ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

WINDPOMPE GAAN SOEK NIE WIND NIE

First published in Die Burger, April 2014

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership; original photographs not used)

Die huis is verlate en selfs die windpompe staan stil - Outa Lappies woon nie meer hier nie

Windpompe – en plaasdamme – is déél van die platteland. Van die Overberg tot die Karoo, deur die Vrystaatse vlaktes en die heuwels van die Oos-Kaap.

Soms kom jy ‘n plek teë wat ‘n windpomp dorp toe gebring het. Dalk om plaasherinneringe te laat herleef.

‘n Windpomp by ‘n koeistal

Nita Lötter moes nogal geruime tyd neul voor hul plaas se ou koeistal hare geword het om in ‘n plaasstal-restaurant, Die Plaaskombuis, te omskep. So is haar eerste droom bewaarheid.

Die tweede droom was haar eie windpomp. Hiermee het sy nie gras onder haar voete laat groei nie. En siedaar, ‘n windpomp  – wat jy van ver kan sien en wat rigting aan haar besigheid gee – voor die deur. Dis kwansuis asof die groot windpomp kleintjies gekry het, want binne is nog ‘n swetterjoel klein windpompies.

By Die Plaaskombuis eet jy boerekos. Tafelrangskikkings is bolle wol en breinaalde; plekmatjies is onnutsige langspeelplate. In ou koeikrippe waar koeie staangemaak is om gemelk te word, is mandjies uitgestal.

Vanaf Februarie 2014 word hier ook Vrydagaande gekuier.

  • Die Plaaskombuis (073 230 0788): Hermanus R320 Wynroete, Hemel en Aarde.

‘n Windpomp in plek van ‘n trekker of kruiwa

Daar’s sommer twee windpompe in die Hemel en Aarde-kontrei. Petri Hendriksz van At the Village Stall het eers ‘n trekker of ‘n kruiwa as embleem oorweeg. Maar ‘n windpomp het geseëvier. ‘n Rooie.

By At the Village word vars brood daagliks gebak. Ontbyt insluitende rooifluweelplaatkoekies word tot twaalfuur bedien; ‘n glas vonkelwyn met lemoensap kan saam bestel word. ‘n Otjiebroodjie heet gepas “This Little Piggy”.

Die geskenkwinkel verkoop kussings waarop staan: “Vir jou sal ek kaalvoet deur die doringgras loop om toffies by die kafee op die hoek te gaan koop”. Ook gerwe sonneblomme, kokosneutwater en stroopwafels.

  • At the Village Stall (083 700 3319): Hemel en Aarde Village.

‘n Onthoofde rooi windmeul

The Red Windmill is the place to go for a bunny chow in the Overberg

In die Overberg, drie kilometer buite Napier in die rigting van Bredasdorp, is The Red Windmill in ‘n ou plaashuis reg langs die pad.

The Red Windmill se windpomp is tragies onthoof, maar ons praat nie daaroor nie. Planne word steeds gesmee om die rooi windmeul na sy volle glorie te herstel.

Saam met die hartseer windpomp deel Basmati en Poppadom, twee iesegrimmige alpaka’s, die werf. Elke November word die twee belhamels geskeer en hul wol word gebruik om babakombersies en duvets te maak wat by The Red Windmill beskikbaar is.

Twee batteryhenne heet J-Lo en Beyonce, heel gepas as jy na hul vet boude kyk. Pik-pik kom hul loer wat binne aangaan as die lewe daarbuite bietjie vervelig raak.

Dee Robinson is aan die roer van sake – van springbokfilet met port-en-vysous tot geurige kerrie vind die pad uit haar kombuis. Sy is ook die aankoper en eienares van Mrs Robinson’s of Napier – die stoepkamertjie is propvol retro-modes, borsspelde, fleurige serpe en sari’s sowel as notaboekies wat met ou patroonvoorblaaie oorgetrek is.

  • The Red Windmill (028 423 3576): op die R316 tussen Napier en Bredasdorp.

Soek Proviant in die Paarl op

DSC_0740

Sedert September 2013 het die middedorp van die Paarl ‘n windpomp bygekry. Proviant het van eienaar verander en die windpomp verteenwoordig die aardsheid van die restaurant, kroeg en funksielokaal.

Die spyskaart lees so: vir “brêkfis” is daar Pa se Gunsteling (eiers geposjeer met tamatie-en-uiesmoor), plaasontbyt met skilpadjies, boeretroos; en vir later in die dag is daar Skoonma se Botterbroodjie, boerekaviaar (murgbene op roosterbrood), lamsniertjies,plaatkoekies, vetkoek met maalvleis en Vaalie-boerewors met pap en smoor.

Jou kroos kan met Skattebol en Liefling, twee lammetjies, en dertig hoenders speel.

  • Proviant (021 863 0949): Hoofstraat 56, Paarl.

‘n Swerm – of dalk ‘n trop – windpompe

By Loeriesfontein se windpompmuseum waar jy jou verluister aan die windpompe wat draai

As jy meer as twee dosyn windpompe op een slag wil sien, sal jy ‘n paar honderd kilometer moet ry.

Op Loeriesfontein in die Hantam, Noord-Kaap staan daar 27 windpompe op ‘n oop erf – eens die speelgrond van die ou skooltjie waar die Fred Turner Museum gehuisves word. Dis te danke aan wyle dokter James Walton, ‘n Brits-gebore Suid-Afrikaner, dat die windpomp-museum tot stand gekom het. Hy het saam met (wyle) André Pretorius “Windpumps in South Africa” (Human&Rousseau, tans uit druk) geskryf waarna hy ‘n instansie gesoek het wat ‘n windpompmuseum wou huisves Die Fred Turner Museum was die enigste wat gereageer het, en soos hulle sê, die res is (windpomp)geskiedenis.

Van die windpompe soos Dandy is van Amerika; op ander staan Baker, Atlas, Woolf Engineering Bloemfontein, Hercules, Conquest, Star Zephyr, Eclipse en Suiderkruis. Maak vooraf ‘n afspraak by die museum as jy wil weet wat dit alles beteken.

As ‘n windpomp vir jou ook ‘n magiese aantrekkingskrag het, sluit aan by www.facebook.com/pages/Windpompe-Windpumps/212664372126655
Hier kan jy na windpompfoto’s van regoor die land kyk en jou eie instuur.
Gaan kyk na ‘n windpomp wat díép in die water staan, op die Baden Powell-pad, die afdraai vanaf die N2 na Stellenbosch.

 

One comment on “WINDPOMPE GAAN SOEK NIE WIND NIE

  1. vuurklip
    August 13, 2018

    Ons kan die Red Windmill aanbeveel!

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 13, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .