ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kafees vir kêffiekatte

First published in Die Burger, December 2018

Kafees neem ‘n mens op ‘n nostalgietoer

L'Agulhas Kafee Superette is inderdaad die mees suidelike kafee in Afrika

L’Agulhas Kafee Superette is inderdaad die mees suidelike kafee in Afrika

Alle Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, het sekerlik ‘n wat-ek-die-meeste-mis-lys. Wat op baie mense se huis-toe-verlang-lys is, is maklik om te raai: koeksisters, skaaptjoppies op die vuur, daai tannie se blatjang, ‘n Afrika-sonsondergang en jou gunsteling stranddorp of die seeplek waar jy jou kindervakansies deurgebring het.

Toe ek die eerste keer gelees het hoe ‘n voormalige Suid-Afrikaner skryf hoe hy na ‘n regte kafee verláng, het dit by my vasgesteek.

Van vóór toe af neem ek al foto’s van plattelandse kafees, hoekkafees, vis-en-tjips-kafees, ag, sommer enige kafee wat my oog vang.

Min van ons ken nie ‘n kafee uit ons kinderdae nie. Of jy nou oud genoeg is om van loslekkers en suigysies in plastieksakkies te onthou aldan nie, almal het ‘n kafee of twee waarmee hulle hul kan vereenselwig.

Selfs Ernst van Heerden het oor sy pa se dorpswinkel, waarin daar altyd iets van alles was soos hy later onthou het, gedig. In “Algemene Handelaar” beskryf hy sy pa se winkel as “argitektonies onooglik”; dit het “twee verspotte uitstalvensters”, “’n wye stoep” en “gewel-reklame met spelfoute en al”.

Deesdae sien ‘n mens min kafees wat nog met gewels kan spog, maar die spelfoute is immer aanwesig. Baie dorpskafees waar daar fluks veral op Vrydaemiddae en Saterdagoggende op die stoep gekuier word, val nie noodwendig sag op die oog nie, maar ‘n eietydse verweerde sjarme bly hul by.

Die mees suidelike kafee in die land

Daar was 'n tyd toe L'Agulhas Kafee pers geverf was en daar is sommige mense in die distrik wat nog steeds daarna as Die Pers Kafee verwys

Daar was ‘n tyd toe L’Agulhas Kafee pers geverf was en daar is sommige mense in die distrik wat nog steeds daarna as Die Pers Kafee verwys

L’Agulhas Kafee Superette was eens op ‘n tyd pruimpers geverf; in ons huis staan dit nog steeds as ‘Die Pers Kafee’ bekend. Tydens die skiet van ‘n TV-reeks het dié kafee selfs vlugtig Swartwater Kafee Superette geheet.

L’Agulhas Kafee is werklik die mees suidelike kafee in die land, soos daar ook trots bokant die deur verkondig word.

Op die voorste muur van die kafee is ‘n vis uit klippiesmosaïek wat al sedert die sestigerjare daar is, so vertel een van die ooms van die distrik.

Behalwe vir brood, melk, tandepasta en die koerant kan jy ook by die L’Agulhas Kafee petrol ingooi. Die kleinspan kan op ‘n muntoutomaat-perdjie ry wat lyk asof dit eens deel van ‘n ou mallemeule was.

 ‘n Kafee met ‘n stoep en ‘n gewel

Toentertyd het Bredasdorp se kinders op pad kerk toe eers by Rooistoepies gaan lekkers koop

Toentertyd het Bredasdorp se kinders op pad kerk toe eers by Rooistoepies gaan lekkers koop

Bredasdorp, Kaap Agulhas se buurdorp, het self ‘n kafeegebou met ‘n geskiedenis. Rooistoepies het eintlik rooi trappies, maar ook ‘n outydse, blink gepoetste rooi stoep en ‘n gewel.

Benewens Rooistoepies was dit al die Oasis Supermark en Kafee; deesdae huisves dit De Jagers Uitrusters.

Die mense van die dorp onthou hoe hulle kleintyd kerk toe geloop het, maar op pad soontoe eers by Rooistoepies vir lekkergoed ingewals het.

Die viskafee op Bredasdorp wat eens Valley Fisheries geheet het, spog met sy eie klein geweltjie. Deesdae is die viswinkel se naam Just Caught. Hulle verkoop nie net vis nie, maar ook calamari en viskuite.

Klim af by Klapmuts

Klapmuts se kafee is dalk nou die Mega China Shop – weliswaar met die hart van ‘n kafee – maar dis nog steeds so helder soos môre die heeldag geverf.

Klapmuts se kafee (hoewel dit nie van buite na 'n kafee lyk nie) is Mao-rooi; voorheen was dit Omo-blou

Klapmuts se kafee (hoewel dit nie van buite na ‘n kafee lyk nie) is Mao-rooi; voorheen was dit Omo-blou

Dit was al Omo-blou; die afgelope paar jaar is dit weer Coke-rooi. Of is dit nou Mao-rooi…

Nie te ver hiervandaan nie en in teenstelling hiermee is daar by Mike’s Algemene Handelaar en die Koelenhof Posagentskap by die Muldersvlei-spooroorgang skaars ‘n leksel rooi te bespeur.

Waar daar Coke is, is daar vriendelikheid

Gepraat van Coke-rooi, oorkant die Hermon Hotel naby Riebeek-Kasteel is Die Rooi Spens. Op hul bloedrooi kamma-gewel staan: ‘Waar daar Coke is, is daar vriendelikheid’.

Niks van die spelfoute soos “vroue klerasie afdeeling” waarna Ernst van Heerden goediglik verwys nie; alles is reg gespel hier.

By Die Rooi Spens verkoop hulle lugtyd, kruideniersware en vrugte en groente staan op die muur. En pienk polonie as die hongerpyne jou vang.

Elandsbaai se eie kafees

Oorkant die Elandsbaai Hotel gaap die skuurdeur van The Lazy Libra. ‘n Reddingsboei hang langs die deur.

‘n Ronde houtbord lys wat binne te koop is: hout, seekos, roomys, hardeware, hengelgereedskap, geskenke en ys. Ook ‘snoek tackle’ en ‘wax’ lees ek op die muur.

Vir die oningeligtes en nie-swemmers (waarvan ek een is): dié waks word op branderplanke gesmeer om ‘n beter greep te verseker. Elandsbaai is mos juis bekend vir sy branders!

Die hout is op ‘n kruiwa voor The Lazy Libra gestapel sodat jy dit nie kan miskyk nie.

Langs ‘n swartbord waarop ‘dop-ys’ geadverteer is, poseer ‘n grysbaard-Rasta gemoedelik as hy nadergewink word.

Ernst van Heerden kon hierdie kafee beskryf het toe hy verwys het na “opeenhopings van allerlei negosies”. Al wat verskil is dat wat vir jou “onkoopbaar” is, vir my heel moontlik onweerstaanbaar is.

Die Sonskyn Kafee op Elandsbaai is oop tot laat en net die plek om in te draf as jy op die ingewing van die oomblik besluit het om te braai

Die Sonskyn Kafee op Elandsbaai is oop tot laat en net die plek om in te draf as jy op die ingewing van die oomblik besluit het om te braai

‘n Straatblok of wat verder bly die Sonskyn Kafee oop tot laat. Behalwe die gewone verkoop hulle ook motorolie, bootenjinolie, braaiwors, maalvleis, samoesas en ‘bompies’ (gevriesde vrugtesappies).

Raai waar’s Rietbron …

Wat sê dit van jou as jy iemand ontmoet wat vertel dat hulle van Rietbron kom en in een asem byvoeg dat jy nie sal weet waar dit is nie en jy dan kan antwoord dat jy al dié gehuggie se kafees gekiek het? Ja, sommer twee.

Met die uithaal van die foto’s om te bewys dat ek nie tande trek nie, is ek gemoedelik ingelig dat die Rietbron Kontantwinkel nie meer donkerpers en kanariegeel is nie; Rietbron Algemene Handelaar ook nie meer verbleikpienk nie.

Vir dié wat nie weet nie, Rietbron is in die hartjie van die Karoo, omtrent halfpad tussen Willowmore en Beaufort-Wes.

Ek vermoed by dié algemene handelaar is nie naastenby so baie “in- en uitlopers wat groet” as by Van Heerden se pa se winkel nie; ook nie dosyne “besoekers, handelsreisigers (en) skoolkinders” nie. Dis darem net te ver uit die pad uit.

Wat sou geword het van …

As ek so deur my ou kafeefoto’s blaai, weet ek dis tyd om weer agter die wiel in te skuif. Tyd om te gaan kyk hoe lyk Droë Vlakte Kafee, Alg. Handelaar en Slaghuis en Botterkloof Algemene Handelaar General Dealer net buite Stilbaai en Brugstories ín Stilbaai deesdae.

Sou die Lekkerbek Kafee en die Omkom Stoor in Prins Albert nog besigheid doen?  Word daar dalk weer koerante by die Handelshuis Aurora afgelewer? Wat van die Indraf Kafee op De Rust?

In die kafees van ouds was daar nog “toegeneentheid en liefde vir personeel en klante” wat die algemene handelaars van destyds op hul voorname geken het; soms loop ‘n mens nog ‘n titsel daarvan raak as jy dit die minste verwag.

Spreekwoorde oor kafees wat jy in jou geselsies kan inwerk:

  • As jy op ‘n kafeedraffie naderkom, kom jy nader geslenter.
  • ‘n Mens kry twee soorte kafeekatte:

Iemand wat baie maer is, is ‘n kafeekat.

Met so ‘n kafeekat (iemand wat gedurig eet) in die huis, bly die spens leeg.

2 comments on “Kafees vir kêffiekatte

  1. selmaohlsson
    November 13, 2019

    There is something about these shopfronts and signs that is so nostalgic and just makes me want to go on a road trip!

  2. ilsez
    December 12, 2019

    Don’t lie, Selma, you always want to go on a road trip anyway!

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 12, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .