First published in Beeld, September 2018
Belgrado is ‘n belewenis
Nie elke stad in die wêreld is ‘n Aspoestertjie wat rééds ontluik het nie. Sommige stede – en daar is heelwat van hulle in die voormalige Oos-Bloklande – het nog nie hul glaspolvye aangeglip en met ‘n koets na die prins se bal vertrek nie.
Dáárin lê egter hul sjarme – dis gehul in verweerde geboue, ongekunstelde inwoners en bekostigbare pryse asook dat jy nie voortdurend omring is deur ‘n roesemoes ander toeriste nie. Jy’t die plek so ‘n bietjie vir jouself – veral as hordes mense jou die hierelielies gee.
‘n Besoek aan Belgrado
Só ‘n stad is Belgrado, die hoofstad van Serwië, wat voorheen deel van die ou Joego-Slawië was. Deesdae ontvang dié stad graag toeriste met ope arms hoewel min mense nog soontoe reis.
As jy – soos ons – by die treinstasie aankom en per huurmotor na die stadskern ry, wonder jy eers waar op deeske aarde jy jou nou bevind. As jy eers verby die woonstelblokke wat uit die kommunistiese era dateer en verwaarloosde geboue gekyk het, kom jy agter dié stad het ‘n hart wat warm klop.
Belgrado is geleë waar die Donou- en die Sava-rivier inmekaar vloei. As jy by die Kalemagdan Fort op ‘n heuweltjie in die middel van die stad staan, kyk jy op dié twee riviere, die Srem-vlakte en Sumadija-heuwels af.
Die keiser – nee, die oorwinnaar – het nie klere nie
‘n Paar tree verder is Die Oorwinnaar-standbeeld, ‘n bronsbeeld van ‘n kaal man met ‘n valk in sy een hand en ‘n swaard in die ander. Die Oorwinnaar staan bo-op ‘n pilaarplatform van etlike meters hoog.
In 1912 het die idee van ‘n monument ontstaan om Serwië se oorwinning oor die Ottomane te gedenk. Oorspronklik sou ‘n reusefontein wat op die rûe van vier leeus rus, opgerig word. Die Oorwinnaar sou binne-in die fontein staangemaak word. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het egter die stadsvaders se planne ontwrig.
Na die oorlog was daar nie genoeg geld om so ‘n monumentale projek aan te pak nie. Die Oorwinnaar, steeds kaalbas, sou sonder sy leeus en fontein moes klaarkom. Sy probleme was egter nog nie op ‘n end nie.
Die Belgradoërs – veral ‘n paar vroueorganisasies – was in rep en roer toe daar besef word dat ‘n naakte man op een van die hoofpleine van Belgrado ‘n staanplek sou kry. ‘n Standbeeld van ‘n kaal man in die middel van die stad sou ‘onbeskof’ wees en die ‘morele waardes van jong meisies’ aantas, is daar betoog. Dus is hy op die Kalemagdan-heuwel staan gemaak.
Deesdae is Die Oorwinnaar een van die meeste besoekte besienswaardighede in Belgrado.
Op jou merke, gereed, koes
Vanaf die standbeeld drentel jy deur die tuine van die Kalemagdan Sitadel tot by die Stambol-poort wat uit 1750 dateer. Aan die ander kant van die poort begroet weermagtenks, kanonne en vuurpyllanseerders jou. Vir ‘n oomblik voel dit of jy ‘n karakter in ‘n oorlogsfliek is en jy moet net keer of jy koes onwillekeurig.
Die Militêre Museum wat Joego-Slawië se geskiedenis uitbeeld, is ook gewild onder toeriste. Die uitstalling van martelinstrumente is nie vir sissies nie; ek erken ruiterlik ek sou in ‘n huilbalie ontaard en het nie my voet in daardie deel van die museum gesit nie.
Laaf jou senuwees met ‘n bier
Die Belgradoërs is lief vir kuier en klets. Hulle is ook versot op hul stad terwyl hulle terselfdertyd al die gebreke van die lewenspasie erken. En soms oordryf.
Die Serwiese skrywer Momo Kapor beskryf sy tuisstad soos volg: “Belgrado is Belgrado. Dis nie Parys wat daarvan hou om met kunstenaars te kafoefel nie. Dis nie Rome met ‘n magdom soeweniers om huis toe te neem nie. Dis nie Moskou, ‘n stad wat mooi vertoon in sneeukoepeltjies(snow globes) met drywende sneeuvlokkies nie.” Belgrado is (net) Belgrado en dis die woorde wat die Belgradoërs sugtend uiter as hulle op Nikola Tesla Lughawe land – dit maak nie saak hoe lank (of kort) hul weg was nie.”
Kapor het ook ‘n waarskuwing vir toeriste. Dit lui so: “Belgrado hou nie daarvan om afgeneem te word nie. Belgrado haat dit om te poseer.” ‘Dis ook omdat Belgrado voortdurend verander, sê hy verder. Dus gaan die stad op jou foto’s na jou besoek heel moontlik nie meer herkenbaar wees nie.
Regdeur die hoofstad is ‘n lewendige sypaadjiekafee- en restaurantkultuur. Aan die onderpunt van Kalemagdan-heuwel lê Knez Mihailova-promenade waar die kuierplekke ingeryg is.
By Chips&Love – Amsterdam wag slaptjips in twintig verskillende geure op jou; Georpaa Café (die Sirilliese letters lyk nie presies so nie, maar dis hoe ons dit gelees kry) is gewild onder koffiedrinkers wat nadergelok word deur teekoppies wat aan linte in die vensters hang; Snezana het heerlike pizza; en Koketa (kyk op Facebook) verkoop prettige juweliersware.
Tussen al die kroegies en uithangplekke is talle kunsgalerye en straatmusikante speel op elke hoek en draai. Jy kan jou verkyk aan die graffiti – en dis oral – hoewel ‘n mens natuurlik glad nie kan uitmaak wat daar staan nie.
Knez Mihailova was nog altyd ‘n gewilde bymekaarkomplek in die stad. Waar die sigeunermusikante nou kitare tokkel, het jafels in die destydse Joego-Slawië soos Clark Gable, Humphrey Bogart of veral James Dean aangetrek en op en af geparadeer. Nie om ‘n aalmoes (oftewel ‘n dinar in hierdie geval) te verdien nie, maar om die meisies te beïndruk of sommer net ‘n bietjie aandag te kry.
In die middel, Siril
In die stadskern van Beograd is alles naby genoeg dat jy kan stap. Vanaf Knez Mihailova loop jy verby nóg koffiewinkels en restaurante tot by Skadarlija (ook genoem Skadarska), die boheemse buurt van die stad. Moenie dat die vervalle geboue jou afskrik nie – dis ook orals.
Dit gaan knor om te kies waar jy tyd wil verwyl om rakija (Serwiese brandewyn) te proe. Knoop ‘n geselsie met die mense by die tafel langsaan jou aan – die kanse is goed dat dit ‘n skrywer, dramaturg of kunstenaar is.
Rakija word van amper enige vrug gemaak – pruime, kwepers, pere, appelkose en natuurlik druiwe word ingespan.
Caffe Bar Perka se naambord verlei jou met ‘n wulpse meisie, ‘n kersie en ‘n veer in ‘n skemerkelkieglas; by Jelovnik sit jy onder ‘n prieel van rooi sambrele; en by Sesir Moj (My Hoed) is geen hoofbedekking in sig nie – in plek daarvan voel dit of jy ‘n blomtuin binnestap met plantbakke waaruit rooi, wit, pienk en pers gesiggies en petunias tuimel.
Voor jy te veel rakija in jou lyf het, moet jy eers aanstap na Zeleni Vejac-mark hoewel dit glad nie op toeriste gemik is nie. By dié mark verkoop boeretannies op wie se gesigte jy kan sien dat die lewe nie altyd maklik was nie, plomp rooi aarbeie, blink eiervrugte, die soetste vars kersies, heuning en rooipepers so lank soos ‘n man se arm wat jy net so rou kan eet. Daar’s toonbanke met kase en vleise en ‘n hanetree weg hang bra’s in bondels langs kombuispanne aan kettings.
Die son sak oor Belgrado
Belgrado het sy eie waterfront op die Suvarivier. Aan die bopunt van Knez Mihailova-promenade draai jy af in Karađorđevastraat en loop bult af na waar jy die rivier kan sien blink.
Op die Suva-promenade is daar verskeie restaurante en skemerkelkkroeë om uit te kies. Terwyl die son oor die rivier sak, word hier land en sand gekuier.
‘n Mede-joernalis wat sy eie reistydskrif publiseer, vergesel ons na die Ambar Restaurant wat sy gunsteling op die Belgradose Waterfront is. Ook maar goed so; ons sou gesukkel het om te kies waarheen om te gaan, want ál die eetplekke het ‘n uitsig op die rivier, eiesoortige dekor en interessante spyskaarte.
Die Ambar Restaurant se leuse is ‘Balkan-kreatiwiteit’ (die Balkan-state – waaronder Serwië – is in die suidooste van Europa). Die geregte wemel van wildesampioene, aarbeie wat in die woude gepluk word, suurroom, rooipepers, beet en prsuta, ‘n tipies Serwiese gerookte ham wat jy eenvoudig net móét proe. Daar word selfs jaarliks ‘n Prsuta-fees in die land gehou.
In elke restaurant waar ons was, was die personeel kinderlik opgewonde om ‘n toeris te kon bedien. Nie almal kan Engels praat nie, maar sodra hulle agtergekom het dat ons wel Engelssprekend is, is die kelner wat die beste kon Engels praat nadergehark en het ons wonderlike diens ontvang.
By Ambar smul ons aan gibanica (veerligte pasteitjies met ‘n feta-en-eiervulsel), ‘n beesvleisgereg met kajmak (‘n tipe roomkaas) en kacamak (die Serwiese weergawe van polenta) as bykos.
Tot weersiens, Serwië
Die laaste woord behoort ook aan Momo Kapor: “As jy in Belgrado woon, is jy vir altyd ‘n vrywillige prisonier van die stad. Die stad betower, maar verklap nooit die geheim agter die betowering nie.”
Dis dié betowering wat ‘n besoeker aan dié stad ervaar.
Terwyl jy in Serwië is
Absolutely love the street art! A definite addition to the bucket list!!!
Also look at the city of Novi Sad, the cultural capital of Serbia, Selma. I recommend it even more than Belgrado, which I also enjoyed of course.