ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Hart vir perlemoen

First published in Die Burger, March 2017

Adel Abels is die bestuurder van die besoekersentrum by Heart of Abalone asook een van die gidse

Adel Abels is die bestuurder van die besoekersentrum by Heart of Abalone asook een van die gidse

Wat kos dit om ‘n perlemoen gelukkig te hou? Wag ‘n bietjie – hoe hou ‘n mens ‘n mannetjie- én ‘n wyfieperlemoen gelukkig en gesond?

Leer die hart van perlemoen by Heart of Abalone ken

Leer die hart van perlemoen by Heart of Abalone ken

By Heart of Abalone in Hermanus se Nuwe Hawe moet die span by Abagold, een van die oudste en grootste perlemoenplase in Suid-Afrika, bykans 16 000 000 perlemoene wat in 45 000 mandjies woon, se harte gelukkig hou.

Dis egter nou nie asof ‘n perlemoen ‘n hárt het nie.

Leer meer van perlemoen

Perlemoen (abalone in Engels) is ‘n weekdier (ook gastropood genoem) of buikvoetige seedier wat veral in die koue water van die Kaapse kus voorkom. Perlemoen kom egter ook tot by Elandsbaai aan die weskus en tot by Oos-Londen aan die ooskus voor.

'n Perlemoen(tjie) van hierdie grootte is so twee jaar oud

‘n Perlemoen(tjie) van hierdie grootte is so twee jaar oud

Die perlemoenspesie wat in Suid-Afrika voorkom, is Haliotis midae.

Die woord perlemoen is aan Nederlands ontleen – dit kom van die woord ‘paarlemoer’ wat ‘die moeder van die pêrel’ beteken en verwys na die pragtige kleure aan die binnekant van die skulp.

As jy gereeld koerant lees of nuus luister, sal jy definitief bewus wees van al die perlemoensmokkelary, gekonfiskeerde perlemoen en perlemoensindikate. Maar dis ‘n ander storie.

Ter see en ter land

 Heart of Abalone se ‘perlemoenplaas-toere’ word op Abagold se plase in Hermanus aangebied; daar leer jy meer van akwakultuur en hoe perlemoen in mandjies in seewater – maar nie in die see nie – gekweek word. Die mandjies hang in rye en rye tenks op die perlemoenplaas. Hier word elke maand sowat 1 000 000 babaperlemoentjies gekweek!

So word perlemoen in seewater in tenks gekweek

So word perlemoen in seewater in tenks gekweek

Die perlemoen word vir tot vyf jaar in mandjies in die water gehou voordat hulle 280 gram weeg. Teen 280 gram is die perlemoen nou ‘skemerkelkie-grootte’, ‘n gewilde grootte vir die mark.

In hul natuurlike habitat in die oseaan stel perlemoenmannetjies tussen 12 tot 15 miljoen spermselle in die lente (in September en Oktober) vry. Op hul beurt stel perlemoenwyfies dieselfde aantal eierselle in die see vry. Perlemoen leef in kolonies – hulle kleef aan rotse vas – en dit verhoog die effektiwiteit van hul teling.

Wit waterboetse staan in gelid en wag op besoekers aan die perlemoenplaas

Wit waterboetse staan in gelid en wag op besoekers aan die perlemoenplaas

By Heart of Abalone aangekom moet jy spierwit waterstewels aantrek voor jy jou na die hart van die perlemoenplaas kan begewe. Hierdie boetse verseker dat die higïeniese standaarde of bio-sekuriteit ten alle tye gehandhaaf word. Jy moet ook deur ‘n poeletjie chloorwater loop om seker te maak dat geen kieme die terrein binnekom nie.

Tyd om perlemoen te proe

Na afloop van die toer deur die perlemoenplaas is ‘n opsionele perlemoenproe beskikbaar. Drie proehappies – perlemoencarpaccio, Peruviaanse perlemoen-ceviche en perlemoen-‘pêrels’ (klein heel perlemoentjies) – word bedien.

Abagold is in die vroeë negentigs deur dr. Pierre Hugo begin. Abagold is nou ‘n publieke maatskappy met meer as 400 permanente werknemers.

Heart of Abalone – as deel van Abagold – is in 2015 deur sy seun, Johan Hugo, op die been gebring. Johan se oogmerk was om akwakultuurtoerisme te bevorder. Hy het aanvanklik begin deur perlemoenplaas-toere – ook as leersame skooluitstappies – met gidse aan te bied om die hele proses van akwakultuur en die oogmerke van die besighede te verduidelik.

Stap van hawe tot hawe

Behalwe vir perlemoenplaas-toere bied Heart of Abalone ook ‘n begeleide staptog van die Ou Hawe langs Zwelihle na die Ou Hawe in Hermanus aan. Almal wat stap, ontmoet die gids by die kanonne by die Ou Hawe. Van hier is dit drie kilometer na die Nuwe Hawe.

Terwyl jy stap, leer ‘n gids jou meer van die kuslyn en die mariene ekologie van Hermanus. Die totale afstand is drie kilometer.

Dis egter maklik om sonder die begeleiding van ‘n gids te stap. Dis onmoontlik om te verdwaal!

Die paadjie is netjies geplavei en daar’s aanwysingsborde. Orals langs die rotsagtige kuslyn kyk jy oor Walkerbaai uit. Kyk mooi of jy Danger Point se vuurtoring in die verte kan raaksien as die dag nie te mistig is nie.

Van Junie-Julie tot November is jou kanse goed om walvisse te sien. As jy gelukkig is, spring een dalk met ‘n sierlike boog uit die water of spuit ‘n fontein bo sy kop uit.

Op pad na die Nuwe Hawe stap jy verby Fick se Poel in Westcliff. Fick se Poel is ‘n kleinerige getypoel tussen die rotse. Jy klim met ‘n stel trappies af tot onder by die poel. Dis ‘n gewilde swemplek tydens laagwater vir kinders sowel as ‘n goeie plek om die son te sien sak.

Laastens kan jy ook – as deel van die toer – ‘n golfenergie-omskakelaar sien. Die demonstrasiemodel is tans onder konstruksie met die doel om hernubare energie langs die aktiewe kuslyn op te wek. Hierdie model word nog nêrens op groot skaal of kommersieel gebruik nie.

Waar is Heart of Abalone? Abagold, Nuwe Hawe, Hermanus

Perlemoenplaas-toere: Maandae tot Donderdag 11h00 en 15h00

Vrydae 11h00

Bespreking is noodsaaklik vir naweke of vir                                                                                   meer as 5 mense in ‘n groep

Tydsduur: 1 uur 15 minute

Prys vir toer: R130

Prys vir perlemoenproe: R170

Hawe-tot-hawe stap: Maandae tot Vrydae 9h00;  slegs per afspraak.

Minimum van 5 persone in groep

Tydsduur: 1 uur 30 minute

Prys: R350

Bespreek by: 083 556 3428

www.heartofabalone.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 23, 2019 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .