ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dans die tango

First published in Rapport, April 2020

Om te tango beteken om vir sowat drie minute op iemand verlief te raak. Overgesetsynde, hoeveel ander dinge in die lewe laat jou toe om letterlik in die arms van ‘n vreemdeling in te loop en ‘n paar minute later met ‘n ongelooflike gevoel van wedersydse konneksie weer aan te loop?

Orals waar jy in Buenos Aires - en sommige plekke in Montevideo - sien 'n mens elemente van Montevideo

Een van die mees ikoniese fliektonele is in Scent of a Woman wanneer die blinde luitenant-kolonel Slade (vertolk deur Al Pacino) ‘n jong vrou genaamd Donna (vertolk deur Gabrielle Anwar) leer om die tango te dans. As jy dit eers een keer gesien het, vergeet jy dit nooit weer nie.

Die ontstaan van tango

Niemand weet presies hoe en wanneer die tango oorspronklik ontstaan het nie.

By La Botica de Vicky in San Telmo, Buenos Aires  kan jy ou tangobykomstighede koop

By La Botica de Vicky in San Telmo, Buenos Aires jy ou tangobykomstighede koop

Wat wel bekend is, is hoe die tango in die middel tot laat 1800’s in Buenos Aires, Argentinië en in Montevideo, Uruguay gewild geraak het. Invloede van Europa en Afrika het nie agterweë gebly nie. Mettertyd het die tango ‘n internasionale dans geraak wat niemand onaangeraak gelaat het nie.

Enigiemand, ongeag jou ouderdom, kan die tango dans

Enigiemand, ongeag jou ouderdom, kan die tango dans

In Buenos Aires en Montevideo was tango die dans wat Europese immigrante, vrygestelde slawe en mense van die werkersklas aangehang het.

Carlos Eduardo Gavito (1942-2005), ‘n bekende Argentynse danser, het juis verklaar: “Almal wat sê dat jy nie kan tango as jy nie Argentyns is nie, weet nie waarvan hulle praat nie. Tango is immigrantemusiek … daarom het dit nie ‘n nasionaliteit nie … die enigste paspoort wat tango saamdra, is GEVOEL.”

Gaan kyk 'n tangovertoning tydens 'n besoek aan Buenos Aires, maar maak seker dis nie een van die vertonings wat net op toeriste gemik is nie

Gaan kyk ‘n tangovertoning tydens ‘n besoek aan Buenos Aires, maar maak seker dis nie een van die vertonings wat net op toeriste gemik is nie

In die 1880’s het ‘n vermenging van die Spaanse tango, ‘n tipe flamenco, die milonga, ‘n sensuele en waaghalsige Argentynse dans, en die habanera, ‘n stadige Kubaanse dans, tot die Argentynse tango gelei.

In die buurte op die Argentynse oewer van die Rio de la Plata (dit beteken Silwerrivier), die skeiding tussen Argentinië en Uruguay, was destyds baie kroeë, losieshuise en bordele waar matrose, gauchos (bekwame Argentynse perderuiters van die landelike gebiede), soldate, hawearbeiders en portiers uitgehang het. Binne dié kuierplekke was daar genoeg spasie om die milonga of tango te dans.

Die tango het ook mettertyd begin om ‘n verskyning in musiekblyspele, komedies en toneelstukke te maak.

Hoe tango getoer het

Teen die vroeë 1900’s het die tango meer sosiaal aanvaarbaar in Argentinië geraak. Die res van Suid-Amerika het ook begin saam tango.

‘n Paar jaar daarna het Parysenaars getango dat die vloerplanke tril. Teen 1915 was tango die in-ding in Europa.

In 1910 is daar begin om musiek spesifiek vir tango’s te komponeer.  Die eerste tangokomposisies was begeesterd en lewendig; teen 1920 was melancholiese musiek en lirieke die neiging.

Soos wat tango meer gewild onder die porteños (soos wat die stedelinge van die hawestad Buenos Aires genoem word; dit beteken ‘mense van die hawe’) het die styl van tangodans verander. Dit was deels te wyte daaraan dat die tango nou in danssale, waar daar baie meer ruimte is, gedans is.

Tangodanse was nou vinniger. Nuwe passies het bekendgestaan as ganchos  (dansers wat hul bene om mekaar s’n haak), saltos (spronge) en boleos (die uitskiet van ‘n danser se been). Ten einde hierdie nuwe tangopassies te vergemaklik, het die danspaar mekaar nie meer so styf vasgehou as wat eens dansmode was nie.

Daar word nie verniet gesê nie hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Met nuwe passies en al was tango nog steeds die versinnebeelding van passie, nostalgie, emosie en melancholie wat deur middel van dansbewegings, woorde en musiek uitgebeeld word.

Van melancholie gepraat, die bekende Argentynse tangomusikant, -komponis en digter, Enrique Santos Discépolo (1901-1951) het die tango beskryf as “’n hartseer gedagte wat gedans word”.

Van Discépolo se tangoliedjies is in lunfardo geskryf. Lunfardo is ‘n tipe sleng wat oorspronklik deur minder gegoede gemeenskappe in veral Buenos Aires gepraat is. Al hoe meer mense het sekere frases in lunfardo leer ken en begin gebruik namate baie tangoliedjies wat in lunfardo geskryf is, gewild geraak het.

Carlos Gardel (1890-1935), die hartebreker van Latyns-Amerikaanse tango, het ook verskeie van Discépolo se liedjies gesing. Carlitos, soos sy aanhangers hom genoem het, het aan die toppunt van sy loopbaan in vliegtuigongeluk omgekom.

Tango van toe tot nou

Na die ekonomiese insinking in Argentinië in die 1930’s het die gewildheid van tango getaan, maar soos die tyd verloop het, het belangstelling weer opgevlam.

Tot vandag toe dans oud en jonk die tango in die buurte van Buenos Aires en Montevideo. As jy teen skemer of ietwat later deur die strate stap, kan jy maar gaan ondersoek instel as jy die klanke van ‘n bandoneon, die kenmerkende instrument van die ware tango, hoor.

‘n Bandoneon kan as ‘n tipe Argentynse konsertina beskryf word. Behalwe die bandoneon word die klavier, kitaar en viool bespeel.

Jy word gul ontvang as jy as buitestander sommer inloop om jou oë oor die danspassies te laat feesvier. Dit voel asof die dansers daarvan hou om erkenning te kry, net deurdat jy, as toeris, hul passies geniet.

Stap 1 - 'n Tangodans begin stadig en sensueel

Stap 1 – ‘n Tangodans begin stadig en sensueel

Stap 2 - 'n Tangodans begin gewoonlik stadig en mettertyd word die danspaartjie se passies vinniger

Stap 2 – ‘n Tangodans begin gewoonlik stadig en mettertyd word die danspaartjie se passies vinniger

Stap 3 - Die tangodans bou op tot 'n crescendo

Stap 3 – Die tangodans bou op tot ‘n crescendo

Stap 4 - Die passievolle einde van 'n tango

Stap 4 – Die passievolle einde van ‘n tango

Só werk dit: die tafels in ‘n milonga (die woord milonga word gebruik om na ‘n dans of ‘n danslokaal te verwys) het almal ‘n uitsig op die dansvloer. Tradisioneel moet ‘n vrou wag tot ‘n man haar nader om te dans. Daar word geen woorde gewissel nie — die man knik net effentjies met sy kop, die vrou aanvaar sy versoek om te dans met ‘n ligte knik van haar kop.

Die danspaartjie moet ten minste twee danse na mekaar saam dans; andersins dui dit op uiterste onbeskoftheid. Hulle is nie veronderstel om enigsins woorde te wissel of te glimlag terwyl hulle dans nie. Na die dans kan hulle egter vrylik kommunikeer en lag.

Tangodansers raak liries oor die tango. Dié dans is al beskryf as ontspanning vir jou gedagtewêreld, heelheid en ‘n tipe meditasie.

Op 30 September 2009 het UNESCO tango as ‘n Ontasbare Kulturele Erfenis van die Mensdom verklaar tot die groot vreugde van die twee stede, Buenos Aires en Montevideo, wat hiervoor aansoek gedoen het.

  Leer aanlyn tango tydens inperking

Noudat almal tydens die inperking baie tyd op hande het, is dit dalk net mooi die tyd vir paartjies om te leer hoe om te tango. Ná grendeltyd kan jy al jou vriende op jul volgende danspartytjie of troue beïndruk.

Op Youtube sal jy oorgenoeg skakels vind om jou te help. Maak seker dat jy na die Argentynse tango eerder as na die baldanstango (ball room tango) kyk.

Op Beginner Argentine Tango Class Notes (Figures) word die voetwerk stap vir stap gedemonstreer: www.youtube.com/watch?v=9WyB6fnVsKk

A s jy sukkel om reg te kom, volg die stadige voetwerk op How to do the Tango 8-Step Basic: https://www.youtube.com/watch?v=wvewX55VADs&t=89s

Die 8 basiese tangobewegings word deur die ervare dansinstrukteurs Ana Padron en Diego Blanco gedemonstreer. Kyk ook na hul ander skakels op Youtube.

As jy vroualleen wil leer tango, sal Tekla Gogrichiani – Tango Women’s Technique jou absoluut inspireer: www.youtube.com/watch?v=p2nut8Jo2Sw

Kyk op die volgende Facebook-bladsye na wenke, demonstrasies en verdere aanlynklasse: Cape Town Tango Community, Tango in Johannesburg en Tango Durban.

Alles wat jy oor tango in Suid-Afrika wil weet, kan jy hier sien: https://milongas-in.com/milongas-in-africa.php?c=South%20Africa

'n Blaaskansie tussen die tangopassies deur

‘n Blaaskansie tussen die tangopassies deur

4 comments on “Dans die tango

  1. Tannie Frannie
    July 31, 2020

    Oe, dis so interessant! Die tangotoneel in “Scent of a Woman” maak my vreeslik hartseer en tog kyk ek dit oor en oor. Jy beskryf die tango-interlude met ‘n vreemdeling so goed, het jy dit self ervaar? Mag ek herblog, asseblief – jy weet ek en my virtuele liefie Silver tango so graag…

  2. ilsez
    August 1, 2020

    Jy kan met absolute graagte reblog, Tannie Frannie! Ek het absoluut geen koordinasie so self het ek nog nooit getango nie. Het my verkyk daaraan in Buenos Aires en Montevideo, Uruguay; ek kon net nie genoeg daarvan kry nie. Aand na aand, en op die een na die ander sypaadjie het ek my verstaar. Ek is self gek oor die tango in Scent of a Woman; kyk dit ook oor en oor.

  3. Tannie Frannie
    September 20, 2021

    Reblogged this on Tannie Frannie and commented:
    Sien nou ek wou al langer as ‘n jaar gelede hierdie interessante tangostorie herblog! Ek doen dit nou, met die verskuldigde dank aan die skrywer.

  4. ilsez
    February 16, 2023

    Dankie dat jy herblog het, Tannie Frannie. Ek het juis hierdie week een aand ‘n tangovertoning gaan kyk. Dit was ‘n absolute bederf en ‘feel-good’.

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 31, 2020 by in Suid-Amerika.