First published in Die Burger, July 2013
(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)
Dis nie vir almal beskore om ‘n huisie by die see te hê nie, soos Laurika Rauch so gevoelvol sing.
Of dit nou ‘n mooiweersdag met plat, blink water of ‘n stormagtige dag met skuimende golwe wat breek en seesproei wat waai, is, die see doen iets vir bykans almal se siel. Soveel te meer as dit gepaardgaan met ‘n uitgerekte middagete te midde van goeie geselskap wat nie net oor die Kaapse wispelturige weer gaan nie.
Op Struis se kaai
By Pelican’s – vernoem na Sakbek, die mak pelikaan, wat aan ‘n ontydige skietdood gesterf het – sit jy ‘n klipgooi weg van die vissersbootjies en tjakkies. As die vis loop, word dit neffens die afskorting wat die restaurant van die kaai skei, afgelaai. Soos van ouds vat elke visser aan kant van ‘n bak en saam vorm hulle ‘n menseketting wat die swaar visbakke aandra.
As jy jou kop links draai, sien jy die bote in- of uitvaar vanaf die sleephelling. As jy jou kop regs draai, sien jy die hoopvolle hengelaars wat al die pad tot by die mini-vuurtorinkie staan.
As jy van hier rond is, sluk jy eers aan die knop in jou keel as jy die huldeblyk aan DC Giliomee, die eertydse eienaar, sien. DC se vrou, Marina, en dogters, bedryf deesdae hierdie uiters suksesvolle eetplek sonder fieterjasies. Een skoonseun, Fraser Crighton, is ook deel van die besigheid – verder brou hy Fraser’s Folly Pale Ale by die mees suidelike brouery in Afrika
Kies of jy op die knikkie of ampertjies gelyk met die bote aan die onderkant, wil sit. As jy haastig is, kan jy binne gaan bestel. As jou tyd jou eie is, kry jou sit.
Op die spyskaart is van (wettige) perlemoen tot knoffelmossels, ‘n seekospan en ‘n viskoekieburger. Die wynlys fokus op plaaslike wyne soos First Sighting en Black Oystercatcher.
Die restaurant se kat – wat onder andere Peli-Cat heet – kom skuur vryerig wanneer dit haar pas. Lek na die tyd aan ‘n draairoomys van langsaan terwyl jy op die kaai ronddrentel.
Skuins oorkant die Ou Hawe
As See en Sand se lenige lewensredders-in-wording verbydraf, sê Celia Rabie met ‘n stoute vonkel in die oog dat hierdie fees vir die oog spesiaal deur Burgundy georkestreer word. As ek kyk na die presisie en aandag aan detail waarmee hierdie restaurant deur Celia en Rayno Rabie bedryf word, is die idee dalk nie so vergesog nie.
Onder sambrele op ‘n ietwat verhewe terras spring die dolfyne en walvisse asof hulle ook in diens van Burgundy is. Burgundy se plaaslike kliënte oe en aa steeds gereeld asof hulle hierdie waterkaperjolle vir die eerste keer beleef. Niemand sou die buitelandse toeriste verkwalik as hul sou vermoed dat dit om hul onthalwe juis só geskied nie. As die dag nie te dynserig is nie, kan jy selfs die speld van die Danger Point Vuurtoring in die verte sien.
Net oorkant die pad is die Ou Hawe wat in al die jare nog nooit ‘n greintjie van sy romantiek verloor het nie. Stap voor ete hier ‘n draai om ‘n aptyt of te wek; andersins na ete om van ‘n paar kalorieë ontslae te raak.
‘n Eethuis by ‘n hawe
Hawens, klein of groot, word nie met elegansie vereenselwig nie. By Kalkbaai se hawetjie word vis gevang, gevlek en gedroog. Net mooi hier waar die gevlekte vis met sout besprinkel en aan wasgoeddrade gehang word, is parkeerplek (as jy vroeg genoeg arriveer). Adem die seelug en visreuk in voor jy die trappe oploop na ‘n koel wit oase met bakke proteas en langstingelorgideë.
Van bo kyk jy aan die een kant oor die see in Simonstad se rigting; aan die ander kant kyk jy oor die visvlekkers en die vissersbote met Kalkbaai se hoofstraat as tafereel daaragter. As jy regdeur die restaurant loop, begroet die kaai jou sodat jy van hier die visbedrywighede én die oseaan kan dophou terwyl jy smul. Want hier smul jy – Harbour House is net so bekend vir dit wat hul voorsit as vir die benydenswaardige posisie van hul restaurant.
‘n Sandstrand in die stad
Waar op dees aarde kry jy nog ‘n restaurant wat met ‘n privaatstrand spog? Gee maar op – jy gaan nie sommer aan nog so ‘n plek dink nie.
Grand Cafe & Beach in Grangerbaai is sekerlik die beste restaurantbestemming – natuurlik veral in die somer – in die Skiereiland.
As jy nie hiernatoe gaan net om gesien te word nie, skop jy jou skoene uit en wikkel jou tone in die los wit sand. Soms is hier Zanzibari-beddens om op te sitlê; ‘n Dali-geïnspireerde lipsofa waar jy kan poseer; of witrottangstoele waarin jy kan terugleun. Dis moeilik om te glo dat hier eens net ‘n ou blikskuur gestaan het.
Aan die een kant lê Robbeneiland; aan die oorkant wink Bloubergstrand. Seiljagte seil verby; ‘n vinnige bootjie met ‘n skipper in ‘n manelpak laai hotelgaste af. Die Waterfront is letterlik om die draai as jy iets nodig het voor jy huiswaarts keer.
Hoe kry ek nou heimwee na ‘n perlemoenfees op die Ou Hawe, vele dekades gelede…
Ek kan doen … met ‘n perlemoen!