ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Enigmatiese Estland

goud-en-ikoon-versiering-by-n-kerk

My first article as I ventured into freelance journalism in October 2008, as published in the travel supplement of Die Burger. 

Af by ruwe kliptrappe, ietwat donkerder na onder, en dan bevind ons onsself in een van die talle restaurantjies of kuierkroeë. Eeue-ou verhittingspype teen die muur. Eienaardige geregte. ‘n Vreemde taal.

Rooi, langwerpige teëldakke. Dun kerktorings orals tussenin. ‘n Dominikaanse klooster met ‘n romantiese binnehof. Middeleeuse uitkyktorings op die stadsmure. Een genaamd Fat Margaret. (Vet Magriet?) ‘n Ander Kiek in de Kok wat ‘Loer in die Kombuis’ beteken. Ons kan nie agterkom hoe ‘n kombuis met ‘n wagtoring skakel nie.

scan0031

Saal die mal perd (lees: trein) op en verken die Oos-Blok. As jy in Helsinki, hoofstad van Finland, begin, kan jy met moeite en senuwees van staal jou pad deurwerk tot in Turkye! As jy nie so baie tyd of dalk domme waagmoed het nie, sal Estland (ook genoem Estonië), voorheen ‘n provinsie van Rusland, jou oorgenoeg bied. ‘n Silja-veerboot van Helsinki na Tallinn, die hoofstad, neem sowat 90 minute. Goedkoper veerbote neem hoogstens vier uur tussen die twee stede.

Bewuswording van Estland in die Westerse wêreld het begin met hul stryd vir onafhanklikheid van die Sowjet-Unie in 1991. Tot en met 1960 is geen buitestaanders toegelaat om die land te besoek nie – direk na hul afstigting het almal saamgespan om hul grys, vervalle omgewing te herskep, maar terselfdertyd die oorspronklike karakter van vervloë tye te behou. Die resultaat is ‘n Ierse kroeg (baar in Estonies) op ‘n plein, neffens daarvan ‘n fassinerende ou apteek, om die hoek ‘n plaaslike restaurantjie met ‘n kinderorkes van Helsinki wat die buite-tafeltjies vermaak. ‘n Paar blokke verder dien ruïnes as herinnering aan die bombardering deur die Sowjet-Unie in 1944. Volgens die Bradt-reisgids was Estland een van die vinnigste hervormers in hierdie deel van die wêreld na die val van die Ystergordyn.

Jy kan jouself verloor in die aangename doolhof van Ou Tallinn, ook genoem Vanalinn. Tallinn beteken Deense Stad of Kasteel en dateer uit die 1200’s toe Denemarke ‘n groot deel van Estland beset het.

Gebruik die 27-verdieping Hotel Viru – hier ruil jy ook geld teen billike tariewe – as jou baken, stap oor die besige Virustraat en deur die ou stadspoort, Viru Varav. Straatjies in Vanalinn dateer uit die 1300’s en is gelyk met die kerktorings van All-linn, die sogenaamde onderdorp. Hou in gedagte dat die uitleg van die Ou Stad ovaalvormig is en dat daar vier hoofstrate is – erg verdwaal kan jy nie, want dis klein genoeg om te sorg dat jy vinnig weer ‘n bekende of prominente gebou sal raaksien. Vana Thomas (Ou Thomas) kyk vanaf die dak van die stadsaal oor Ou Tallinn. Die stadsaal is tussen 1371 – 1404 gebou en is die oudste in Europa.

Verskeie sypaadjie-kafees op die hoofplein, Raekoja Plats of Stadsaalplein, bied atmosferiese sitplek vir asemskep en ‘n vinnige koffie. Volgens legende was die wêreld se eerste Kersboom hier te sien, in 1441. Oorkant die Gotiese stadsaal is ‘n apteek wat uit die 15de eeu dateer. ‘n Kruieagtige bier Olü word by Tristan en Isolde waar die eienaar graag geselsies maak, verkoop. Dalk omdat dit ‘n gewilde uithangplek vir die Tallinners is…

Eienaardig genoeg is daar verskeie Ierse kroeë. Meer outentiek is die kelderkroeeë waar van gryskop-omies tot rock-tieners aan biere suig. Laataand is Raelclarett, ‘n tipe digestief waarvan die resep in die stadsaal se fondasie gevind is en wat uit 1641 dateer, gewild.

Katarina Kaik is die mooiste en kleinste straatjie in Tallinn. Eintlik ‘n half-donker stegie, en weinig langer as ‘n paar treë. ‘n Klipboog oor die nou straatjie, ‘n geskenkwinkel waarvan min weet, ‘n privaathuisie of twee, ‘n ingang met ‘n onverwagte Italiaanse naambord. Soek sal jy soek voor jy daarop afkom, het ons gevind. En terwyl jy aan die verken is, stap ook in die nou, kronkelende Broodstegie af.

Kerkliefhebber aldan nie, Alexander Nevsky Katedraal op Lossi-Plats (Lossi-plein) is ‘n moet, ‘n asemskep-oomblik. Elke vierkante sentimeter is ryklik versier met antieke ikone, mosaïekdetail, ‘n kerkklok wat 15 ton weeg en verder goud orals. Ander kerke wat die moeite werd is om te besoek, is die bekende Sint Olaf met sy hoë dun kerktoring, die Russies-Ortodokse Sint Nicholas, Toomkirik op Kiriku-plein, Pühavaimu die Heilige Gees Kerk met ‘n kerktoring wat uit die veertiende eeu dateer en laastens Sint Charles. Nie ver daarvandaan nie is die Dominiiklaste – klooster wat uit 1246 dateer. Op ‘n Sondagoggend sien ons ‘n seuntjie in ‘n kerktoring die swaar ysterklepel swaai om die kerkklok met ritmiese slae te laat lui.

Cliché aldan nie, Tallinn maak ‘n onuitwisbare indruk. Die Ou Stad, ‘n UNESCO -wêrelderfenis, slaan jou asem weg. Hágár die Verskriklike kon hier plundertogte uitgevoer het! Die duisendjarige bestaan van Ou Tallinn is gevul met legendes en mites.

Die Kommunistiese invloed is nog hier en daar te bespeur. In die oudste koffiewinkel Maiasmokk staan oud en jonk outomaties in rye as hulle binnekom alhoewel daar drie dames is wat klante gelyktydig bedien. Die naam beteken ‘soettand’ en die plekkie bestaan reeds sedert 1864. Bestel ekleer, Estlands of Estonies vir éclair; kapsa pirukas, ‘n tipe souttertjie met seldery; of die lekkerste van alles, kook biskvuit kreemi, ‘n tipe sjokoladerol en betaal R44 vir al drie lekkernye saam met koffie.

‘n Amerikaner wat ‘n restaurantjie op die hoofplein besit, vertel dat sy ouers jare voor die kommunistiese oorname gevlug het. Hulle is reeds oorlede, maar hy het nou na sy wortels teruggekeer, iets waaroor hy nog altyd gedroom het. Soek hom op en drink ‘n miniskule glasie Vana Tallin, ‘n kruieagtige likeur wat jy nêrens anders kry nie.

Hy vertel van ‘n middeljarige omie wat niks anders as die kommunistiese stelsel ken nie. Na die oorgang na kapitalisme koop hy ‘n baadjie. Twee maande later is die prys van dieselfde baadjie op ‘n uitverkoping sowat ‘n derde minder. Groot was sy ontsteltenis en onbegrip, of so lui die storie, toe die winkel nie vir hom die verskil wou teruggee nie; hy kon klaarblyklik net nie die konsep van ‘n uitverkoping verstaan nie. Slegs diegene bo 75 het ooit ‘n ander bestel as die vorige sosialistiese bestel geken.

tradisionele-truie-word-verkoop

Om alles te ervaar en binne loopafstand te wees, is die ou deel van Tallinn die plek om te bly. Nou klipstegies, ondergrondse restaurantjies en kroegies, nou regop helderkleurige geboue, spits dakkies en popspeel-geweltjies sorg vir onophoudelike oe’s en aa’s gedurende die dag. Kameras zoem in op versierde deure, die stadsaal se blou en geel sonversierde horlosie en driehoekige vooraansigte van hout en staal op oeroue geboue. Wat lyk na moderne Disney-agtige detail op geboue, dateer uit die dertiende en veertiende eeu, kom ons agter sodra ons die gewels van nader beskou. In my reisdagboek lees ek: “die outentiekste kobbelsteenstrate wat ek nog gesien het” en ek onthou oneweredige buksie-stene soos uit kinderboeke.

nog-n-straatjie-in-ou-tallinn

‘n Mens verwag enige oomblik dat ‘n gepantserde ridder klak-klak-klak om ‘n hoek geloop sal kom. Of dat ‘n paar perde, tossels en al, op die klipstene verby sal gallop. Daarenteen is die moderne deel van die stad onindrukwekkend en relatief onontwikkel, verstaanbaar as onthou word dat dit tot 1991 nog onder die kommunistiese regime was. Verskeie Toyota-agentskappe val die besoeker op die oog, ‘n duidelike teken van nuwe tye.

In duidelike kontras hiermee is skade deur ysterkanonballe sigbaar op die mure van Kiek in de Kok; binne is ses verdiepings waar kuns en geskiedkundige uitstallings afgewissel word. Kyk by die dun langwerpige venstertjies regoor die hele Tallinn uit. Stap verder na die Toring van die Maagd waar hoõgvinn, amper soos glűhwein, bedien word.

Met die aanvang van kommunisme is baie Estlanders na Siberië gestuur waar baie gesterf het óf oppad soontoe óf in die werkkampe. In my dagboek lees ek na die tyd: “In my verbeelding sien ek hierde plek, veral die mense, in swart en grys onder die Russiese bewind, en as oranje, groen, blou, geel, pienk onder die huidige bewind.”

Estland is bekend vir glas. Orals is glaswinkels en kunsgalerye. Dik gebreide truie is by stalletjies wat deur plaaslike vroue beman word, te koop. Net langsaan is ‘n kleinerige blommemark. Op Raekoja Plats word allerlei op someraande verkoop terwyl Estlanders volksliedjies sing en ‘n danspassie of twee ook gesien kan word.

Die winkel van die keramiekkunstenaar, Helina Ttik, is ‘n moet. Verder is daar takbokleerhandsakke, fyn etse van die ongelooflike argitektuur, laslappie-items soos wat hier by ons op kerkbasaartafels gesien word, houtspeelgoed en Russiese matrioshka-poppies.

Goedkoop slaapplek kan ietwat van ‘n probleem wees – dis nou vir die rugsakreisiger wat ‘n geldjie vir inkopies wil oorhou. Hier was ‘n hotel te duur, daar sou ‘n koshuis eers oor ‘n paar dae vir die vakansieseisoen oopmaak. En toe… dubbeldekkerbeddens by ‘n plaaslike familie teen R84 per nag per persoon. Was dit nie vir ‘n vriendelike huurmotorbestuurder nie, sou ons heelwat meer gesukkel het. Met die familie (‘n Estlandse vrou en ‘n Belariese Rus) kon ons glad nie kommunikeer nie, maar gebaretaal is mos universeel en ons verblyf word ‘n ondervinding opsigself.

Voorlangs in die langwerpige huis, bloot Hostel genoem, is een kamer omskep vir rugsakkers en meer agtertoe, af met die gang, was een badkamer vir tien mense. Nog ‘n entjie verder af in die gang is kamers aan plaaslike loseerders verhuur. Saans drink almal eindelose glase wodka en laataand probeer hul in erg geradbraakte Engels geselsies met ons aanknoop.

Baie vis, veral haring, word in restaurante bedien. Omelette en pannekoeke is ook op baie spyskaarte te kry. Ons lekkerste maaltyd met salm as voorgereg, lam as hoofgereg en druk-jou-vinger-op-die-spyskaart wyn was by Teater Restoran met Pierrot-agtige maskers teen die mure. Jazzerige blues tienkeltonkel in die agtergrond en dit voel so half of jy in ‘n grot eet, alles teen ‘n baie bekostigbare prys.

By Ye Olde Hansa word Middeleeuse heuningbier by kerslig bedien, daarmee saam ongewone patees. Hier word luid en entoesiasties gekuier. Nog ‘n plek om te probeer, is die knoffel-restaurant, Balthazar.

 by-n-middeleeuse-restaurant

Kos insluitend wyn is oor die algemeen, selfs vir Suid-Afrikaners, goedkoop. Suid-Afrikaanse wyne soos Laborie, Neethlingshof, Stellenzicht, Warwick en KWV was tot ons verbasing op twee of drie spyskaarte te sien en dit teen pryse wat afstand-ingenome, nie te astronomies was nie. Verken die stegies en jy kom op Cape Town Vinoteek af wat niks met Kaapstad te doen het nie, waar slegs Estlands gepraat word en waar slegs twee van ons plaaslike wyne was. Sover ons kon vasstel, het hulle nie ‘n idee gehad waar ‘Cape Town’ is of wat dit beteken nie!

Estland is koud selfs in die somer. Die gemiddelde temperatuur in Julie is 16 grade Celsius, maar dit kan so laag daal as 5 grade. Selfs 16 grade voel heelwat kouer as die ekwivalent hier by ons – pak dus ‘n trui of twee in. En die laagste temperatuur nog gemeet is minus 32 grade!

Reismomente in Estland sal jou vir ewig bybly. Die eerste oopmond-vergaap instap in die Ou Stad. Saku bier in bleek sonlig op die mooi Stadsaalplein, Raekoja Plats. Die Tiksit kinderorkes van Helsinki op die hoofplein. ‘n Donker winkeltjie gevul met religieuse ikone. Laatnagwandelinge deur klipstraatjies in die helder maar tog sagte lig van Wit Nagte. ‘n Golden Dragon bier in Baar Bremeni. Vinu-straat, Pikk-straat en Vanaviru-straat met hul diep, breë klipingange met Wiking-hekke wat na soliede binnehowe lei. Musiek uit die sewentiger- en tagtigerjare wat by deure uitspoel – toe was dit verban, nou is dit in.

Net twee dinge waaroor ek spyt is – ek het nie Estlandse musiek gekoop nie en daar was nie tyd vir een van hul kenmerkende saunas nie. Om oplaas Estland te sien – iets waaroor ek al jare lank droom – het weinig meer as beplanning en opgewondenheid geverg. Miskien ‘n titsel deursettingsvermoë om alles deur te voer.

Min toeriste besoek Estland, wel heelwat dagbesoekers, Finne en andersins, van Helsinki. Vir hoe lank dit so gaan bly, is ‘n raaisel, soveel te meer rede om dit nou te gaan ontdek.

 

One comment on “Enigmatiese Estland

  1. Hester bosman
    February 2, 2017

    Wunderbaar!! Dankie 😇

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 1, 2017 by in Europa.