ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

VERKEN VANWYKSDORP EN OMGEWING

First published in Die Burger, July 2015

Meer as wat in ‘n dag kan inpas

Vanwyksdorp het waarlik rede om met sy kerk te spog

Vanwyksdorp het waarlik rede om met sy kerk te spog

Dis sekerlik een van die grootste lekkertes daarvan om in Suid-Afrika te woon – om ‘n afdraaipad te vat en te kyk waar jy uitkom. Om ‘n naam op ‘n padkaart te sien en te besluit om te gaan kyk hoe dit daar lyk. Sommer net. Omdat jy kan. En om verkieslik grondpad tot daar te ry.

Dis net mooi hoe dit gebeur het toe ons ons onlangs tussen Prins Albert en Ladismith bevind en ‘n dag en nag tot ons beskikking het om te verken. Ons het al die naam Vanwyksdorp gehoor, maar dis al. En dis mos genoeg aansporing.

Vanwyksdorp is trots op sy polisiestasie

Vanwyksdorp is trots op sy polisiestasie

Daar’s fluisteringe dat daar ‘n stadium in Vanwyksdorp se geskiedenis was dat amper almal op die dorp se van Van Wyk was. Ander bronne noem dat daar op een stadium sowat 200 Van Wyks in die distrik gewoon het. Vandaar die naam natuurlik.

In die Van Wyk-begraafplasie groei doringbome tussen die grafstene

In die Van Wyk-begraafplasie groei doringbome tussen die grafstene

By Buffelshoek se plaashek enkele kilometer buite Vanwyksdorp is ‘n klein familiebegraafplasie met heelwat “In liefdevolle herinnering”-grafstene. Andries Daniel van Wyk is in 1844 gebore en het in 1927 gesterf; Matthys Cornelius van Wyk onderskeidelik in 1859 en 1941; en Wessel Francois van Wyk in 1849 en 1925. Nie een van hul vrouens se nooiensvanne was darem óók Van Wyk nie.

Vanwyksdorp het as kerkdorpie op die plaas Buffelfontein – die eertydse eienaar was Gerrit van Wyk – ontwikkel. In 1904 is die NG Gemeente hier gestig. Die pragtige Neo-Gotiese kerkgebou is steeds in gebruik en is ‘n absolute sieraad in die dorp waarvan ‘n redelike deel nogal vervalle is.

Eintlik moet elke Karoo-dorp 'n windpomp by sy ingang he

Eintlik moet elke Karoo-dorp ‘n windpomp by sy ingang he

Die ingang na Vanwyksdorp is amper besiger as die dorpie self. Ek lees: Mont Rouge Olyflandgoed, Saffreys Country Store, Vanwyksdorp Mall, The Barking Frog Koffiewinkel, Klapperbos Plaas en Gastehuis, Bush Camp Kothuise, Paddagaste en Rooiberg Lodge. My moed sak so bietjie in my skoene, want niemand kon al uitvind hoe om meer ure in ‘n dag in te prop nie, en by alles op hierdie naambord gaan ek nie uitkom nie. Dis egter ook ‘n bedekte seëning, want dit beteken maar net dat ek sal moet terugkeer.

Net sodat jy dit nie perdalks vergeet nie, is daar boonop nog ‘n ou wa waarop vier wynvate met aalwyne staan, en ‘n pyl wat wys watter kant toe jy moet ry om by Vanwyksdorp Mall uit te kom. ‘n Naambord daaragter herinner jou dat Vanwyksdorp – saam met Ladismith, Calitzdorp en Zoar deel van Kannaland Munisipaliteit uitmaak.

Met ons besoek kry ons nie The Barking Frog oop nie, maar vroegoggend en laatmiddag is nie sulke geleë tye om in ‘n klein dorpie rond te drentel nie. Saffrey’s Country Store lyk of daar lánklaas besigheid gedoen is. Ons neem ons voor om volgende keer by Klapperbos Plaas en Gastehuis ín die dorp te oornag. En ‘n oggenddiens in die ongelooflik mooie kerk by te woon.

By Vanwyksdorp Mall kan jy sommer ‘n naweekhuisie (by Heidi de Kock Properties) aanskaf sowel as spotgoedkoop hekelkussings, potte en panne, geraamde foto’s van die distrik en T-hemde wat aan jou vriende bewys dat jy al op Vanwyksdorp was.

'n Tipiese Vanwyksdorp toneeltjie waar amper niks die rus versteur nie

‘n Tipiese Vanwyksdorp-toneeltjie waar amper niks die rus versteur nie

Vanaf Vanwyksdorp kan jy die Aardvark Natuurreservaat besoek. Drie-uurlange aardvarktoere word aangebied – dis heel eerste op my lysie as ek weer in hierdie omgewing kom.

Ek hoop ek kan my volgende besoek so skeduleer dat die wildegranate geel in die blom orals in die veld staan. Of plate en plate pers en geel vygies…

As jy meer oor Vanwyksdorp wil weet:
·        Op www.vanwyksdorp.com lees jy dat daar drie winkel(tjie)s, ‘n skool (in 1912 gebou), een restaurant, twee drankwinkels, ‘n posagentskap, ‘n (diesel)pomp, ‘n satelliet-munisipaliteitskantoor en ‘n kliniek is. Verder lees jy dat al hoe meer toeriste deesdae hierheen begin stroom, maar dis nog nie sigbaar as jy die dorpie verken nie.
·        Jy kan Vanwyksdorp nét met ‘n grondpad bereik.
·        Vanwyksdorp is 42 km vanaf Ladismith. Vanaf Riversdal is dit 75 km tot in Vanwyksdorp – jy ry oor die Garcia-Pas . Vanaf Calitzdorp is dit 45 km – jy ry oor die Rooiberg-pas. As jy in die rigting van Herbertsdale ry, neem die pad jou oor die Cloete- en Du Plessis-passe; die pad is 81 km lank.

 

Om te besoek:
·        Vanwyksdorp is deel van die Gourits-Biodiversiteit-Meander – dit strek vanaf Gouritsriviermond na die Kango-Grotte en via Herbertsdale, Vanwyksdorp en Calitzdorp. Omtrent elke tien kilometer kan jy ‘n verskil in die plantegroei bespeur.
·        Dis ‘n belewenis om met die Rooiberg-pas langs te ry. Dit word aanbeveel dat jy só ry dat Vanwyksdorp agter jou lê m.a.w. jy ry via Dwars-in-die-Weg. Bo-op die pas is ‘n hopie gebedsklippe gepak. Daar word vertel dat reisigers hier gestop het om te bid as hulle die bopunt bereik het en vóór hulle die steiltes na onder aangepak het.
·        Rooiberg Lodge is in die Assegaay Natuurreservaat geleë. www.rooiberglodge.co.za
·        ‘n Olyfplaas waar jy ‘n draai kan gaan maak: www.montrougeolives.com

 

Waarom sou hierdie grappie dan nou in Vanwyksdorp afspeel?
‘n Dominee word afgetrek vir spoed. Verkeersbeampte: “Waar woon jy?”

Dominee: “Kerkstraat 1, Vanwyksdorp.”

Verkeersbeampte: “Jou werksadres?” Dominee: “Kerkstraat 1, Vanwyksdorp.” Verkeersbeampte: “O, werkloos en jy vat sulke kanse??”

 

 

 

3 comments on “VERKEN VANWYKSDORP EN OMGEWING

  1. Heinrich Foot
    December 4, 2020

    Van Wyksdorp is n pragtige plek !!! My Ma is gebore op julle dorp en ek wil graag uitvind hoe haar spore daar geloop het.Haar naam is Anna Maria Swift en sy is gebore 1912.Waar sou ek meer besonderhede op die dorp kan kry.Sy is getroud met C.A.W.Foot wat n duitser was sy voorsate het 1883 na Suid Afrika gekom en was groente boere in die Kaap.Die area was Phillipi genoem of die Kaapse Vlakte.
    My naam is Heinrich A.W.Foot.Sal baie waardeer indien u my meer verwysings kan gee.

  2. Heinrich Foot
    September 6, 2021

    My Ma is op Van Wyksdorp gebore in 1912 en ook daar gedoop.Ek het n idee dat haar ouers ook daar begrawe is.Hoe gaan n mens te werke om dit vas te stel

    • ilsez
      January 5, 2022

      Ek het ongelukkig geen idee nie, Heinrich. Ek was nog net 2 keer op Vanwyksdorp. Dalk moet jy een van die besighede (daar is net ‘n paar kontak) en vasstel of hulle iemand ken wat jou kan help. Ek hoop jy kom reg.

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 16, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .