ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Broekies bring hul kant!

First published in Rapport, July 2020

Broekieslace wil hul dra!

As jy in die Paarl rondstap, sal jy op die lieflikste voorbeelde van broekielace afkom

Vir my is een van die mooiste woorde in Afrikaans broekielace (of broekieslace). Dis weliswaar nie eg Afrikaans soos ander woorde wat sag op die hart en tong val nie – dink aan pampoen, komkommer, wispelturig, pantoffels, bollemakiesie, spookasem, babbelas, warrelwind, lékker en holderstebolder.

Die Swartberg Hotel in Prince Albert

Broekie(s)lace is egter eg Suid-Afrikaans en deel van ons landskap. Van Victoriaanse woonhuisargitektuur tot Karoo-dorpshuise en van enkel- tot dubbelverdiepinggeboue, spog met hierdie stoep-, veranda-, daknok- en balkonversierings wat uit hout, gegote yster of gietyster bestaan.

Dikwels het trap- en balkonrelings traliewerk, lyswerk (fretwork), fyn saagwerk of uitgesnyde houtpatrone gehad wat die broekielace gekomplementeer het.

Patroontjies wat op mekaar herhaal wissel van Gotiese motiewe tot blommetjies, blaartjies en blomsteeltjies, en swierige krulletjies en draaitjies. Tradisioneel was broekielace óf wit óf woudgroen. Soms is swart broekielace bespeur.

Broekieslace dra die broek!

Dis nét in Afrikaans wat ‘n woord soos broekielace sal posvat om ‘n argitektoniese stylontwerp te beskryf!

‘n Broekie is natuurlik ‘n pêntie, maar nie noodwendig ‘n wyepypbloemer nie. Die ‘lace’ verwys na die ragfyn kantwerk van vroueonderbroekies van destyds. Ek wil nou nie kant kies nie, maar meer gepas kan die beskrywing sekerlik nie wees nie.

Daar word vertel dat dié Victoriaanse ysterversierings as ballas in skepe vanaf die Verenigde Koninkryk gebruik is. Ballas is ‘n lading in die maag van ‘n skip om aan die skip diepgang te gee of die skip vas te laat lê. ‘n Mens kan jou indink hoe baie daarvan noodwendig sou gebreek het soos wat die skip rondrol.

Vat die langpad en gaan kyk broekieslace in die platteland

Baie van die Suid-Afrikaanse broekielace was vanaf die Saracen-smeltery in Glasgow afkomstig. Dié smeltery het aan W MacFarlane & Co. Limited behoort; hulle was die bekendste vervaardigers van ornamentele ysterwerk in Skotland.

Hierdie ornamentele ysterwerk van destyds is grootskaals vervaardig; juis daarom kon Jan Alleman dit ook bekostig. Katalogusse met prentjies van die verskillende patrone broekielace het dit maklik gemaak om ‘n bestelling te plaas. Jou keuse is dan eenvoudig verskeep na die naaste hawe aan jou woonplek.

Klaarblyklik is broekielace ook plaaslik, veral in die Karoo, vervaardig.

Daar is amper nie ‘n deel van ons land waar broekielace nie voorgekom het nie. Helaas, soos huise en sakegeboue meer verwaarloos geraak het, het baie van die broekielace ook vergaan. Soms het broekielace ook tydens restourasieprojekte in die slag gebly.

Dekades gelede was broekielace in Kaapstad, Johannesburg, Durban en Port Elizabeth ‘n algemene gesig.

Waar jy ook al in sakekerns of in ou woonbuurte van Kaapstad, Durban, Pietermaritzburg en Johannesburg rondry, sal jy nog steeds die wonderlikste broekielace raaksien, hoewel sommige reeds baie verweer is.

In Lang- en Loopstraat in Kaapstad kan jy jou nog plek-plek verkyk aan broekielace.

In 19th Century Port Elizabeth – A Guide to Restoration deur Danie Theron (publikasiedatum onbekend) word spesifiek na besondere voorbeelde van geboue met interessante broekielace in Donkin-, Cuyler- en Stanleystraat in Port Elizabeth verwys.

In Oudtshoorn was baie van die volstruispaleise sowel as die huise van welvarende handelaars met broekielace versier. In die dorp self sowel as die distrik is nog plek-plek lieflike voorbeelde hiervan te sien.

Broekieslace is gewoonlik wit, maar kom ook in skakerings van donkergroen of swart voor

Dis die moeite werd om Simonstad te besoek, nét om die broekielace in hul Historiese Myl te gaan bekyk.

Op 27 Mei 1814 is Simonstad as ‘n aparte distrik – voorheen was dit deel van Kaapstad – verklaar.  Die argitek John Parker (1866-1921) was grootliks verantwoordelik vir die mildelike gebruik van broekielace al langs die Historiese Myl van Simonstad. Parker het verskeie van die Historiese Myl-geboue ontwerp. Hy het ‘n voorliefde vir balkonne, pilare en relings met broekielace versier, gehad. Baie van Parker se geboue staan tot vandag toe en word steeds druk besoek.

Nader aan die Moederstad is daar ook pragtige broekielace in Observatory en Woodstock te sien.

In die Boland spog die Paarl en Stellenbosch met broekielace wat ‘n sien werd is.

In die Paarlse Hoofstraat het die gebou van Delecta-uitvoervrugtemaatskappy van die mooiste broekieslace in die hele dorp

In Pleinstraat, Stellenbosch is ‘n hele paar geboue met broekielace wat jou opgewonde sal maak; by Andringastraat 30 is ‘n gerestoureerde drankwinkel met wonderlike broekielacepatrone wat besigtig móét word as jy jou in die omgewing bevind.

In die hartjie van die Paarl op Zeederbergplein is ‘n ry huise wat die verskillende soorte broekielace pragtig illustreer

Op Zeederbergplein in die hartjie van die Paarl is ‘n ry huise wat verskillende soorte broekielace lieflik illustreer.

Zeederbergplein is vernoem na Dr. Johannes Rudolph Zeederberg wat in 1848 as die Paarl se eerste distriksgeneesheer aangestel is; hy het dié pos tot 1881 beklee. Hy het in Zeederbergplein 1 gewoon.

Die huise van Zeederbergplein 2-5 illustreer hoe argitektoniese stylmiddele oor jare ontwikkel het. Eers is broekielace uit hout gekerf; in latere jare is gietyster gebruik.

‘n Ou foto wat in die Patriot-gebou in die Paarl hang, bewys dat die broekieslacebalkon later bygekom het

In ‘n Paarlse brosjure wat “‘n wandeling deur die historiese hart van die Paarl” toelig, word verduidelik hoe baie Kaap-Hollandse huise na 1860 aangepas is. Rietdakke is met sinkplaatdakke vervang; soms is gewels verwyder en broekielace was die nuwe modegier vir stoepe, verandas en balkonne. Die nuut toegevoegde verandas het ook welkome skadu gebied.

As jy mooi kyk kan jy sien by watter huis op Zeederbergplein die gewel verwyder is om vir ‘n veranda plek te maak.

Zeederbergplein nommer 5 word as een van die mooiste voorbeelde van broekielace in Suid-Afrika beskou.  

In Matjiesfontein spog die Lord Milner Hotel en van die omringende geboue met broekielace

Nog ‘n uitstaande voorbeeld is die Lord Milner Hotel in Matjiesfontein.

Die AG Visser Huis in Steytlerville

As jy weer die langpad (mag) vat, kyk na die broekielace bokant die veranda van die AG Visser Huis in Steytlerville, amper al die geboue in Matjiesfontein se hoofstraat, die biblioteek van Philippolis, die stoeprelings van Victoria Manor in Cradock (en ‘n paar van die huise verder af in die straat), die Swartberg Hotel in Prins Albert en die Lord Carnarvon Hotel en Die Medisynekas in Carnarvon.

Die Biblioteek in Philippolis

Voeg soveel as wat jy kan by hierdie lys – as jy eers begin rondkyk, sal jy broekielace in talle dorpe in ons land begin raaksien.

Jy sou kon vra of broekielace nog steeds hul beste kant gee… As ‘n mens na al die foto’s op Pinterest kyk en dan boonop advertensies vir plastiese broekielace (ek skaar my definitief nie aan hierdie kant nie!) begin oplet, is die antwoord seker ‘n onomwonde ja!

Broekielace hou steeds die blink kant, by wyse van spreke, bo!

Werd om te weet

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 29, 2020 by in Die res van Suid-Afrika.