ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

AS DIE WALVISSE NIE WALS NIE

First published in Die Burger, June 2012

(Since this article has been published quite a few places have closed down or changed ownership)

Hermanus: Waar strate wel naam het

Vergeet van die walvisse. Nee, darem nie regtig nie. Maar hulle is net vir ‘n paar maande van die jaar hier. En dan nog soms ver van die wal af.

 

Leer die agterstraatjies van Hermanus ken. Die plekkies wat die dorpenaars ken. En ondersteun. Komaan, dis nie eers so ver agtertoe nie. Dis waar die dorpenaars in die stiltye, en soms ook in die seisoentye, kuier. Daar waar hulle inloop en aan die gesels raak, want almal ken mekaar (en mekaar se familie) op die naam.

Spek en eiers kry ‘n nuwe baadjie

Wat van begin met ‘n luilekker ontbyt? Dit kan maar laat in die oggend ook wees. In Hermanus werk hul horlosies hoeka anders. Of dalk is dit die seelug wat almal so rustig laat verkeer.

Voor Oskars staan ‘n Land Rover met ‘n skulphart op sy neus. Dis seker ook die eienaar van die twee bont honde wat op die stoep dut. So goedgemanierd dat hulle ons met die instap groet terwyl hul baas die koerant lees. Ons probeer loer wat in sy bord is.

Toe die spyskaart voor een Bolander en een Dorpenaar neergesit word, is die opsies vir ontbyt amper legio. As dit vroeër in die dag was, sou die By appointment by her Majesty – Earl Grey tee met twee papawersaadbeskuite – my keuse gewees het. Nou sukkel ek om ‘n keuse te maak tussen die Old School Breakfast en die Verlorenbrood (Franse roosterbrood, gebraaide piesang, roomkaas en heuning).

Daar is ‘n gerusstellende geroesemoes terwyl die kelnerinne flink bestellings neem. Proteas seëvier as die gewildste blom en onpaar lampe hange in rye uit die plafon. Iemand met visie het dit beplan, want enkel-enkel gaan hierdie lampe nie hond haaraf maak nie. Ons bespeur wit porseleinhasies en stokou tennisrakette, voëlhokke teen die muur geverf en ouma-se-koekbordjies. Is dit ‘n lui huisvrou wat nou van die gevriesde lam-en-roosmarynpasteie bestel om tuis aan haar mense te gaan voorsit, bespiegel ons stilweg.

‘n Kwota boeke en kuns

Langs Oskars is The Book Cottage wat ‘n wye verskeidenheid boeke het. Hier het ek al meer as een keer ‘n boek gevind waarna ek al lank soek. Of ‘n kalender. Of ‘n reisdagboek.

Dis tyd vir ‘n bietjie voedsel vir die siel. Net oor die pad is Rossouw Modern (wat ook as Die Vissermansgalery bekend staan) in ‘n outydse vissershuisie. Dit voel of kleure jou omring as jy binnestap, van Glenn Cox se spelerige skilderye tot Elmien, die bestuurderes se funky uitrusting en vrolike gebabbel. Dit voel sommer of ‘n mens hier wil sit en ‘n tweede koppie koffie drink. Alles teen die mure is oorspronklik en kontemporêr.

Die see is nou agter jou

Die middedorp van Hermanus is klein genoeg dat jy eintlik oral heen kan stap. Ons mik weg van die see af en ‘n paar blokke verder kom ons op Tomorrow’s af. Tomorrow’s het nie te lank terug sy deure oopgemaak nie. Nogal moeilik om te glo as jy sien watter versamelaar-meubelstukke hier te kry is. In ou elegante lae-plafonvertrekke met die mooiste vloere word alles funksioneel uitgestal. Ons voorspel mense gaan nog van heinde en verre hiernatoe ry.

Skuins oorkant is Matchbox, ‘n klein krapwinkeltjie, waaroor baie mense eintlik stilbly omdat hul bang is hul loop self iets mis as te veel ander hier kom rondsnuffel.

Terug see se kant toe is Sugar Plum pers geverf en die vriendelike eienares dra skelpienk. G’n wonder die Hermanus-mamma’s draf hierin as hul dogtertjies – of dié se maatjies – verjaar nie.

Knip en koop

Stap om die hoek en loop op die linkerkantse sypaadjie. As jy ‘n skêr en kam op die sypaadjie geverf sien, moet jy ‘n paar tree terugloop. Dis nou behalwe as jy gou vir jou wederhelf ‘n afspraak by Hair for Men wil maak. Andersins stap jy tussen ‘n ou tas of ‘n parkbankie, dalk ‘n skatkis van ouds of ‘n leunstoel, by Chilli Pepper in.

Daar’s so baie om te sien, en dis so hoog opgestapel, dat julle dalk mekaar sal moet bel as julle nie mekaar raaksien nie. Hier kan jy uitloop met ‘n visgieter of ‘n wilde pruik, dalk met vuurtoringservette of ‘n ou weermagshoed. Kersfeesversierings en teaterkostuums is regdeur die jaar beskikbaar. Teen die middel van die jaar sal hier ook ‘n Kitsch Café open en met so ‘n naam wil jy sommer noual jouself daar gaan neerplak.

By Felicidad hang geroeste voëlhokke voor die pienk winkeltjie teen die plafon. Binne-in voel jy sommer ekstra vroulik en lus om rose te rangskik. Of ‘n grimeringstoel met linte te behang.

Op die hoek van die straat draai jy weer regs. Ek het mos gesê alles is binne stapafstand. As jy my nie geglo het nie, moet jy nou maar om verskoning vra.

By Amulet vier fluweel en kant, Franse spieëls en blomme, hoogty. Hier kan jy ook onder skilderye van Frida Kahlo sit en kyk wie nog inkom terwyl jy café latté bestel.

Aan die een kant is Amulet se pienk; aan die ander kant Beach House se blou

By die volgende hoekgebou verraai die lang, wit hortjies en die streepsuikerblou mure wat binne is. Dis die Beach House en hier is elke skakering blou vir jou strandhuis, of leefhuis, te kry. Ook nie net blou nie. Koraalmotief-vadoeke, patryspoort-skeerspieëls, Ayala Bar-juweliersware van Israel, kolwyntjie-staanders, los strandjurke, piouter-kombuisware!

‘n Boergonje restaurant

Loop maak ‘n mens honger. Mik weer see se kant toe en ervaar Celia en Rayno Rabie se gasvryheid by The Burgundy. Binne kyk honderde Fornasetti-oë na jou. As die jongmanne van See-en-Sand aan die see se kant verbygedraf kom, oortuig Celia jou sommer maklik dat sy die kaalbolyf-vertoning spesiaal vir klante gereël het. Ons kla nie.

Jy veroorsaak ‘n groter dilemma vir jouself as jy vir die dorpenaars vra wat jy moet bestel – die lys raak net al langer en dit gee amper ‘n gestryery af. Die mossels is altyd vars! Enigiets met skyfies, want dit word in die oulikste sinkemmertjies bedien. Die burger is ongeëwenaar, maar jy móét ekstra spek en pesto byvra!

As jy te lank by hierdie tafels vertoef, sien jy later te veel wal(sj)visse.

Te min ure in ‘n dag

Gaan loer oor die muur na die romantiese Ou Hawe. Deesdae lê hier net ‘n paar bootjies op droë land; staan ‘n rukkie stil en tuur oor die oseaan – beelde van vergane dae se visbootjies met hul vangste kom gou na vore.

 

Ag nee, ek het so ‘n spesmaas die dag glip te vinnig onder ons uit. By Hemingway’s Boekwinkel stap niemand gou-gou in nie; dit raak ‘n lang vertoef.

By The Gem wys Hassan turkoois, goue en silwer juweliersware uit sy tuisland, Turkye. By Pure South is alles uiters keurig en handgemaak – van blom-teekoppies tot protea-muurversierings, van individueel versierde keramiekteëltjies tot blikwekkertjies.

By Fleurs is daar kuns en blomme

By Fleurs – The Art of Flowers is daar nie net blomme nie.

As daar tyd is vir nóg ‘n cappuccino, kan jy by Anya’s Mom inloer. As die son sak, is daar bitterballen en jenewer by Dutchies by Grotto-strand.

Een dag in Hermanus se agterstraatjies – nee wat, jy het baie meer tyd as dit nodig. Jy het dan nog nie eens by The Barefoot Cook gaan eet nie en almal praat van die Stilton met port en die eend wat hier bedien word.

 

VYF STERRE IN HERMANUS
Moenie huiwerig wees om The Marine Hotel te besoek as jy nie daar oorbly nie. Dis nié net vir ladiedaa Europeërs en glyjakkalse nie.

Bederf jouself by The Pavillion by The Marine

·            Drink ‘n skemerkelkie of ‘n glas vonkelwyn in The Sun Lounge.
·            Op Sondae tot en met 3 Junie 2012 word tradisionele Sondag-middagetes teen R95 per kop voorgesit. Spesiale aandete-spyskaarte met of sonder wyn is ook tot 3 Junie beskikbaar.
·            Gourmet wynproe-aande word soms op Vrydagaande gehou.
·            Bespreek vir die etes of vir die wynproe by bookings@themarine.co.za 
‘n Outydse fliek wat jou tone laat krul
Met die instap by Romantiques Bygones and Collectables hang jou mond oop en jy verlang na jou grootouers.

Romantiques sal jou terugvoer na toe jou oumagrootjie nog geleef het

* Toenterdae se flieks word op Woensdae en Saterdae gewys. ‘n Deposito vir jou sitplek word vereis, maar dit kos jou nie ‘n sent om die fliek te sien nie.
* Vir Coke-liefhebbers is daar ‘n spesiale hoekie in die winkel ingerig.
* Regdeur die dag word ou nostalgiese grammofoonplate gespeel.
* Jy kan amper enigiets wat in jou ouma of oupa se huis was, hier koop. Of net daaraan voel.
* Op die boonste verdieping is opgedresde mannekyne en baie crimplene.
Romantiques het verskuif na Aberdeenstraat 14, Hermanus. Telefoonnommer: 028 312 4226

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 4, 2017 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .