ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Niksdoen by Noup se delwershuisies

First published in Die Burger, September 2011

(A nostalgic article as it is no longer possible to stay at Noup. I’ve always wanted to go back. It was a wonderful soulful experience.)

Jy het ‘n langnaweek nodig om na Noup (die Weskus sê Noep) te gaan. Jy ry lank, en die laaste stukkie pad is hobbelrig, om die minste te sê.

Om so ver te ry om te gaan niksdoen klink so half na ‘n mors van tyd. Maar dit is nie. Toetentaal nie.

Noup lê tussen Koiingnaas en Kleinzee. As ‘n plek se naam Koiingnaas is, moet ‘n mens mos gaan kyk hoe dit lyk. Met so ‘n naam en als. Hier’s die Weskus regtig geïsoleerd en die wêreld en die see is wild en ongetem. Om jou is die Groot Niks, behalwe vir die nege diamantduikershuisies waarin jy oornag. Eenvoudige dog sjarmante huisies met verbeeldingryke name en ‘n knus binnekant waar net die nodigste is. Maar jy begeer niks meer nie.

Effens eenkant is The Far Side. Ál die huisies is mooi; ál die huisies het ‘n see-uitsig en elke huisie het ‘n bekoring van sy eie, hoewel The Far Side dalk ‘n kortkop voor is. Dan is daar nog Visbeen, Vyebos, Bamboes (maar die B is weg, so dit lyk na Amboes), Naas-Naas, plein Noup, Witklip en Pirates. Tweetalig, ek sê. En dita an die Weskus waar die Rooitaal nie altyd so gemaklik vloei nie.

In Vyebos kan jy die sterre deur die dak sien. In een van die blyplekkies het die delwer sy eie bed gebou sodat dit so hoog is dat hy van daar sonder om ‘n voet te verroer by die venster kan uitkyk en die see kan sien om vas te stel of dit ‘n duikdag is aldan nie. ‘n Ander het klaarblyklik sommer by sy venste geïn en -uit eerder as om ‘n deur te gebruik.

Dan is daar die Ritz, die gemeenskaplike eetsaal. Hier deel jy ‘n ys- en vrieskas met die inwoners van die ander huisies. Net, die Ritz is nie in Sunset Boulevard nie; dis agter die ry delwershuisies. Dit lyk amper boudoir-agtig as daar saans ‘n klomp kerse aangesteek word.

Waar het als begin?

In die 1980’s het Benguela Concessions, ‘n diamantmynmaatskapply blyplek vir hul diamantduiekrs nodig gehad. Nadat Nou as die geskikste plek gekies is, het die huisies tidelike verblyf aan diamandtduiekrs verskaf. Mettertyd het elke duiker sy eie stempleel op sy huisei afgedruik.

Op stormagtige dae wanneer nie geduik kon word, nie, is aan die huisies getimmer of is daar goed aangedra om dit ‘n tuiste te maak. Daar was immers niks anders om te doen nie en hierdie soms ruwe manne het huistrots in hul plekkies ontwikkel. Dit kan nie net uit verveling wees wat hierdie pragtige plekkies geskep is nie. Sommiges het selfs aangebou – dryfhout en klip uit die omgewing is gebruik. Sedert Desember 1997word dit as wegbreek-verblyf verhuur.

Baie van die besoekers word so deur die geskiedenis van die huis – en dit wat hulle rondom hulle kan sien – geïnspireer dat hulle ook dryfhout, spoelklippe, skulpe en selfs witgebleikte beendere aandra en in die huisies neersit.

Elke huisie het ‘n kaggel (dis broodnodig in die winter), ‘n binnenshuise badkamer met ‘n spoeltoilet en stort, ‘n gasstoof, ‘n tafel en stoele, basiese kombuisbenodigdhede en skoon linne. Saans tot tienuur is daar ‘n kragopwekker; daarna skep kerse en lanterns ‘n romantiese atmosfeer.

Hou jouself só besig

Dis nie ‘n vereiste dat jy niks moet doen as jy by Noup kom afpak nie. Daar is ‘n skeepswraktoer en ‘n Strandveldtoer wat jy in jou eie viertrekvoertuig kan onderneem. Die wrakke het name soos Piratiny, Border en Arosa en soos die huisies se name word dit op verweerde houtbordjies aangedui.

Jy kan meer oor die geskiedenis van diamantduik by Kleinzee leer. Daar is die Trapsuutjies-voetslaanpad om te stap – 5 km in ‘n natuurreservaat waar 132 inheemse plantspesies tot dusver geïdentifiseer is.

Bring jou duikpak saam as die kreefseisoen oop is. Gly by die duine af met ‘n sandplank of op ‘n ou stuk karton. Voëlkykers wat hul verkykers en en voëlgidse onthou, sal nie teleurgesteld wees nie.

Back to Basics sorg vir verblyf vir branderplankryers en rugsakreisigers. Die water is ysig en die wind wat vanaf die Atlantiese Oseaan waai, kan vroegoggend of vroegaand snerpend koud wees. Maar in die somer is dit droogwarm. As dit mistig is, wens jy amper jy loop ‘n spook op die strand raak. Ongeag die seisoen is die stilte by Noup salwend vir die siel.

                                                                ***

Pak in

  • Rooiwyn vir die koue in die winter en witwyn vir die warm somersdae
  • Alles wat jy wil eet en drink
  • Drinkwater as jy vol fiemies is oor brakwater
  • Jou eie handdoeke
  • Skottelgoedwasmiddel en afdroogdoeke
  • Onthou meer as genoeg vuurmaakhout

2 comments on “Niksdoen by Noup se delwershuisies

  1. Tannie Frannie
    November 27, 2023

    “Rugsakreisigers” – dis ‘n mooie woord.

  2. ilsez
    January 7, 2024

    My dae van rugsakreis is al lankal verby! Tasse met wieletjies is die beste uitvinding ooit, Tannie Frannie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 25, 2023 by in Die res van Suid-Afrika.