First published in Die Burger, August 2017
Jazz vir ontbyt of tee by Ou Nelly
Wens jy jy woon in die land van Kokanje? Nie noodwendig ‘n land met kokke as inwoners nie, maar ‘n plek van salige niksdoen en die lekker lewe.
As jy ‘n lysie begin maak van hoe en waar jy jouself in Kaapstad kan bederf, begin Kaapstad na die Wes-Kaap se Kokanje voel.
Spek en eiers met ‘n skeppie jazz
Sondag is tradisioneel ‘n dag van stilte en rus; ‘n dag om jouself weer toe te rus om Maandag en die gepaardgaande week in die gesig te staar.
As die lewe dol raak en jy’t meer as ‘n ontspannende sabbatsdag nodig, is ‘n Sondagoggend by Winchester Mansions hoogs aanbevole. Boonop kan jy laat slaap, want dis lank na hanekraai wat die bederf by Harveys begin.
Sondae vanaf elfuur tot twee-uur kan jy jazz luister terwyl jy aan die beste ontbyt in Kaapstad weglê en kyk hoe jou mede-ontbyters met so ‘n hup en wip heen en weer stap.
Met die instapslag kikker ‘n glasie vonkelwyn jou dag op. Sou jy ietwat leepoog na Saterdagaand se kaperjolle voel, kan jy eers ‘n koppie koffiekapitaal nuttig. Vra sommer die Sondagkoerant – dis deel van die pakket.
Begin met vrugte-jogurt, muesli, seisoenale vrugte en vrugtesap.
Onder die gebak tel croissants, soetgebak, botterbroodjies, varsgebakte brood en soutighede. Dit word bedien met koue vleise, konfyte en konserf sowel as ‘n verskeidenheid kase.
Dis maklik om die spek en eiers te systap as jy na die res van die help-jouself spyskaart loer. Synde jy ‘n tradisionele brekfis verkies, is daar gebraaide tamatie en sampioene, skyfies filet, aartappelskywe, boerewors, varkworsies en outydse bakboontjies.
Niemand kyk sommer maklik die soesji-tafel mis nie. Dís mos nou die manier om ‘n dag te begin.
Vir die tweede rondte is daar spanspek-en-parmesaanslaai, skulpmossels, rolletjies salm met vet kappertjiesade, pienkgarnaal-pastaslaai, gebraaide geelstert en geroosterde eiervrug.
Daar word ook na soettande omgesien. Om 12h30 kreun die tafels onder mini-nagereggies soos tiramisu, kaaskoek, suurlemoenmeringue, crème brulee, vrugtejellies, en rooifluweelkolwyntjies.
Om 14h00 pak die jazz-orkes hul instrumente weg.
Drink jou tee met pinkie in die lug
Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Dis al dekades lank wat ‘n statige ou dame by name van Nelly van middagtee ‘n koloniale affêre in die moederstad maak.
Eintlik is die einste Nelly se naam ‘n mondvol – Belmond Mount Nelson is hoe daar eintlik na haar verwys moet word.
Middagtee bly só gewild by hierdie pienk paleis dat besprekings na al die jare steeds noodsaaklik is.
Dis glad nie so styf dat jy genoop voel om pinkie in die lug tee te drink nie. Dit voel wel of dit een van die dekadente bederf-jouself-middae is waarmee jy jouself maar een keer per jaar kan bederf. Eintlik móét bederf.
In die vroeë negentiende eeu het veral die Engelse al meer tee begin drink. Een van die aristokratiese gravinne het blykbaar pruilmond gekla dat sy laatmiddag so ‘n hol kol op die maag kry. Destyds is daar net twee etes per dag genuttig en tussen ontbyt en aandete het die dag maar lank geraak. Dit het gewoonte begin raak om so teen laatmiddag ‘n pot tee en ligte versnaperinge te bedien.
Met verloop van tyd het die Nellie bekend geraak vir hul tradisie van middagtee wat almal na jare steeds gaande het.
Saam met verskillende soorte tee van lande soos China, Indië, Japan en Kenia word driehoekpasteitjies, gerolde pannekoekies, samoesas, souttertjies en salmhappies eers op ‘n klassieke 3-laag koekstaander bedien. En veerligte komkommerbroodjies natuurlik, want ‘n koloniale teedrinkery kan nimmer as te nooit daarsonder geskied nie.
Daarna begewe gaste hul na die lang tafel soveel keer as wat hul wil. Kies tussen roompoffertjies, dadelballetjies, kaaskoek opgetower met aarbeie, pers of geel makarons, uitgepofte suurlemoenmeringuetert, sjokmousserolletjies, room-en-sjokolade-eclairs en vele meer.
Nooi jou vriendinne en trek jou fleurigste rok aan vir die geleentheid om die lewe – en die gebruik van middagtee – te vier.
Jy sê: “As jy nog nie by Winchester Mansions se Sondagontbyt was nie, is jy nie ‘n ware Kapenaar nie” Weet jy hoe min ware Kapenaars daar kan uitkom en dit bekostig? Moet ons Kapenaars meet aan ‘n goed gekapitaliseerde bankkaart? Of is die.egtheid in die hart die maatstaf?
Hi Blootvoet – Natuurlik is alles waar wat jy opmerk. ‘n Reisartikel is egter nie ‘n ontledende artikel nie en is gemik op diegene wat dit lees. So ja, noodwendig sal my opmerking so oorkom, maar ‘n mens moet ook binne konteks lees. Dit geld vir verskillende tipes beriggewing, handboeke, ontledende artikels, resensies, tesisse – die lys gaan aan en aan. Om buite konteks aan te haal, dien nie ‘n doel nie. Dankie dat jy die reisartikel gelees het.