ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Rus sag in Recoleta

First published in Rapport, June 2019

Grafte soos kuns

 Dis min dat ‘n begraafplaas op die lys van moetsien-plekke van ‘n bestemming is. Recoleta-begraafplaas in Buenos Aires, Argentinië lyk egter eerder na ‘n museum of ‘n kunsgalery as wat dit ‘n grillerige plek is wat ‘n mens aan die dood en spoke laat dink.

Recoleta-begraafplaas is in 1822 gebou; toe was dit die eerste openbare begraafplaas in Buenos Aires. Aan die einde van die 1800’s het dit ‘n statussimbool geraak om hier begrawe te word.

Van Argentinië se presidente en ander politieke leiers is hier begrawe, so ook een van Napoleon se kleindogters en natuurlik die bekendste afgestorwene, Evita, oftewel Eva Maria Duarte de Perón,  die tweede eggenoot van die president van Argentinië, Juan Perón (1946-1955 en 1973-1974). Evita was een van die magtigste vroue in Argentinië en het die eerste politieke vrouebeweging in dié land gestig.

Evita se praalgraf met sy dubbeldeure met gegote yster en ‘n handvol kopergravures word steeds druk besoek en die Argentyne plaas nog gereeld gerwe vars blomme daar neer.

Hoewel Eva Perón in 1952 oorlede is, is sy eers 20 jaar later in die Duarte-mausoleum begrawe. Klaarblyklik is haar liggaam om veiligheidsredes vyf meter onder die grond begrawe.

Recoleta word as ‘n besienswaardigheid gereken omdat die meeste van die fabelagtige praalgrafte bokant die grond is. Baie van die graftombes en sarkofae het standbeelde of sementengele wat lyk of dit in ‘n kunsgalery hoort.

Geen begrafnisgesigte in Recoleta

Soos wat jy tussen die bome deurdrentel, sien jy mausoleums waarvan die ontwerp op Gotiese katedrale, Griekse tempels of klassieke herehuise geskoei is. Voor die bokser Luis Angel Firpo (1894-1960) se eregraf is ‘n lewensgrote standbeeld van hom in die boksjas wat hy in die kryt gedra het.

In die Recoleta-begraafplaas maak die graf nie almal gelyk nie; jy kan duidelik sien aan watter van die 6400 praalgrafte is meer geld bestee.

Dis só mooi dat niemand Recoleta met ‘n begrafnisgesig besoek nie; jy sien eerder ‘n uitdruk van verwondering op elke besoeker se gesig.

Verskeie legendes word oor van die grafte vertel.

Liliana Crociati de Szaszak (1944-1970) is tydens haar wittebrood oorlede. Haar ma het haar praalgraf self ontwerp om soos haar slaapkamer te lyk. Buite die graf staan ‘n standbeeld van Liliana in haar trourok (sy is in haar trourok begrawe); met haar hand streel sy oor haar geliefde hond se kop.

Rufina Cambaceres (1883-1902) is volgens oorlewering begrawe toe sy in ‘n koma, eerder as dood, was. ‘n Paar dae na haar begrafnis het van die werkers in die begraafplaas gille vanuit haar graftombe gehoor. Toe die tombe oopgemaak is, was daar krapmerke op haar gesig en aan die binnekant van die doodskis soos sy probeer uitkom het. Hierna is sy in ‘n praalgraf met ‘n Art Nouveau-ontwerp herbegrawe.

Daar word ook vertel dat die opsigter en grafgrawer, David Alleno (1854-1910), sy hele lewe lank gespaar het sodat hy ook in Recoleta begrawe kon word. Party mense glo dat hy nog steeds in die begraafplaas spook. As jy in die vroegoggend sleutels hoor klinkel, is dit Allena se bos sleutels wat hy altyd in sy hand gedra het.

Net buite die ingang van die Recoleta-begraafplaas is ‘n kleine wit en goue kerkie, die Basilica Nuestra Senora del Pilar. Gaan loer binne en sê ‘n dankgebed omdat jy nog springlewendig is.

Die Recoleta-begraafplaas

 Waar? Junin 1760, Recoleta, Buenos Aires, Argentinië

Wanneer? Sewe dae per week, 07h00-17h30

Geen toegangsfooi

Lees meer: https://turismo.buenosaires.gob.ar/es/atractivo/cementerio-de-la-recoleta

Besoek ook: Casa Rosada, die ligroos presidensiële paleis waar Eva Perón op die beroemde balkon gestaan het toe sy die Argentyne toegespreek het, en die Museo Evita, ‘n museum oor die lewe van Evita.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 12, 2020 by in Suid-Amerika and tagged .