ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Lekka, lekka ywe … en kool, tamaties en kruie

First published in Die Burger, November 2019

(All photos supplied by Rogz)

Paul Fuller spog met boerbone uit die tuin van Rogz Farm

Paul Fuller spog met boerbone uit die tuin van Rogz Farm

Sit jou voet op die briek! Slaan rem aan!

Ek kan nie glo wat ek gesien het nie. In die omtrek van die Rogz-troeteldierprodukfabriek in Omuramba Besigheidspark in Montague Gardens net buite Kaapstad is die sypaadjies oortrek met groente wat welig en netjies groei. Dit wemel van beet, kool, uie, blomkool, spinasie, ment en vinkel.

Rogz Farm - dis 'n lewenstyl

Rogz Farm – dis ‘n lewenstyl

Die beddings lê sag op die oog, want die verskillende gewasse is saamgeplant, nie elk op hul eie afgemerkte lappie grond nie.

Elke stukkie grond binne die fabrieksgronde wat nie as parkering dien, is ook benut en alles wat geplant word, kan geëet word.

Daar’s perske-, avokadopeer-, appel-, vye- en olyfbome, roosmarynstruike, patat- en pampoenranke, broccoli, bok choi, elke soort krui en blaarslaai waaraan jy kan dink en selfs die meer onbekende okra, ‘n groentesoort wat gewild in Noord-Afrika en die Midde-Ooste is, en ‘n waterbessieboom sodat die voëltjies ook iets het om te eet.

Die span by Rogz is James Bowman, Irene Raubenheimer, Paul Fuller en David Moloto

Die span by Rogz is James Bowman, Irene Raubenheimer, Paul Fuller en David Moloto

Hierdie stadsplaas is die trots van Paul Fuller, die medestigter en direkteur van Rogz. Hy raak liries oor groente en tuinmaak. Dalk is die spreekwoordelike saadjie geplant toe hy landbou en wynmaak by Elsenburg Landboukollege gestudeer het.

Rogz vervaardig van halsbande, harnasse, kosbakke en speelgoed vir honde tot halsbandjies en sagte, igloe-beddens vir katte. Die maatskappy is in 1995 gestig en voer tans “die wêreld se koelste troeteldiertoerusting” na 90 lande uit.

Paul Fuller sê egter hy raak baie meer opgewonde oor die grenadella wat teen die gebou oprank en by sy kantoorvenster inloer as oor ‘n groot bestelling uit Switserland, Holland of Kanada, die lande – behalwe Suid-Afrika – waar Rogz die meeste besigheid doen.

Net mooi op die dag wat ek by Rogz besoek aflê, moet die laaste ranke van die grenadella verwyder word. Die grenadella is so oud soos die groentetuin – ‘n volle sewe jaar oud. Grenadellas het gewoonlik ‘n leeftyd van sowat ses jaar; dus is dit tyd om nuut te plant.

In die sewe jaar wat dié tuin al aan die gang is, was daar nog net twee insidente wat van die groente voete gekry het.  ‘n Lunsriem is betrap wat ‘n swartsak vol groente gestop het en op ‘n stil Sondag het die sekuriteitspersoneel ‘n kansvattervrou betrap wat haar motor se kattebak vol groente kom laai het.

Aan die begin het die omringende besighede – asook sy personeel – gedink hy saal ‘n mal perd op, vertel Paul.  Die personeel het aanvanklik gedink dis ‘n vermorsing van tyd; deesdae dra almal teesakkies en vrugteskille vir kompos aan.  Só leer hulle ook aan hulle kinders hoe om tuin te maak en waarom dit belangrik is.

Dit het nie lank geneem voor die fabriekseienaars en -personeel rondom hom saam met hom entoesiasties oor die projek geraak het nie.

Een keer per week word daar vir die 200 werknemers ‘n maaltyd uit die Rogz-tuin voorberei. Hulle neem ook groente vir gesinsmaaltye huis toe. Die sekuriteitspersoneel wat in die omgewing werk, kom haal gereeld spinasie om by hul umfino, ‘n mieliepapgereg, te eet. Verder dra die tuin by tot ‘n paar skole se voedingskemas.

Dit gebeur gereeld dat iemand uit die bloute stilhou en vra of hulle van die groente en vrugte kan kry. Onlangs het ‘n vrou kom boerbone afpleit; haar verweer was dat sy van Italiaanse afkoms is en volgens haar gaan dit met ‘n voorliefde vir dié peulgroente gepaard.

Die Rogz-tuin het drie permanente tuiniers wat die tuin, wat 100% organies is, in stand hou. Andre Williams bestuur die tuin van begin tot einde: saad word geoes, saailinge word geplant en wanneer die saailinge groot genoeg is, word dit uitgeplant. Twee tot drie present van die bloeiwyses of ‘groenteblomme’ word net so gelos sodat dit bye kan lok.

“Jy moet die oulike liewenheersbesies in ons tuin sien!”, raak Paul van voor af opgewonde.

Drie uilhuise teen die fabrieksmure sorg dat dit nie nodig is om muisvalletjies op enige plek neer te sit nie.  Sedert die droogte wat tot onlangs die Kaap gekniehalter het, het hulle ‘n boorgat laat sink; sedertdien gebruik hulle slegs boorgatwater vir die groentetuin.

Enigiemand kan tuinmaak, volgens Paul. Sy raad is om met een vierkante meter tamaties te begin. Dis so maklik soos om botter op ‘n heelmielie te eet.

Weet jy wat jy alles met tamaties kan doen? Hy antwoord sy eie vraag voor ek nog ‘n woord kan uitkry. Pastasous!  ‘n Tamatiesous gegiet oor zucchini! Niks kom by rooipeper-en-tamatiesous oor botterskorsieravioli nie!

Het jy geweet ‘n mens kan vinkelblomme (dis nou behalwe vinkelbolle) eet?! Dit proe soos anysborreltjies wat in jou mond ontplof.

‘n Mens kan sommer hoor Paul Fuller is ‘n passievolle kok. Sy groentetuin het hom geleer om kool, waarvoor hy nooit lief was nie omdat die reuk van kool hom afgesit het, te eet. Hy is gek oor zucchini.

“Ek eet die piepkleintjies net so; as hulle net ietwat groter is, smaak hulle anders; ek kook met die gewone groottes en van die laastes maak ek sop”, deel hy wenke en resepte uit. “Moenie vergeet van die goeie ou patat nie”, maan hy verder.

Uit sy kantoor kan Paul sien hoe mense by Rogz se groentebeddings verbystap. Dit val hom nog steeds, na al die jare, op hoe mense met ooglopende gebare daarna wys en hoe almal “met respek” daarna kyk. Die welige groenigheid het die omgewing waar mense werk, verander.

Om Omuramba Besigheidspark meer omgewingsvriendelik te maak, was een van Paul Fuller se oogmerke toe hy die stadstuinprojek aangepak het. Die ander twee doelwitte was om ‘n voedselbron en ekstra werk te skep. Aldrie sy oogmerke het in klinkklare sukses geëindig.

Al wat nie so goed uitgewerk het nie, is die hoenders wat Paul ook by Rogz probeer aanhou het, vertel hy laggend. Uit die vyftien kuikentjies was tien haantjies! Hulle gekraaiery het almal mal gemaak. Die hoenders moes gaan; die groentetuin is daar om te bly.

  • Kyk na The Rogz Farm op youtube: https://www.youtube.com/watch?v=z0a6juhZ5bc
  • Kyk waarmee jy vir Wagter of Kietsie kan bederf: rogz.com
  • Lees Paul Fuller se wenke hoe om met ‘n korporatiewe groentetuin te begin in: Jane’s Delicious Urban Gardening – Sustainable City Living deur Jane Griffiths, verkrygbaar by Yuppiechef

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 1, 2020 by in Iemand - of iets - wat my fassineer and tagged .