ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

VROEG UIT DIE VERE, REG VIR LEKKER ONTBYT

First published in Die Burger, October 2013

Die moederstad ontwaak vroeg. Nie noodwendig omdat die oggendstond goud in die mond het nie, maar deels omdat dit vir baie pendelaars makliker is om vóór die spitsverkeer reeds in die middestad te wees.

Wat ook al die rede, daar is verskeie restaurantjies en koffiekroegies wat douvoordag reeds ontbyt bedien. Óf jy kan op ‘n stamkafee (‘n Belgiese gebruik) besluit, óf jy kan jou ontbythoekies afwissel.

Die geur van koffie

'n Verwelkomende lig in die donker by Aroma Cafe

By Aroma Café voel dit amper asof jy by iemand aan huis aansit. Weliswaar met ‘n wye keuse van ontbyt-opsies soos omelet met ‘n keuse van vulsels; ‘n Engelse, gesonde of de luxe kombinasie; salm met roereiers; of Franse roosterbrood met spek en sampioene.

'n Klipleeu hou wag voor Aroma Cafe

‘n Versoek vir kaas by die Franse roosterbrood val glad nie op dowe ore nie en ‘n rojale porsie rasperkaas word bygevoeg.  Een van die spreekwoorde op die spyskaart is heel gepas: Alle geluk hang af van ‘n ontspannende ontbyt.

Al lui die Turkse spreekwoord op die spyskaart dat koffie so swart soos die hel, so sterk soos die dood, en so soet soos die liefde moet wees, word Aroma Café se cappuccino net liggies – en so lekker – met kaneel besprinkel.

  • Aroma Café, h/v Loop en Langmarkstraat. Tye: 6h00 – 15h00. Tel 021 423 8724

‘n Uitsig oor Artscape

Die Vista Cafe is helder verlig om jou binne te nooi

Vista (en Aroma Café) blyk die vroeë voëltjies te wees as ‘n mens so douvoordag deur die Moederstad se donker winterstrate ry. Selfs net duskant hanekraai neig hierdie ontbytplek reg oorkant Artscape na stampvol.

Op die ontbytspyskaart is warempel 22 toebroodjies – en dit boonop met ‘n keuse van gewoon of gerooster, wit of volkoring, en rog of croissant. Onderaan die spyskaart is ‘n lang lys happies soos avokado, boerewors en agurkie wat jy na willekeur by jou bestelling kan byvoeg.

Die ontbyt-toevoutjie (wrap) met twee roereiers, twee repies spek en twee gerookte worsies het my aandag getrek. So ook ‘n nuwe variasie van ‘n melkskommel – ‘n teeskommel met rooibos-espresso en roomys.

  • Vista Café, Hertzog Boulevard 44, Foreshore. Oop vir ontbyt vanaf 6h00. Tel 021 425 3631

Siembamba, nee, dis SababaBy Sababa is Israeli gebak deel van die ontbytbuffet

Vergeet van boerewors en gebakte eiers. Sien in jou geestesoog ‘n deels Midde-Oosterse, deels Mediterreense geïnspireerde buffet wat Sababa se suster-eienaars, Nirit en Tal Smith, as ongekompliseerd en bowenal gesond beskryf.

Hier smul jy aan sjaksjoeka (‘n Israeli-dis met geposjeerde eiers in tamatie-en-rooipepersous), frittatas, yogurtbrood, sekelmaan-rogolach-pasteitjies en bonekitas, ‘n Israeli-gebak.

Sababa se webwerf verklaar dat hulle poog om kos te maak soos wat almal wat daar eet, graag tuis sou wou kook as daar genoeg ure in elke dag was.

  • Sababa, Breestraat 231. Weeksdae oop vir ontbyt vanaf 7h00. Tel 021 424 7480. Kyk na hul Resep van die Maand by sababa.co.za

Bestel voor die diengdong van die skoolklok

Arnolds se reputasie strek ver en wyd. Hul Free Range Early Bird Ontbyt is so legendaries dat daar ‘n klok gelui word om die afsnypunt (vóór sewe) vir bestellings aan te kondig. As jy nog ietwat droomverlore gevoel het, sal jy na dese wawydwakker wees.

Twee van alles (behalwe kaas) vir slegs R14

Vir ‘n skamele R14 kry jy twee eiers, twee repies spek, twee chipolata-worsies, twee tamaties en twee snye roosterbrood.

Die kelners by Arnolds is almal oggendmense

Op-en-wakker kelners herinner almal om vroegtydig te bestel. Met laatkommers betuig hul simpatie (“Ag nee, dis net mooi drie minute te laat.”) en beveel die plaatkoekies of vrugte-lassi (‘n Indiese gladdejantjie of smoothie) aan.

By Arnolds sit jy aan saam met babelaas-studente, jong rolprentvervaardigers en stoppelbaard-sakemanne terwyl jy na die Beatles en Suzanne Vega se My name is Luka luister.

  • Arnolds, Kloofstraat 60, Tuine. Weeksdae 6h45 tot laat. As jy vroeër is, word jy vriendelik koffie aangebied. Naweke 8h00 – 22h00. Tel 021 424 4344. Webwerf arnolds.co.za

Op die hoek van Adderley en Waal

Sit agteroor met 'n koerant vanaf die toonbank by Twankey

Daar’s iets heerlik dekadents aan ontbyt by ‘n sjampanje-en-oesterkroeg. Die nuwe Twankey Kroeg (deel van Taj Kaapstad) is van nou af tot aan die einde van die somer vanaf sewe-uur in die oggend oop.

As oesters op ‘n nugter maag nie aptytwekkend klink nie, is daar meer tradisionele opsies soos croissants, muesli en vars vrugte. Sink terug in ‘n leergemakstoel of sit aan by ‘n marmerbladtafeltjie,  kyk uit op die katedraal en lees koerant tot jy dalk verlei word deur die sjampanje wat in ‘n glimblou ysbak  op die marmertoonbank verkoel.

'n Dekadente manier om die dag mee te begin

By Twankey gebeur alles met swier – dis dus geen wonder dat jy van ontbyt tot laataand hier kan vertoef nie. Op hul Wat-Gaan-Aan (What’s On) borde word aangekondig watter spesiale aanbiedings – soos vyf soorte mojito-skemerkelkies op Dorstige Donderdae en emmers bier voor drie televisieskerms op Sportiewe Saterdae – op watter weeksaande  beskikbaar is.

  • Twankey Bar, Taj Kaapstad. Op die h/v Waal- en Adderleystraat. Ontbyt vanaf 7h00. Tel 021 819 2000. Kyk na die res van die dag se spyskaart by tajcapetown.co.za/blog/dining/twankeybar/

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 20, 2018 by in Afrikaans foodies.