ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Besoek busse sonder terminusse

First published in Die Burger, August 2019

'n Tradisievolle bus van Londen en Matjiesfontein

‘n Tradisievolle bus van Londen en Matjiesfontein

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal omskryf ‘n bus as ‘n openbare rytuig vir die vervoer van passasiers. Dié beskrywing is darem net te prosaïes as dit by ‘n knalrooi – of ‘n kanariegeel – bus kom.

Spring op, spring af in die Moederstad

Is jy ‘n trotse Kapenaar? Woon jy heerlik in die skadu van die berg, by wyse van spreke? Was jy al op die Kaapstadse Rooi Hop On-Hop Off Toerbus? As jou antwoord nee is, is dit iets wat jy nie sommer in geselskap moet oorvertel nie. Mense gaan gou begin dink jóú bus is los en dat wat jy sê nie veel beteken nie.

City Sightseeing Cape Town se rooi bus ry op verskillende roetes insluitende 'n wynroete in die Constantia-omgewing

City Sightseeing Cape Town se rooi bus ry op verskillende roetes insluitende ‘n wynroete in die Constantia-omgewing

Op die rooi oopdakbusse van City Sightseeing South Africa Hop On-Hop Off Tours, hul amptelike naam, kan jy kies tussen vyf verskillende toere wat wissel van ‘n tog waartydens jy die hartjie van die Moederstad besigtig tot toere wat ‘n busrit met sonsondergang (slegs in die somer) insluit. Daar is ook busse wat na Kaappunt en Boulders, waar jy die pikkewyne kan besigtig, na Houtbaai en die wynplase in die omgewing van Constantia en na Franschhoek en Stellenbosch ry.

Die Kaapse Hop On-Hop Off rooi busse vertrek vanaf die akwarium in die Waterfront

Die Kaapse Hop On-Hop Off rooi busse vertrek vanaf die akwarium in die Waterfront

Terwyl jy op die bus is, kan jy na ‘n oudiogids luister wat vir jou oor die geskiedenis van besienswaardighede en die gewoontes en eienaardighede van Kapenaars vertel terwyl daar ook ‘n liedjie of twee gespeel word.

Kyk op www.citysightseeing.co.za/destinations/cape-town/categories/open-bus-tours-cpt na die spesiale winteraanbiedinge en wat om van die verskillende roetes te verwag. Jy kan ook op dié webwerf kaartjies bespreek.

‘n Rooi bus op die kaai van Mosselbaai

The London Bus Fish and Chip Company is ‘n bus sonder ‘n terminus. Of ‘n busbestuurder. Wag, dis eerder ‘n bus met ‘n kaai (Kaai 4, Mosselbaai-hawe) as ‘n bushalte as ‘n mens weer daaroor dink.

Jy sit so wrintiewaar onder of bo in die bus, jy kyk uit oor die see en jy smul aan vis of ander seekos. Dié busrestaurant is só gewild dat daar soms rye mense wag om sitplek in die bus te kry. Terwyl jy wag, kan jy solank besluit wat om te bestel, want op die sykante van die bus is die spyskaart – vir aansit- en wegneemetes – gedruk.

Die London Bus Fish and Chip Company verkoop ook wegneemetes

Die London Bus Fish and Chip Company verkoop ook wegneemetes

The London Bus Fish and Chip Company is nie gelisensieerd nie; neem jou eie wyn en wynglase in plaas daarvan om busgeld te betaal.

Kyk hoe ‘n bus wat vis-en-tjips bedien, hul etes en die uitsig lyk by: www.visitmosselbay.co.za/listing/the-london-bus-fish-chip-company/ of besoek hul Facebook-blad.

‘n Rooi bus op ‘n rooi dak

By Radisson Red se Red Roof Bar oorkant die Zeitz Mocaa-kunsmuseum  in die Waterfront (Silo 6, Silo-plein) bestel jy jou drankies by ‘n rooi en wit bus oftewel trok  met ‘n oopslaankap.

Vanaf die dakterras het jy ‘n ongeëwenaarde uitsig op Tafelberg, die Bo-Kaap sowel as die middestad. Daar is sitplek by kanariegeel stoeltjies om ronde tafeltjies of jy kan sitlê op sondekstoele terwyl jy jou voete in die swembad laat hang. Ek het ‘n voëltjie hoor twiet dat sommige hotel- en restaurantgaste selfs joga op die dak doen.

Ligte etes soos pizzas en burgers kan reg deur die dag bestel word.

As die Kaapse dokter oftewel die suidooster die Kaap deurmekaar waai, deel die kroegpersoneel komberse uit en drink jy uit plastiekglase.

Hier mag ‘n bus geparkeer wees, maar daar is geen busskuiling nie; dus is die Red Roof Bar nie op reënerige dae  oop nie; skakel die Radisson Red vooraf om seker te maak hoe die weer daar uitsien.

Kyk hoe dit lyk by: www.radissonred.com/cape-town/

Ry om die blok op ‘n kammabustoer in Matjiesfontein

Matjiesfontein is ‘n gehuggie in die Karoo, maar dié dorp se reputasie loop hom vooruit. Matjiesfontein het sy ontstaan te danke aan die spoorlyn waar dit een van die stilhouplekke was waar stoomlokomotiewe in die laat 1800’s van vars water voorsien is.

In die Lord Milner Hotel se kroeg, The Laird’s Arms, drink niemand water nie! Altans nie sover ek al aanskou het nie.

Sodra die kroeg vollerig begin raak, spring die legendariese kroegman, John Theunissen, op en jaag almal summier buitentoe. Sonder versuim word jy aangepor om op die rooi dubbeldekkerbus wat altyd buite voor die hotel geparkeer staan, te klim. Dis ‘n bus wat jy nie sommer gaan verpas nie, as dit van Theunissen afhang.

Die busroete van dié kamma-toer is om die draai en dan weer terug. Buskaartjies is nie nodig nie, maar jy word aangepor om ‘n fooitjie in die kroegman, wat ook toergids speel, se hand te stop.

Woerts-warts is al die buspassasiers weer terug in die kroeg met drankies in die hand. Daar is per slot van sake regtig nie so baie in Matjiesfontein te sien nie.

Loer wat in Matjiesfontein en by die Lord Milner Hotel aangaan by: www.matjiesfontein.com

‘n Vrolike geel skedonk van ‘n bus naby Bela-Bela

Een oomblik ry jy nog so op die R516 op pad na Bela-Bela en die volgende oomblik doem ‘n kanariegeel bus voor jou op wat al beter dae geken het.

Nie te ver van die bus af nie is ‘n donkiekar geprakseer uit oliedromme en weggooiblik staan gemaak. Die drywer van die donkiekar het ‘n weermaghelm op en sit op ‘n eetkamerstoel. Agter hom op die waentjie is nog stoele staangemaak en ‘n buiteband sorg dat niks afwaai nie. ‘n Klein blikdonkietjie is langs die grotes ingespan.

Dís Peet se Padstal waar jy plaasprodukte en geskenke kan koop en ook vir boerekos met ‘n twist kan aansit.

Binne-in die padstal is Coca-Cola-houtkratte opgestapel, handsakke tuimel uit oop rakke en serpe hang rond en bont.

Op ‘n swartbord staan in bordkryt geskryf in ‘n poging om een of ander distrik se dialek uit te beeld: “Koep ve djou ies mooi, djou man hy’t gebejl e gsê djy ka ma hom se kaarki swaip!” As ‘n mens na die speelse spelling oordeel, het die skrywer daarvan nie buskruit uitgevind nie, soos ‘n ou idioom lui om iemand te beskryf wat nie van die slimste is nie.

Die bus is leeg; die padstal is vol

Die bus is leeg; die padstal is vol

Lisensieplakkers vir jou motor se voorruit probeer woordspeling met die woord ‘malboer’ toepas, maar dit blyk nie so geslaagd te wees nie. Dit pas dalk juis by die vrolike geel skedonkbus!

Kyk op Peet se Padstal se Facebook-bladsy wat op die spyskaart is en wat op die rakke uitgestal word: www.facebook.com/PeetsePadstal/?_rdc=1&_rdr

2 comments on “Besoek busse sonder terminusse

  1. selmaohlsson
    November 10, 2019

    Loved this post! There’s something about the olde worlde charm of a bus.

  2. ilsez
    December 12, 2019

    And the olde worlde charm of a train even more so, Selma! I still want to take the train from CT to Jhb i.e. the Shosholoza.

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 10, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .