ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Oom Jan sny koring op die land

First published in Rapport, June 2021

Behalwe vir die grootte lyk die plaasimplemente by die Koringmuseum soos speelgoedkarretjies

Die eerste koring in Suid-Afrika is op 3 Julie 1652 in die Kompanjiestuin in Tafelvallei gesaai met saad wat vanaf Nederland saamgebring is. Hendrik Boom, Jan van Riebeeck se tuinier, het toenterjare opdrag gekry om benewens groente ook ‘n paar akkers koring te plant.

Só vertel Gawie Richter in sy boek “Geskiedenis van die Koringbedryf – Vanaf Tafelvallei tot die Rooi-Karoo 1652-2009”.

Hy vervolg: “Koring, in die vorm van beskuit, was van die belangrikste voedsel op die skepe. Dit was in die Nederlandse volksmond as ‘skeepsbroot’, ‘hartbroot’ en ‘tweebacken’ bekend.”

Daureen Cederas, museumassistent van die Koringbedryfmuseum op Moorreesburg

Synde nog nooit van die Rooi-Karoo gehoor nie, vra ek vir Daureen Cederas, museumassistent van die Koringbedryfmuseum op Moorreesburg in die Swartland, waar op deeske aarde die Rooi-Karoo is.

Daureen Cederas

Dis in Piketberg se omgewing, lig sy my in. Dis die laaste deel van die Swartland waar kommersiële koringlande ontwikkel is.

Benewens die Swartland word koring in amper elke provinsie in Suid-Afrika verbou.

Skei die koring van die kaf

Tydens ‘n besoek aan die Koringbedryfmuseum op Moorreesburg – een van net twee koringmuseums in die wêreld – borrel Daureen Cederas oor van inligting oor die Suid-Afrikaanse koringbedryf in die algemeen en spesifiek oor koringverbouing in die Swartland.

Die Koringbedryfmuseum op Moorreesburg

Die Swartland word geken aan hul broodkoring en staan hoeka as die broodmandjie van Suid-Afrika bekend, hoewel die Vrystaat ook op hierdie titel aanspraak maak.

Die lengtedeursnit van ‘n koringkorrel

Sy verduidelik meer oor die tipes koring wat ‘n mens kry en hoe dorsvloere gebruik is; daarna volg ‘n interessante biologieles oor die lengtedeursnit van ‘n koringkorrel. Ek hang aan haar lippe.

Hiert, kyk hoe kyk so ‘n muil vir my!

Terwyl ons verby ‘n lewensgrootte muil na die negosie- en smidswinkel aanstap, vertel Daureen dat die Koringbedryfmuseum in 1978 (met die hooftema “Om die koringbedryf in al sy variante vorme van die koms van die koms van Jan van Riebeeck uit te beeld”) amptelik geopen is. Dié museum is in die pragtige ou NG Sendingkerkgebou van Moorreesburg gesetel.

Moenie die koring saam met die kaf weggooi nie

Ek herkou nog aan die lekkerte van nuwe woorde soos boesel en skepel (maatkissies van ongeveer 30 en 23 kg onderskeidelik), mudsak (drie boesels maak een mudsak vol), jaag- en biesiebesem, dop- en lithark, koringharp asook paalmeule  met twee wieke en tipies Nederlandse toringmeule met vier wieke toe ons ‘n skuur met trekkers en dors- en snymasjiene binnestap.

Party van die oesmasjiene lyk soos helderkleurige dinosourusse en ‘n pienk en rooi Ransomes-houtbakdorsmasjien (glo dit of nie – dit is die oorspronklike kleur!) herinner aan die Spirit Train wat al op Afrikaburn deur die Tankwa-Karoo getjoekepakke het. As jy van steampunk hou, moet jy ‘n draai by die Koringbedryfmuseum maak!

‘n Gitswart stoomketel lyk óók soos ‘n treinlokomotief. Die dorsmasjien is in vervloë dae met leerbande aan die stoomketel gekonnekteer. Vooraf is die stoomketel halfpad opgevul met water. Die oond van die stoomketel is met mieliestronke gestook; in later jare is steenkool gebruik.

Nie elke plaas het oor sy eie dorsmasjien beskik nie. Dorsmasjiene is oor en weer geleen of verhuur.

Oestyd was ‘n tyd van intensiewe arbeid; die koring moes so gou as moontlik afkom en brande was ‘n voortdurende gevaar omdat alles droog was.

‘n Vergete FAK-liedjie kom by my op: “Oom Jan sny koring op die land, dis geel en lyk soos goud. Hy tel sy sente oor en oor, as hy die dorsmasjien hoor. Lekker sjakka sjakka doef, ghwarra doef soef doef…”

Wie se brood ek breek,wie se woord ek spreek

Daureen Cederas werk al meer as 20 jaar by die Koringbedryfmuseum. Toe sy in 2001 by die museum aansoek gedoen het, was ‘n voorvereiste dat sy moes kon brood knie! Dit het ook in haar guns getel dat sy drie tale magtig is.

In die museum se negosiewinkel is die rakke tjok en blok vol

“Kom maak jou eie stokbrood hier by ons,” nooi sy vriendelik. “Ons gee vir jou die deeg in die vorm van ‘n balletjie. Dan maak jy jou eie deegwurmpie wat jy om ‘n stok draai. Na tien minute oor die vuur is jou stokbrood reg vir smul.”

En smul het ek inderdaad, sodanig dat die botter en stroop teen my arms afgeloop het.

Met passie verklaar sy: “Die artefakte in die Koringbedryfmuseum het met verloop van jare vir my soos babas geword. Dié babas het spesiale versorging nodig. Dit moet vir die volgende generasie bewaar word.”

                                                               ***

Die Hepburn-koringmuseum in Kanada

Die enigste ander museum ter wêreld wat slegs aan koring toegewy is, is die Hepburn Museum of Wheat in Saskatchewan, Kanada. Leer meer by: https://www.tourismsaskatchewan.com/listings/1300/the-hepburn-museum-of-wheat

In Switserland is daar ‘n brood- én koringmuseum met hul eie restaurant: https://maison-ble-pain.com/

                                                               ***

Die vroeë geskiedenis van koring

Die antieke Egiptenare het geglo dat alle mense kannibale was totdat die god Osiris hulle gewys het hoe om gewasse aan te plant.

Volgens legende het die Griekse godin, Demeter (die Romeine praat van die godin Ceres), koringkorrels aan ‘n priester gegee en só het die gawes van landbou en beskawing na alle mense dwarsoor die wêreld versprei.

Oorblyfsels van koring wat uit om en by 8 000 v.C. dateer is al in Sirië opgegrawe en in Irak is koringkorrels van om en by 6 750 v.C. gevind.

                                                              ***

Weet voordat jy gaan

Die Koringbedryfmuseum is in Hoofstraat 134, Moorreesburg. Toegang kos R10 vir volwassenes en R5 vir kinders en seniors. Die tye is Maandag tot Donderdag 08:00 tot 16:30; Vrydag 08:00 tot 16:00 en naweke slegs per afspraak. Die museum is 100 km vanaf Kaapstad en ideaal om by jou blomkykroete by te werk. Bespreek vooraf om jou eie stokbrood (met botter en stroop) teen R10 per persoon te maak.

In die Koringbedryfmuseum van Moorreesburg is iets van alles

“Geskiedenis van die Koringbedryf – Vanaf Tafelvallei tot die Rooi-Karoo 1652-2009” deur Gawie Richter is teen R220 by die museum beskikbaar.

Daar is baie te sien en te leer by die Koringbedryfmuseum in Moorreesburg

2 comments on “Oom Jan sny koring op die land

  1. Tannie Frannie
    March 15, 2022

    Wonderlike ou masjiene! Ek is so bly dit word mooi opgepas.

  2. ilsez
    March 15, 2022

    Dit was regtig iets om te sien. En, die kleure was so modern en funky, Tannie Frannie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 15, 2022 by in Die res van Suid-Afrika.