ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kaap Agulhas Vuurtoring vier 166ste verjaardag

First published in Die Burger, March 2015

Agulhas-vuurtoring is soos Egiptiese een

Die Agulhas-vuurtoring in al sy glorie

Die Agulhas-vuurtoring in al sy glorie

Op Sondag, 1 Maart  2015, het Kaap Agulhas Vuurtoring – aan die mees suidelike punt van Afrika – verjaar.

Dit was net mooi 166 jaar gelede wat die lig by hierdie tweede oudste werkende  vuurtoring in Suid-Afrika die eerste keer op 1 Maart 1849 aangeskakel is.

Sedertdien dien die suidpunt se vuurtoring as waarskuwingsbaken vir skepe wat hier om die punt vaar. Portugese seevaarders van vervloë dae het L’Agulhas Cabo das Agulhas (Kaap van Naalde) genoem omdat die punt die akkuraatheid van hul kompasnaalde belemmer het.

Die son sak oor Agulhas, die mees suidelike dorp in die land en op die vasteland

Die son sak oor Agulhas, die mees suidelike dorp in die land en op die vasteland

Die vuurtoring is oorspronklik volgens die model van die Pharos van Alexandrië, Egipte ontwerp – hoewel slegs gedeeltelik – en gebou. Die Pharos was een van die sewe klassieke wonders van die Antieke Wêreld.

In 1840 is met geldinsameling in Kaapstad begin sodat daar ‘n vuurtoring by die suidpunt gebou kon word. Bykomende bydraes is ook uit Londen; St Helena; Manila, Filippyne; en Madras, Bombaai en Kalkutta in Indië ontvang.

Michiel van Breda – na wie Bredasdorp ook vernoem is – van Zoetendalsvallei, vernoem na die eerste opgetekende skeepswrak in 1673, het die projek geïnisieer toe hy by die owerhede gepleit het dat ‘n vuurtoring aan die suidpunt van Afrika (34° 49’ 58″ suid en 20° 00’ 12’’ oos)  waar die Atlantiese en Indiese Oseaan amptelik inmekaar vloei, broodnodig is. Hy kon net nie langer toekyk hoe skepe met hul vrag vergaan en lewens verloor word nie. Lyke het gereeld op die strand naby sy plaas uitgespoel.

Veral die heengaan van die Arniston – op 13 Julie 1819, volgens Michiel van Breda; ander bronne gee die datum as 30 Mei 1815 aan  – het hom diep geraak. 372 mense wat aan boord was, het gesterf;  net vyf, of ses (bronne verskil oor die presiese statistieke, ook oor hoeveel mense aan boord was), het oorleef. Die lyke is deur aasvoëls op die strand verskeur.

Vandaar ook sy besluit om die grond te skenk waarop die vuurtoring gebou is. Ook het hy die eerste 20 pond van die 15 871 pond wat benodig is, bygedra.

Kolonel Charles Michell, die eerste Landmeter-Generaal en siviele ingenieur van die Kaapkolonie, was verantwoordelik vir die ontwerp van die Kaap Agulhas Vuurtoring. Hy was juis die een wat so gefassineer deur die legendariese Pharos Vuurtoring was.

Die meeste vuurtorings het slegs een toring, maar Kaap Agulhas Vuurtoring het drie torings – een sentrale toring waarin die lig gesetel is asook twee kleiner torings wat weerskante is. Die sentrale wit toring is 27 meter hoog; lê 31 meter bo seevlak en het kenmerkende rooi strepe.

Die drie torings is die hoof-ooreenkoms tussen die Pharos en die Kaap Agulhas Vuurtoring hoewel die vorm van die twee kleiner torings verskil.

Daarbenewens het beide vuurtorings ‘n breë basis en albei het ook kroonlyste.

Op 1 April 1847 is daar begin met die bouwerk; in Desember 1848 is die bouwerk voltooi. Die hoeksteen is op 8 Januarie 1849 gelê. Eers op 1 Maart 1849 is die lig – destyds met die gebruik van vet uit skaapsterte – aangeskakel. Eers vanaf 1905 is ‘n olielamp in gebruik geneem en in 1936 is na ‘n elektriese lig oorgeskakel.

In 1994 het ‘n unieke vuurtoringmuseum binne-in die vuurtoring self oopgemaak. Emmerentia de Kock van Agulhas Nasionale Park is verantwoordelik vir die vuurtoringmuseum en vir die interessante uitstallings wat tans te sien is.

Op 4 Februarie 2013 is die vuurtoring vir herstelwerk gesluit en weer op 11 Desember 2013 oopgemaak. Erosie van die sandsteen het die herstelwerk nodig gemaak.

Tydens die herstelwerkproses is die veranda wat in 1913 aangebou is, maar op ‘n stadium afgebreek is, weer aan die land se kant aangebou.

Die oorspronklike bou daarvan was in ongeveer 1913 toe daar nog woonkwartiere vir die personeel aan diens – altyd ten minste twee – aan die seekant van die vuurtoring was. Dit moes meer spasie skep aangesien die woonkwartiere maar klein was.

Die vuurtoringwagter se huis is eers in 1947 in die tyd van Meneer Boy Auret gebou. So vertel Jeanette Grobbelaar, skryfster van Golgotha van die Oseane – Skeepsrampe aan die Agulhas-kus.

Baie van die liefhebbers van die vuurtoring kon hulself net nie indink hoe dit dan nou sou lyk nie, maar siedaar, dit lyk of dit so móét wees en nog altyd so was.

Vanaf die Agulhas-vuurtoring kan jy met 'n plankpad na die suidpunt van Afrika loop

Vanaf die Agulhas-vuurtoring kan jy met ‘n plankpad na die suidpunt van Afrika loop

Volgens Kaap Agulhas Toerisme se kantoor by die vuurtoring was daar 8673 besoekers in die eerste maand na die restourasiewerk afgehandel is en die vuurtoring heropen is.

Ook in 1962 was daar herstelwerk van die sandsteen nodig en in daardie tyd is ‘n tydelike aluminiumtoring opgerig. Toe daar sprake was dat die modern toring permanent in gebruik geneem sou word, is daar hewig deur die plaaslike gemeenskap geprotesteer. Die ou vuurtoring ís dan Kaap Agulhas.

In 1973 is die vuurtoring as nasionale monument verklaar.

Met die inry lê daar ‘n witgepleisterde graffie met ‘n handgeskrewe grafsteentjie aan jou linkerkant. Dis die graffie van die sewe maande oue Daisy Rowe, die babadogtertjie van die eertydse vuurtoringwagter, wat op op 28 Januarie 1899 aan witseerkeel oorlede is.

Voor die vuurtoring aan die landkant is ‘n replika-boegbeeld, The Wooden Lady of Agulhas. Niemand is heeltemal seker waar sy vandaan kom nie – oorspronklik is daar gedink dat die boegbeeld van die Dundrennan, ‘n Britse skip, wat in 1895 gestrand het, afkomstig is. Latere navorsing – wat nou meer aanvaar word – dui op die Marie Elise, ‘n Franse bark wat in 1877 by Ryspunt gestrand het.

Om te lees:
·        Golgotha van die Oseane – Skeepsrampe aan die Agulhas-kus deur Jeanette Grobbelaar
·        ISBN 9780620529204
·        Dis onder andere verkrygbaar by Protea Boekwinkel, Bergzicht Plaza, Andringastraat, Stellenbosch. Skakel 021 882 9100.

2 comments on “Kaap Agulhas Vuurtoring vier 166ste verjaardag

  1. Toortsie
    April 28, 2020

    Baie interessant dankie

  2. ilsez
    April 28, 2020

    Dankie, Toortsie! Sterkte met die grendeltyd oftewel lockdown.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 27, 2020 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .