ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dag 2: Die son kom op oor Bordeaux

Op ‘n Uniworld Boutique River Cruise Collection-vaart word nie geginnegaap nie. Jy kán as jy wil, maar daar’s soveel wat jy gaan misloop. Dis dus geen wonder dat daar ‘n geroesemoes van stemme in die Le Bordelais Restaurant op die River Royale is toe ons vir ontbyt aanmeld nie.

Soos elke ander oggend is koffie en gebak al vanaf 6h00 in die Gascogne-sitkamer beskikbaar. Vanaf 7h00 bied die “wellbeing coach” Tihomir joga of strekoefeninge op die dek aan as die weer dit toelaat. Dít – en die gimnasium – is al wat ek nie op die River Royale beproef het nie!

As ek elke oggend se ontbytbuffet moes beskryf, sou ek ‘n paar paragrawe nét daaraan moes afstaan. Daar’s ook ‘n interessante ontbytspyskaart beskikbaar.

Ek begin reeds op Oggend 1 met die gewoonte om die dag met ‘n rolletjie of twee vars salm met kappertjiesaad sowel as plakkies – dit was dalk eerder hompe as ek nou eerlik moet wees – beleë Franse kaas te begin. ‘n Glas of twee Franse sjampanje sorg vir ‘n paar ekstra borrels lewensvreugde in my dag.

Knap voor 9 lig die vaartbestuurder Martin ons in oor wat om te verwag van die res van die week op die riviervaart. Knap na 9 vertrek ons in kleiner groepies na ‘n paar chateaus. Die busrit al met die kronkelpaadjies van Bordeaux langs – die River Royale is vandag by Cadillac vasgemeer – maak alreeds die dag die moeite werd. Na ek nog altyd gedink het dat die Italiaanse platteland die mooiste in Europa is, begin ek nou bedenkinge kry.

Dis die een klipdorpie met platdak klipgeboutjies op die ander – elk met sy eie katedraal. Soms kan jy nie glo dat so ‘n kleine dorpie só ‘n majestieuse katedraal het nie. Vanaf net buite elke dorpie strek die wingerde na alle kante, plek-plek met klipmuurtjies rondom, en die chateaus lê ingeryg. Knyp jouself, Ilse, jy belééf die Franse wynlande.

‘n Deel van Uniworld Boutique River Cruise Collection se modus operandi is om te sorg dat alle ekskursies intiem bly. Vandaar kleiner groepies wat verskillende chateaus besoek waar keldertoere gedoen word en wynproeë geniet word.

Ons groepie besoek Chateau de Myrat. Die kasteel is asemsnak-mooi. Ons staan eers ‘n entjie weg en drink die toneel in terwyl die dogter van die familie wat dié chateau besit – tans is hul twee susters wat die landgoed bestuur – meer van die geskiedenis vertel.

Hierna stap ons deur die tuin waar ‘n kalkoen – wat lyk asof hy eens op ‘n tyd in die Overberg kon gewoon het – ons opsommenderwys beskou. Die binnekant van die kelder is gepas romanties.

DSC_0234

Die grootste bederf is egter die Sauternes-proe. Sauternes is Franse dessertwyn wat in die volksmond en onder wynskrywers as ‘vloeibare goud’ bekend staan.

Nog is het einde niet vir die Sauternes-belewenis. Na die individuele groepies se besoeke aan hul onderskeie chateaus kom almal by Chateau Royal de Cazeneuve bymekaar.

Chateau Royal de Cazeneuve is steeds in familie-besit hoewel die kasteel nou as museum ingerig is.

Elke groepie word knarsend oor die klippertjies van die uitgestrekte binnehof van Chateau Royal de Cazeneuve  gelei na ‘n vertrek waar gedekte tafels op ons wag. In die middel van elke tafel troon ‘n kandelaar bo ons uit.

Na die afloop van 8 dae – Sondag tot Sondag – saam met Uniworld Boutique River Cruise Collection sou hierdie ervaring as een van baie ongelooflike belewenisse uitstaan.

Só het ons spyskaart daar uitgesien:

  • Ribbon of smoked salmon with creamy centre, horseradish emulsion and Yuzu     vinaigrette

Pasmaat-Sauternes: Château de Commarque, Reserve Classique, Sauternes

  • Cilantro caramelized hen supreme with mushroom pastry and asparagus tips

Pasmaat-Sauternes: Château Filhot, Classified Growth of Sauternes

  • Peach melba on a wine barrel stave with crunchy praline, roasted peaches, vanilla whipped cream and chocolate drizzle

Pasmaat-Sauternes: Château La Bouade, Reseve Old Vine, Sauternes

Tydens die ete is daar ‘n gemoedelike stryery oor wie se chateau die mees indrukwekkende was. Na afloop van ons ete – dit was absoluut uit die boeke – drentel almal lui, maar gefassineerd, deur die museum. Die privaat wynkelder is ongetwyfeld die mooiste wat ek nog ooit gesien het.

Die nou kronkelpaadjies – plek-plek kry die bus skaars gedraai – is net te mooi om oppad terug na die River Royale ‘n uiltjie te knip. Terug op die boot – waar jy met ‘n verfrissende jammerlappie en ‘n koel dorslesser ingewag word – stroom amper al die gaste na die La Gascogne-sitkamerkroeg om in die gemakstoele neer te sak. Wat ook al bestel word, is by die pakketprys ingesluit.

Aan die einde van die eerste voldag – op ‘n Maandag na almal die Sondag aan boord gekom het – is dit die kaptein se gala-aandete. Almal is heel uitgevat, maar nie borstoetrek-fênsie nie.

Behalwe vir etes in die Le Bordelais Restaurant kan kleiner groepies van sowat 12 mense ‘n aand in die Claret-kamer – waar ‘n wynproe deur die sommelier aangebied word – of in die Blue Fox, ‘n glaskasvertrek op die boonste dek van die skip, bespreek.

Tydens die ete in die Claret-kamer word dieselfde spyskaart bedien, maar die sommelier Aline lei ‘n wynproe wat terselfdertyd plaasvind. Sy pas die wynproe aan by dit wat die gaste wat om die tafel sit, verlang.

Saam met die nuwe vriende wat jy gou maak, sluit jy elke aand af in die Gascogne-sitkamerkroeg met lewendige musiek of in die soel aandlug buite op die dek. Ons het nie een aand gaan slaap voor ons nie aan ‘n glasie konjak in eg Franse styl geteug het nie.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 8, 2017 by in Bordeaux, ek hou van jou and tagged .