middagete kan eet, het ‘n medewerker aan ‘n kostydskrif dit genoem. En dit is. Innie Gugs in. Dis nou Mzoli’s. Gaan soontoe vir ‘n jol. En werklik goeie vleis.

Mzoli's starts off quietly but before long it's rocking

Tipies ou Suid-Afrika is ons met ‘n tikkie senuweeagtigheid en ‘n paar voorbehoude op ‘n Sondagoggend weg uit die Boland. Dis nou nie ‘n dagreis te perd nie. Die whaaities kom vroeg, so lyk dit. Parkering kan nou wel as verskoning gegee word, maar die biegsessie is reeds oor (lees ‘n sin of twee terug).

Ons is nou rég voor die plek geparkeer. Wag, hier kom ‘n man of twee met mobiele stalletjies. ‘n Dag kom mos nie tot sy (haar) reg as daar nie iets gekoop word nie. Twee stringe krale later en ‘n herwonne glas vir die man by die huis soek ons tafel.

Buite Mzoli's word daar flink sonbrille verkoop

Ons het ten minste geweet jy bring áls self – messe, vurke, slaaie (verkieslik in ‘n Tupperware-bak), voorgeregte of peuselgoedjies, drank, die hele toetie. Die loukils ken die sisteem. Orals langsaan ons (mense drentel noual in), is moewiese gedekselde plastiekbakke met driebone- en aartappelslaai. Plek-plek ‘n verdwaalde gerasperde wortel.

Jy kan wel pap en ‘n salsa’tjie – dis nie ‘n smoor of tjakalaka soos ons ons voorgestel het nie – saam met jou vleis bestel.

Behalwe bokkos (ek’t nie bokvleis by Mzoli’s gesien), plak die Ghoeghoelette bottels whiskie op hul tafels neer. Ek sien een tafel met Klipdrif (en hul eie eish). Baie biere – groenes, bruines, met rooi, groen en blou etikette.

Dit raak voller. Die musiek raak harder. Ons raak ingeburger. Voorbehoude het noual verdwyn. Soos op enige ander plek maak jy net seker waar jou beursie-sel-kamera is. Niks ongewoon nie.

Dis tyd om te eet. Stuk-stuk stap ons om die hoek in die motreëntjie. By Mzoli se Slaghuis kies jy jou vleis. Soveel tjoppies, ‘n jaart wors. Skaap- of beesballe is (ongelukkig) nie vandag beskikbaar nie. Niertjies moet maar die ding doen.

Jy kry jou rou vleis wat jy self gekies het, op ‘n blikbord (R20 deposito) met ‘n papiertjie met ‘n nommer (of was dit nou jou naam?) daarby. In een van twee agterste vertrekke gee jy dit in. Hier’s rye en rye vure met swetende, professionele braaiers. As jy meer gekonfyt in die Mzoli-ritueel is, bestel jou tafel sommer ‘n emaljekom vleis. Die deposito is ietwat meer, die administrasie dalk ook. Of dalk nie.

Ons vleis is murgsag. Die marinade het ‘n subtiele byt, net reg. Ons eet niertjies dat die sous spat. Ons vergeet skoon van ons laarnie slaaie.

Hoe later, hoe kwater, Nee wag, hier is niemand kwaad nie. Die plek raak nog voller. Die musiek raak nog harder. Hier word gedans. Gepantsoela. Gejaaif. Niks van sakkie-sakkie nie. As ons maar sulke natuurlike ritme gehad het…

Net voor donker blaas ons die aftog. Dit was ‘n jol. Ons het geëet en belééf. Ons is gul ontvang. Nee, ons is nie ontvang nie – almal doen net hul ding. Ons was deel van – eintlik een met – die reënboognasie. Dis soos dit moet wees. En die vleis was van die beste wat ek nog ooit geëet het. Ons kan nie wag dit weer te doen nie. En nog mense saam te nooi en bloot te stel nie.

Mzoli’s, ons is verlei sonder voorbehoud.

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 22, 2017 by in Afrikaans foodies and tagged .