ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die mooi van ‘n ander hoek

First published in Die Burger, January 2013

DOEN OM HEMELSNAAM TOG IETS ANDERS VIR ‘N SLAG

Dis die ene tande

“Klim in die eerste hok!” kry ek raad as afskeidswoorde toe ek na die boot loop. Manlief het immers seewater in sy are. Ek, daarenteen, is bibberend van vrees. Ek kan nie eers swem nie en nou wil ek in ‘n staalhok klom om die wit (eintlik grys) dood van naderby te aanskou. Ek weet nie waarvoor ek eintlik die bangste is nie: kop onder die water agter tralies in die diep blou see of om in ‘n haai se ry tande vas te kyk.

Die haaie wag vir ons en haaikoors loop hoog

Ek’s nogal verbaas dat ek die enigste Suid-Afrikaner op die boot is. Meer as die helfte van die boot raak terstond seesiek voor ons nog lank gedobber het. Gelukkig voel ek nie eers bleek om die kiewe nie. ‘n Rubberboot word ontbied – nogal teen ‘n heftige addisionele fooi – en die arme drommels word terug land toe geneem.

Ek luister vir ‘n slag. Bra onwillig klim ek bewerig saam met die eerste groep oor die rand van die boot. Dankie tog, ek hét geluister. ‘n Drie meter witdoodhaai kom draai telkens rég voor ons hok. Ek knyp lieste vas sodat geen ledemaat by die dubbele stel tralies uitwapper nie.

Ons skiet soos kurke by die water uit, gil tegelyk, haal diep asem, en duik weer af. Ja, sowaar, ek ook.

Die glimlag verraai nie die senuwees nie

Sela. Ek’t dit gedoen. En die witdood van naby – amper te naby – gesien. Nou kan ek maar weer ‘n glas chardonnay op ‘n hotelstoep drink eerder as die oseaan aandurf. Want ek het al.

As jy ook ‘n haai van naby wil sien: Berei jouself voor deur na www.sharkwatchsa.com te kyk; bespreek terselfdertyd ook op hierdie webtuiste.

So vry soos ‘n voël

Safely back after scary but exhilirating microlight flight

Waarin het ek my tog nou begewe? wonder ek beangs. Ek kan nie eers iemand anders blameer nie? Ek wil mos nou een keer per jaar myself bangmaak. Nou’s ek régtig bang.

Dis ‘n ou grappie dat ‘n mikroligte vliegtuigie eintlik maar net ‘n grassnyer is wat kan vlieg, maar dis presies waarna dit nou lyk.

Trygve is egter nonchalant as hy vir my ‘n vliegpak aangee, vinnig touwys maak en laat opklim. Dis ‘n piepklein stoeltjie. My hart voel of dit by my keel uitspring net voor ons opstyg. Dis so amper of my moed begewe my. Maar deurdruk sal ek.

Vir naastenby die eerste vyftien minute – dit voel na ‘n oneindigheid – is ek te vreesbevange om te beweeg. My kameralens word met wit kneukels vasgeklem en ek kan myself nie sover kry om te draai om behoorlike foto’s te neem nie.

Daarna ontdooi ek. Ons vlieg net-net bo die branders. Dit voel asof die skuim teen my enkels spat.

Ons gaan maak sowaar ‘n swierige draai om Milnerton se spierwit vuurtoring met sy rooi kadotjie. My beker loop oor. Ek waai wild vir al die vreemdelinge op die strand. Tafelberg – sonder ‘n tafeldoek – kyk goedkeurend toe.

Ek verstaan nie hoe die kontrêpsie werk nie – en ek dink nie ek gaan weer vlieg om meer uit te vind nie – maar met die afdaal, is dit wilde spiraaldraaie wat jou maag (en niere en galblaas) in jou keel laat spring. Ek bíd.

Oorkant Koeberg verby, oor ‘n plaasopstal en wye velde, en dan hoog, hóóg tot amper by die hemel se poorte. ‘n Ligte vliegtuig lyk so klein soos ‘n speelgoedvliegtuigie onder ons; my Yarissie soos ‘n koppiespeld.

Bokant die cumulus-wolke draai Trygve na my. Gelukkig hoef hy nie te kýk waar hy vlieg nie. Sy gesig is ekstaties gelukkig – dis die plek waar hy wil wees. “Dis die naaste wat ek jou aan die hemel kan bring.” Sê hy. Ons spiraal weer af.

Ek’s steeds bang. Maar o so gelukkig. Ek forseer myself om my oë oop te hou sodat ek nie ‘n sekonde van hierdie ervaring misloop nie. Te gou is alles oor. Op ‘n manier het dit gevoel of ek my eie vlerke het. Halleluja.

As jy ook in die wolke wil gaan draai: Kyk wat dit behels by www.aquilamicrolight.com;kontak Trygve by info@aquilamicrolight.com; of skakel Trygve op 083 580 7250.

‘n Brommer in die lug

Kaapstad is sekerlik een van die mooiste stede in die wereld

Dis een ding om met ‘n Boeing te vlieg. Dis ‘n ander petalje om met iets heelwats kleiners te vlieg. Soos ‘n helikopter byvoorbeeld. En dis iets wat ek nog nooit gedoen het nie. ‘n Helikopter styg réguit in die lug op, vertel die wederhelf. Ek herkou nog die idee van met ‘n brommer in die lug ronddraal toe ‘n geskenkpakkie met ‘n geskenkbewys en ‘n speelgoedhelikoptertjie op my skoot beland. Dus – hier gaat ek!

Ietwat senuweeagtig, maar darem meer opgewonde. Ek voel of ek in die nuwe James Bond-fliek speel toe ek koes-koes hardloop om in te klim. Nie dat dit regtig nodig is vir kort passasiers nie, maar dit dra by tot die oomblik.

Die opstyg is toe wraggies vertikaal. Met ‘n draai oor Tafelbaai. Onder ons pryk die Waterkant, dan Groenpunt-stadion (ek dink vinnig aan die polemiek wat met die bou geheers het), verby Seepunt en nou kan ek sien hoe Leeukop en Seinheuwel regtig lyk. Om Bantrybaai, tot verby Kampsbaai se strand.

O, ons bly darem in ‘n mooie stad en ‘n pragtige land! My hart swel van trots asof ek iets daarmee te doen het. Ek verkyk my opnuut aan alles met die omdraai en terugvlieg – nee wat, dis nie om voor bang te wees nie; dis om jou stad uit ‘n ander hoek te sien en te weet jy wil net hier woon.

As jy ook met ‘n brommer wil vlieg: Kyk watter vlugte beskikbaar is by www.nacmakana.com; bespreek vooraf by info@nacmakana.com of skakel (021) 425 3858.

 

 

 

2 comments on “Die mooi van ‘n ander hoek

  1. sonell
    February 14, 2018

    Dis mos nou hoe mens jou vrese oorkom!

  2. ilsez
    June 25, 2021

    Soms, ja, Sonell! Eisj, ja.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 13, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .