ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

NEIGINGS IN NOORDHOEK

First published in Die Burger, June 2012

Kuier en talm in Noordhoek

So met die draaie van Ou Kaapse Weg langs voel dit so ietwat na die Franschhoekpas wat jou weg van die stad voer. Hier is die valleie weliswaar sagter, amper meer gerond. So met die terugkyk kan ‘n mens nie glo die stad lê net hier agter nie.

Met die inry waarsku ‘n padteken om op die uitkyk vir die bedreigde Westelike Luiperdskurwepadda (Western Leopard Toad) te wees. ‘n Paar meter weg aan die oorkant van die pad poseer ‘n swart-wit kat by ‘n oranje vuurpylblom. Perde wei in jassies teen die koue; sommige blyk groter sissies as ander te wees, want nie almal het jassies nie.

Nie te ver om te pendel

In Noordhoek aangekom, voel die stad ‘n amperse ewigheid weg. Dit moet salig wees om hier te woon. Dis groen, dis rustig, die dynserigheid hang oor die velde. Die gras is ruig, die bome floreer, en ‘n motreëntjie sak uit. Dis asof die weer by die omgewing pas.

Ek draai by Noordhoek Farm Village in. Koffie moet nou van binne verwarm. By Café Roux lyk dit of almal mekaar ken.

By Food Barn Deli lok die geur van suurdeegbrood jou na binne. Binne word skootrekenaars by houttafels ingespan of koerant gelees; tweedehandse boeke lok ywerige lesers na die rakke van die Barn Bookshop; en voor jy uitstap, kan jy genoeg lekkernye huis toe neem om jou huismense te bederf of kook te ontduik.

By The Toad word saans saamgekuier asof dit ‘n kroeg in die Engelse platteland is. By die winkeltjies – met name soos The Pompous Fly en Namasté – is perde-goeters, reënkieries en herwinde glaskandelare te koop.

‘n Haring, ‘n rendier en ‘n hond

Middagete sal by The Food Barn wees, besluit ek terstond. Ek hoor mos al jare lank van hulle en ek sal graag wil uitvind of hul hul reputasie gestand doen. En toe doen hul veel meer as dit.

Maar eers word daar verder rondgery en ontdek. By die Red Herring Sentrum kan jy by The Chocolate Moose ‘n verjaardagkoek met Miss Piggy bestel; by Skebanga’s die hond se ore streel of ‘n bier drink; en by The Red Herring Restaurant kan jy buite in die tuin sit as die son skyn of binne by die kaggel as die Kaapse reën neersous.

default

‘n Strand soos Noordhoek-strand is in min ontwikkelde lande ter wêreld te vind, mymer ek, maar ‘n bord waarsku pertinent teen misdaad op die strand, gereelde aanvalle en gevaarlike areas. Ek sal maar liewers nie die noodlot tart nie, maar hoe jammer. Ek volg die simmetriese plankpaadjie met my oë.

Om by Monkey Valley te kom, ry jy deur ‘n boomtonnel wat skaduwees op die pad gooi. Verblyfopsies het name soos Meerkat, Albatros, Seekat, Visarend en Nagapie. In die Thorfynns restaurant voel dit of jy in ‘n boomhuis sit.

Uitmuntende kos in ‘n skuur

The Food Barn roep my. Of dalk is ek net lus vir ‘n kraffie wyn. ‘n Verskoning was nie nodig nie, kom ek gou agter. Dis nie verniet dat Juliette Binoche, André P. Brink, Leonardo DiCaprio en Oprah Winfrey al hier geëet het nie.

Na die eerste voorgereg van gekrummelde, gebakte bokmelkkaaskommetjies wat op kweperkonserf met roket, avokado en geroosterde pampoenpitte bedien word, kan ek nie ‘n tweede voorgereg van parma-ham en ricotta-cannelloni met ‘n truffelsous weerstaan nie. Ek proe-proe net aan die kakao-millefeuille met grondboontjiebotter-pralien roomys, maar dis net omdat hierdie dekadente middagete heeltemal oordadig vir een persoon is.

Kloppetieklop op ‘n kameel se rug

By Imhoff kan kameel gery word! Waar anders kan ‘n mens dit in Suid-Afrika beleef? Die reën het juis die wyk geneem. Daar is ook ‘n plaaswerf, ‘n teetuin, ‘n deli cum plaasstal sowel as ‘n handvol winkeltjies, die Pickled Fish restaurant, jy kan ‘n henna-patroon op jou hand laat verf – dis ‘n uitspanplek vir families.

Laat die wiele draai

Wanneer bevind ek my nou weer in hierdie omgewing? Rondom Noordhoek is nog ‘n paar plekkies wat roep. En kronkelpaaie om te ry. Kommetjie is om die draai.

As jy in Kommetjie woon, moet jy ‘n hond aanhou. Hier lyk dit almal met hul honde gaan stap. (In Noordhoek lyk dit weer of die meeste mense perde het). Kommetjie (en Long Beach) is vir branderplankryers, strandlopers, hondeliefhebbers en duikers. En sommer net om die atmosfeer in te drink.

Slangkop Vuurtoring word tans gerestoureer, maar om ‘n blik-vuurtoring te sien, gebeur nie aldag nie. Maak ‘n draai by die hek.

Die pad deur Misty Cliffs is redelik onbekend, selfs onder Kapenaars. Ek wonder of Camel Rock Restaurant nog hul formidabele kaaskoek bedien waarvoor ons in die tagtigerjare gedurende lesingtyd uit Stellenbosch gery het. Dis voorwaar geseënde mense wat hier in Scarborough woon, mymer ek weereens. Maar ek voel selfs geseënd om net hierlangs te kan ry.

Net voor ek af kronkel-kronkel na Simonstad bestyg ek die uitkykpunt. Van hier kan jy die hawe, die Roman Rock-vuurtorinkie in die middel van die see, en Hangklip se berge aan die oorkant sien. Die Kaap is ‘n wonderlike plek.

 

Neig na Noordhoek:
·        By The Food Barn is enige gereg op die à la carte spyskaart op weeksdae gedurende die herfsseisoen (maar nie publieke vakansiedae) halfprys. Jy gaan nie op enige ander plek ‘n maaltyd van hierdie kwaliteit teen hierdie prys kry nie. Alternatiewelik is daar ‘n aparte Steenberg-spyskaart. Hul webtuiste is: www.foodbarn.co.za en besprekings by die restaurant kan by 021–7891390 gemaak word.
·        By Monkey Valley Resort betaal jy gedurende die winter vir een nag, maar jy kan twee aande oornag. Bespreek by: reservations@monkeyvalleyresort.com
·        In Tokai en by Silwermyn is gewilde bergfietsroetes. Lees meer by die webtuiste van die Tafelberg Nasionale Park: www.tmnp.co.za
·        By die Compass Bakery  (Heron Park, Kommetjie-Hoofweg) koop jy muesli, gemmerkoekies, ystervarkies (lêmingtons), karamelkolwyntjies – kortom, bekende gebak teen afslagpryse.

3 comments on “NEIGINGS IN NOORDHOEK

  1. Anita
    October 13, 2017

    Ek het so pas besluit om my vakansie-planne te heroorweeg! Baie dankie vir die Kaapse draai wat ek nou gaan inweef, Ilse!

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 12, 2017 by in Die res van Suid-Afrika.