ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kom toer deur die Franse platteland

First published in Beeld, March 2018

Frankryk is ‘n frappante reisbestemming

'n Glas wyn terwyl die son oor die rivier sak

‘n Glas wyn terwyl die son oor die rivier sak

Om as ‘n frappante reisbestemming beskou te word, moet dit wat reisigers sien en beleef ‘n sterk indruk maak en opvallend mooi of interessant wees.  Só ‘n bestemming is Frankryk, meer spesifiek die suidweste van die land.

Saint-Émilion is die mooiste dorpie – of wynstreek – in Frankryk. Só reken baie Franse én toeriste van heinde en verre.

Afhangende van uit watter rigting jy Saint-Émilion benader, is daar sewe paaie wat jou soontoe sal lei.

Saint-Émilion lê in die gewes (région in Frans) van Nieu-Akwitanië (Nouvelle-Aquitaine). Twee van die sewe paaie wat na Saint-Émilion lei, loop uit Bordeaux, die hoofstad van Nieu-Akwitanië, en met beide ry jy die dorp deur die Stadsburgerhek binne.

In die hart van Nieu-Akwitanië vloei drie riviere: die Dordogne- en die Garonne-rivier  vloei op ‘n stadium saam om die Gironde-rivier te vorm.

Bordeaux is een van die vernaamste wynstreke, nie net in Frankryk nie, maar in die wêreld. Wyne van Bordeaux word steeds geklassifiseer volgens kategorieë – van First Growth tot Fifth Growth – wat in 1855 bepaal is na Napoleon versoek het dat wyne in kategorieë ingedeel moet word ten einde aan besoekers die beste wyne te kan aanbied. Geen ander of nuwe wynlandgoedere kon hierdie klassifikasie hierna op enige manier verwerf nie.

Toeriste besoek egter nie Bordeaux, Saint-Émilion en Cognac sowel as kleiner dorpies soos Blaye, Libourne, Pauillac, Cadillac, Bourg-sur-Gironde asook prentjiemooi gehuggies soos Margaux, Saint-Julien en Saint-Estephe net vir wyn en chateaus nie. Weliswaar was die wingerde van Bordeaux reeds in die Middeleeue bekend en daar is reeds in die jaar 2000 bereken dat daar nét in die wynstreek van Saint-Émilion 26 miljoen wingerdstokkies aangeplant is.

Die suidweste van Frankryk – waar Saint-Émilion en Bordeaux geleë is – lok lekkerbekke wat in hierdie geweste smul aan cannelé, ‘n gebakte kolwyntjie wat met vanielje en rum gegeur word, entrecôte (geroosterde biefstuk) met sauce bordelaise (‘n sous van rooiwyn, murg, sprietuie en kruie), inheemse garette-oesters, foie gras (ganslewer), confit d’oie (ingemaakte eendvleis) en lamproie á la Bordelais (paling wat in rooiwyn gekook word). Dan praat ons nog nie eers van die Grand Cru-wyne van Saint-Émilion nie.

As om aan die regterkant van die pad te bestuur nie jou broekspype laat bewe nie, sal jy – en nog soveel te meer jou passasiers – julself verlustig daarin om met eindelose kronkelpaadjies van een klipdorpie na die volgende gehuggie, elk met sy eie klipkatedraal, te ry.

Weerskante strek wingerde so ver as wat die oog kan sien; daar is amper altyd ‘n kasteel of chateau binne jou gesigsveld; platdakhuisies pronk met malvas en petunias in vensterbakke; en jy sal sukkel om te kies by watter koffiewinkel of plaaslike restaurantjie jy aandoen of verbyry. Dis nou behalwe keldertoere en wynproeë by eksklusiewe chateaus – party slegs per afspraak – asook by boetiekkelders en wynskure.

Dit sou ‘n skreiende skande wees om Nieu-Akwitanië te besoek sonder  om besoeke aan ‘n paar chateaus by te werk. Dit sal egter beteken dat jy jou huiswerk deeglik sal moet doen.

Dis nie net uit etiket wat jy nie sommer net kan opdaag as die wynlus of gier jou pak nie. Die gesogste wynlandgoedere vereis afsprake wat meestal lank vooraf gemaak moet word en laat ook net ‘n beperkte aantal besoekers toe.

Chateau du Tertre (www.chateaudutertre.fr/en/) is reeds ‘n volle eenduisend jaar oud. Die wingerde is sedert 1855 onveranderd gehou. Hierdie elegante landgoed behoort tans aan ‘n Nederlandse sakeman. Die uitgestrekte tuine huisves lieflike standbeelde waar jy dit die minste verwag soos ‘n bronsbeeld van ‘n man wat in die vlak kant van die swembad lê.

Jy kan Chateau Soutard (www.chateau-soutard.com) ampertjies vanaf die buitewyke van Saint- Émilion sien. Met die eerste aanblik kom Chateau Soutard amper modern voor; tog is dit glad nie die geval nie. Die geplaveide binnehof lyk groter as ‘n rugbyveld en verlei jou om jou op jou maag neer te vly om foto’s uit verskillende hoeke te neem. In die kelder hang regte, egte kristalkandelare.

Plaas ten minste een Sauternes-landgoed op jou lysie van chateau-belewenisse. Sauternes is Franse dessertwyn – dis goudgeel van kleur, maar namate dit verouder, verkleur dit na koper.

Alhoewel Frankryk die versinnebeelding van elegansie is, streel dit ‘n Suid-Afrikaner se ego as jy ook maar by ‘n garagiste-wynmaker wyn proe wat sommer lukraak uitgetap word en sonder seremonie oorhandig word; of as jy plek-plek tuinbeddings sien waar die onkruid gedy en waar daar neffens ‘n opblaasswembad aan die afblaas is. Ons is maar almal somtyds so.

Dis egter net in die Franse platteland waar verf wat afskilfer, ‘n romantiese ondertoon aan die bastides (Middeleeuse klipvestingdorpies) gee.

As jy die wynplase van Nieu-Akwitanië, die grootste streek in Frankryk verken, sou jy nooit kon raai dat dié streek ook dennewoude huisves wat amper een miljoen hektaar beslaan nie. Daar is ook – benewens die wingerde en die dennewoude – lang, uitgestrekte sandstrande wat gewild onder branderplankryers is.

In die Gironde-riviermonding word ook branderplank gery. Dis slegs moontlik wanneer die getybrander of mascaret wat springvloed beteken – daar is slegs een op ‘n keer – verbyspoel.

Die hoogste sandduin in Europa (2.7 kilometer lank en 500 meter breed) word ook hier aangetref.

Die stad van Bordeaux bied kuns, kos, argitektuur en wyn

Die stad van Bordeaux bied kuns, kos, argitektuur en wyn

Daar word gesê dat daar sowat 5000 geboue in die stad van Bordeaux is wat die moeite werd is om te besoek. Bordeaux het ‘n ryke geskiedenis, heelwat museums om te besoek en een van die grootste inkopiesentrums, Rue Saint Catherine, in Europa. Manlike inwoners van Bordeaux staan as Bordelais bekend, vroulike inwoners as Bordelaise. Bordeaux word dikwels die wêreldhoofstad van wyn genoem.

In 1999 is UNESCO Wêrelderfenisstatus aan Saint- Émilion toegeken. Party van die kerke in hierdie dorpie dateer terug na die twaalfde eeu. Ondergrondse katakombes of grotte word as bêreplek vir wyn gebruik. Soms huisves die grotte ook ‘n wynproelokaal of ‘n restaurantjie. Hou net jou oë oop vir ‘n naambordjie waarop CAVE(S) staan.

Jy kan ook ‘n deel van Saint-Émilion en die omringende wynplase met ‘n toeristetreintjie genaamd die Le Train des Grands Vignobles verken as jou voete al seer geloop is of jy sommer net lui voel.

'n Besoek aan die Huis van Remy Martin leer jou meer van konjak terwyl 'n vergelykende konjakproe saam met pasmaathappies ook aangebied word

‘n Besoek aan die Huis van Remy Martin leer jou meer van konjak terwyl ‘n vergelykende konjakproe saam met pasmaathappies ook aangebied word

Lank, lank gelede is sout in Cognac verhandel; deesdae is hierdie dorp natuurlik oorwegend bekend vir konjak vandaar natuurlik ook die dorp se naam. In die Ou Dorp, of Vieux Cognac, is verskeie ongewone geboue, kunsmuseums en kerke. Die Huis van Remy Martin is begroei met klimop, maar met die eerste aanblik sal jy nooit raai dat hulle al sedert 1724 konjak maak nie. Benewens ‘n inligtingspraatjie en ‘n keldertoer kan jy ook verskillende style konjak saam met proehappies geniet.

Dis dalk ‘n plus dat Libourne nie so baie toeriste as die stad van Bordeaux en Saint-Émilion lok nie.  Op die Abel-Surchamp-hoofplein is jy nie omring deur hordes mede-reisigers as jy jou verkyk aan die ou handelaarshuise en die stadsaal of as jy proe-proe tussen die boeremarkstalletjies drentel nie. In die omringende straatjies is sjokolade-, heuning-, grimering-, skoen- en geskenkwinkels wat unieke inkopies bied.

Blaye Sitadel is pragtig gerestoureer en jy sukkel om jou van die stadsmure weg te skeur as jy eers daarbinne is. Van die kasteelmure is tot tien meter breed, vertel ons gids. Elke lente hou Blaye ‘n wynfees genaamd Printemps des Vins; op Woensdae en Saterdae hou hul ‘n oggendmark wat onder andere vir die area se seisoenale aspersies bekend is.

Die rede waarom die meeste mense Pauillac besoek, is oor die beroemde chateaus wat net buite die dorp lê. Net oorkant die kaaie waar die rivierbote vasmeer, is ‘n boulevardjie met sypaadjiekafees; verder agtertoe kan jy wyn by die toerismekantoor proe sowel as ‘n negentiende-eeuse katedraal en marksaal besoek.

Bourg-sur-Gironde, wat soms net Bourg genoem word, spog met uitsonderlike wyne. Baie van die wynmakers woon ook hier.

Die toerismekantoor in Margaux is bowenal bekend vir hul kennis van die omgewing en vir riglyne oor watter chateaus oop vir besoekers is. Mademoiselle de Margaux (1 route de l’Ile Vincent, Margaux) maak gourmet-sjokolades wat deur wyn en wingerde geïnspireer word.

Die natuurskoon rondom Saint-Julien en Saint-Estephe is besonder mooi. In die omgewing is ook heelwat katedrale en ‘n paar kloosters wat jou mond sal laat oophang.

Chateau Royal de Cazeneuve het 'n kasteelmuseum, wynwinkel, ondergrondse kelder en bied Sauternes-pasmaatetes aan

Chateau Royal de Cazeneuve het ‘n kasteelmuseum, wynwinkel, ondergrondse kelder en bied Sauternes-pasmaatetes aan

Dit maak nie saak vir hoe lank jy beplan om te gaan nie – dis onvermydelik dat jy ‘n langer tyd rondom Bordeaux sal wil spandeer. Nie net om meer van die uitmuntende wyne te geniet nie hoewel dit definitief een van die beweegredes sal wees!

Hoewel dit natuurlik moontlik is om jou eie reistog deur die suidweste van Frankryk te beplan en te reël, is ‘n weelderige bootvaart wat al hierdie bestemmings besoek, hoogs aanbevole. Dit spaar jou ook tyd en energie en alle kostes is by die prys ingesluit.

Bespreek by Uniworld on (011) 280 8450 of www.uniworld.com

Ilse Zietsman was ‘n gas op die River Royale op die Bordeaux, Vineyards & Chateaux Cruise van Uniworld Boutique River Cruise Collection.

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 23, 2019 by in Bordeaux, ek hou van jou and tagged .