ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Banana Jam – Karibiese klapperbier en piesangkonfyt

First published in Die Burger, April 2016

(Since this article has been published some details may have changed)

'n Eilandrestaurant in die voorstad van Kenilworth waar jy kan ontspan, en tapbier drink

‘n Eilandrestaurant in die voorstad van Kenilworth waar jy kan ontspan, en tapbier drink

Net mooi een week en een dag gelede op Dinsdag, 8 Maart 2106, was dit International Women’s Collaboration Brew Day en vir die eerste keer het vroue van die Suid-Afrikaanse bierindustrie meegedoen.

Die samekoms het tegelykertyd in Kaapstad – by die Afro Caribbean Brewing Company op die boonste verdieping van Banana Jam in Kenilworth – en Johannesburg – by Copperlake Breweries in Broadacres – plaasgevind.

Om tienuur, ‘n redelike respektabele tyd om te begin brou, is aan die werk gespring om ‘n ‘pale ale’ (wat as ‘n vrugtige Engelse bier beskryf kan word) genaamd African Queen, vernoem na een van die hopssoorte wat gebruik is, te brou. Die resep is deur die dames wat betrokke was, self uitgedink en dieselfde resep is in Kaapstad en Johannesburg gebruik.

Lynnae Endersby van BeerLab; Anja van Zyl, brouer by Cape Brewing Company in die Paarl; Analize ter Morshuizen van Honingklip Brewery; Chantell van Niekerk van Beerfly Brewery; Karen Collins van Stellenbosch Brewing Company; Mary-Lou Nash, Kaapse Wynmeester, eienaar en wynmaker van Black Pearl en tuisbrouer sowel as gekwalifiseerde bierbeoordelaar; en Lucy Corne  was van die bierliefhebbers wat ywerig aan die werk gespring het.

Brauhaus am Damm, Black Horse, Clockwork, Cape Darling en Two Okes was ook verteenwoordig.

Lucy Corne is 'n vlytbierkenner met haar eie blog wat al twee boeke oor Suid-Afrikaanse bier geskryf het

Lucy Corne is ‘n vlytbierkenner met haar eie blog wat al twee boeke oor Suid-Afrikaanse bier geskryf het

Almal was geklee in wit T-hemde met pienk woorde – ek lees: weissbier, drink local, wheat, barley, homebrew, brewpot – teen die agtergrond van die landkaart van Suid-Afrika.

Om eenuur was daar ‘n kort praatjie oor vroue in die Suid-Afrikaanse brou-industrie, maar natuurlik het bierproe – deur League of Beers geborg – nie agterweë gebly nie.

Die oorspronklike idee was Apiwe Nxusani-Mawela s’n. Sy is die broumeester by Brewhogs in Johannesburg.

Sy verduidelik: “Internasionale Vrouedag val op 8 Maart. Regdeur die wêreld vier vroue op hierdie dag hul diversiteit en wat hul al bereik het. Vroue in die brou-industrie vier die dag deur ‘n ‘samewerkingsbrousel’ te maak.”

Een van die doelwitte is om by meer vroue ‘n geïnteresseerdheid in bier te bewerkstellig. Tegelykertyd is dit sommer ‘n goeie verskoning om te sosialiseer en wenke uit te ruil.

Banana Jam, ‘n Karibiese-styl restaurant, is al vir meer as ‘n dekade en ‘n half aan die gang. Die eienaar het by Shawn Duthie, die wederhelf van Lucy Corne, die skryfster van Suid-Afrika se eerste boek oor plaaslike bier, African Brew, leer brou. Toe die gogga hom eers behoorlik gebyt het, is die Afro Caribbean Brewing Company (ACBC) in November 2015 op die been gebring.

This slideshow requires JavaScript.

By die Rum Shack-kroegtoonbank is daar nie net rum-pam-pam beskikbaar nie. Daar is ook 30 soorte tapbier wat drie of vier van die Afro-Caribbean Brewing Company insluit. Daar is na lang oorweging op dié naam besluit om by die reggae- en Karibiese tema van die restaurant te pas.

Die klapperbier en Bacon Popper Ale (met, ja waaragtig, geure van spek en rissie) is nie net gewild omdat dit iets anders as die gewone is nie; dis werklik verfrissend en proe minder eienaardig as wat dit klink. Jy kan ook Hopsession (‘n pale ale) hier geniet.

ACBC eksperimenteer egter voortdurend met nuwe geurkombinasies. Growler-glaskalbasflesse (twee liter) met bier word ook verkoop.

Daarmee saam eet jy kroeghappies met name soos Coco Loco Hop n Johns, Jerk Mon Pizza of Da Veggie Mon. As jy nog nooit kerriebokvleis geproe het nie, bied Banana Jam jou die kans!

‘n Soortgelyke byeenkoms word onder andere vir Vrouedag op 9 Augustus 2016 beplan. Daar word gehoop om baie meer vroue, hetsy betrokke in die brou-industrie aldan nie, te betrek. As genoeg borge vir die broubestanddele gevind kan word, sal ‘n groot gedeelte van die wins aan liefdadigheid geskenk word.

Die pale ale wat op International Women’s Collaboration Brew Day gemaak is, sal teen vroeg April by Banana Jam beskikbaar wees. Lucy Corne sê die dames se bier beloof tropiese vrug-aromas (deur die hops daaraan verleen) met ‘n aangename bitterbyt te hê.

Vier die smaak van bier:

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 19, 2020 by in Afrikaans foodies and tagged .