ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Voet in die hoek tot by De Hoek

First published in Beeld, November 2017

Bestyg groen omsoomde trappe na De Hoek Country Hotel se hoofgebou waar ontbyt en aandete bedien word

 Magaliesburg, sowat ‘n uur se ry vanaf Pretoria en Johannesburg, is bekend vir sy gasvryheid en gastehuise. Magaliesburg is die ene berge, valleie en riviere.

As jy oor ‘n bruggie inry en De Hoek Country Hotel voor jou sien, kom Eugène Marais se woorde uit Winternag – “so wyd as die Heer se genade” by jou op. Jy sien die veld(e) tot “hoog in die rande”.

Die hoofgebou van hierdie boetiekhotel is van Lesotho-sandsteen en hoewel dit in 1991 opgerig is, straal dit elegansie van vervloë dae uit. In jou kamer wag daar ‘n eendjie op die rand van die bad – myne was so pienk soos ‘n Star-toffie – en malvalekkers in ‘n fles.  Ook soetkoekies om in jou tee te doop en glansbladtydskrifte vir badlees. En ‘n japon wat ek lus is om gewetenloos in my tas te pak. Maar ek’s nie so grootgemaak nie, helaas.

Heeltemal buite karakter draal ek buite rond om boomskaduwees af te neem eerder as om myself direk na die knus kroegie te begewe.

Laatmiddag gooi die bome hul skadu's in die water, op die plaveisel en op aangrensende geboue

Synde jy meer ywerig is, kan jy – as die weer saamspeel – in die swembad omring deur bome swem, in die berg of langs die rivier gaan stap, voëlkyk beoefen of in die distrik gaan wild kyk.

Daar’s egter nie ‘n kat se kans dat ek die aandete van Michael Holenstein en sy span sjefs gaan misloop nie. De Hoek is al vir jare lank een van die top 100 restaurante in Suid-Afrika. Boonop spog hulle vir die derde jaar in ‘n ry met ‘n American Express Platinum Fine Dining Toekenning sowel as ‘n Diners Club Internasionale Wynlys Platinumtoekenning vir 2016.

My beker loop oor toe ek tandoori-kammossels – met kekerertjiemoes en komkommer-en-jogurtsmoor op die spyskaart sien. Daarmee saam word ‘n glas Spioenkop Chenin Blanc aanbeveel.

Ek verbaas myself deur vir een van die eerste kere ooit salm in ‘n restaurant te bestel. Die Skotse salm met salsa verde, gesoteerde groenboontjies, courgettes, boulangere-aartappels en suurlemoen-beurre blanc – saam met Bouchard Finlayson Kaaimansgat Chardonnay – verlei my egter met die lees daarvan. Daar’s nie ‘n sweempie spyt na die tyd nie.

Ek troos myself daaraan  dat ek nie gou weer in hierdie deel van die land gaan kuier nie toe ek malvapoeding met botterkaramelsous èn vanieljeroomys, tesame met ‘n glas Donkies Hooiwyn, laat tafel toe dra. Gelukkig het ek ‘n gewillige reismaat wat haar eie lepel naderhark.

By die lang mahonietafel word die ontbytbuffet bedien

By die lang mahonietafel word die ontbytbuffet bedien

De Hoek skenk nie net spesiale aandag aan hul wyne nie. In die leeskamer is reisboeke deur Thor Heyerdahl, Bill Bryson en Isak Dinesen (een van die skuilname waaronder Karen Blixen van Out of Africa-faam geskryf het). Ook boeke oor ‘n wye verskeidenheid ander onderwerpe soos Franse kuns in die Hermitage, Nelson Mandela, onverklaarde geheime in Suider-Afrika, die Midde-Ooste, plante en kaggelstories.

Die volgende oggend pik-pik veerpoothoenders in die tuin. Apies, waaronder een afhand-afbeen aap wat die personeel gemoedelik Two-Stroke noem, spring van tak tot tak. Dís wat ‘n plek siel gee. Saam met die kammossels en malvapoeding (afhangende van die seisoenale spyskaart) natuurlik.

Sou jy wou gaan: www.dehoek.com

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 13, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .