ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Elders in Egipte is dit sonnig en warm

First published in Die Burger, May 2017

Reg in die speseryhart van Egipte

Egipte is 'n land van geur en tekstuur

Egipte is ‘n land van geur en tekstuur

So sag en soetklinkend die woord babaganoesj oor jou lippe rol, só sag en geurig proe hierdie rokerige eiervrugpatee waaroor die Egiptenare soms robynrooi granaatpitte strooi. Net so lekker is moetabel wat baie aan babaganoesj herinner, maar met ‘n meer romerige tekstuur weens tahina (sesamsaadpatee), jogurt en olyfolie wat bygeroer word.

Egiptiese cuisine het nie juis veel aanhangers nie; daarom moet jy juis weet vir watter geregte jy op die uitkyk moet wees.

Borek is driehoekpasteitjies met ‘n vulsel van souterige witkaas. Kibda is lewertjies (gewoonlik hoender) wat in suurlemoen en/of knoffel gesoteer word. Labneh – geredelik by deli’s en groot supermarkte by ons beskikbaar – is kaasjogurtballetjies, soms met ment of knoffel gegeur, wat enige slaai opkikker.

Dit laat jou maag draai as jy sien hoe die vleis buite hang

Dit laat jou maag draai as jy sien hoe die vleis buite hang

Egiptiese frikkadelle word kofta genoem en met komyn gegeur; okra, ‘n peulgroente, val nie in almal se smaak nie; en heel duif gevul met kaneelrys word om elke hoek en stegie bedien. Hamãm is die Egipties-Arabiese woord vir duif (moenie verwar met hammam en haram – wat onderskeidelik publieke baddens en piramide of verbode beteken – nie).

Hierdie kafeetjie is al lankal toe

Hierdie kafeetjie is al lankal toe

Die Egiptiese woord vir brood – aish – beteken ook lewe. Dit is dus geen wonder dat platbrode sommer self hul weg na jou tafel sal vind nie.

Die Egiptenare is lief daarvoor om tee met baie suiker te drink

Die Egiptenare is lief daarvoor om tee met baie suiker te drink

Saam met die platbrode word hoemoes waarin ‘n holtetjie gemaak en ‘n poeletjie olyfolie gegooi word, tafel toe gedra. Soemakspesery word gereeld bo-op gesprinkel.

Soek speserye

Speserymengsels om na ‘n besoek aan Egipte in jou kookkuns te inkorporeer, is soemak en zaatar.

Soemak is donkerrooi van kleur; het ‘n verfrissende suurderige smaak en is afkomstig van die gedroogde bessies van die fluweelboom. Soemak werk goed saam met roostergroente, lamsvleis, hoender, vis en slaai.

Zaatar is ‘n speserymengsel met onder andere oreganum en tiemie waarby soemak en sesamsaad soms ook bygevoeg word. Zaatar werk goed saam met platbrode, avokadopeer, slaaie, bredies en sop.

Spesialiteite van Alexandrië, Kaïro en Luxor

Jy hoef nie Arabies te kan praat om 'n straathappie te koop nie

Jy hoef nie Arabies te kan praat om ‘n straathappie te koop nie

In Alexandrië, 226 kilometer van Kaïro, smul jy aan gebraaide vis by vele buitelugrestaurante.

In Ou Kaïro drink jy koffie uit koperstoofkannetjies, wat kanakah genoem word, by El Fishawi Koffiewinkel in die Khan el Khalili-mark. Hier sit jy omring deur spieëls, pilare en houtfiligreinpanele tussen bejurkte mans met kadotjies wat aan waterpype met appelkoostabak by aangrensende tafeltjies suig. Dis al vir twee eeue lank wat die essensie van El Fishawi dieselfde gebly het.

Op die Nyl is ‘n buffet-ete op die Nylfarao-boot met sy goue en turkoois dekor wat deur die graftombes van die Vallei van die Konings geïnspireer is, op toeriste gemik. Dit sluit ‘n vertoning deur buikdansers en ‘n derwiesj-danser in. Die derwiesj-kunstenaar het Sufi-tradisies gebruik om sy vertoning te choreografeer en sy lae rompe tol elkeen in sy eie wentelbaan. Na ete drink jy koffie op die dek terwyl feluccas in die nag verbygly.

By die luukse Mena House Hotel in Giza teug jy aan skemerkelkies terwyl die son oor die piramides sak hoewel nie al die restaurante met ‘n uitsig kan spog nie.

Die oorspronklike Mena-Huis was die koninklike gastehuis van Isma’il Pasha, een van die heersers van Egipte en Soedan van 1863 tot 1879. Hy is in 1895 oorlede na hy twee bottels sjampanje – so het Time-tydskrif berig – op een slag in ‘n paar teue probeer afsluk het.

Wat goed genoeg vir Egiptiese argeoloë is, is ongetwyfeld goed genoeg vir ons. Op die westelike oewer van die Nyl in Luxor sit ons aan by Tutankamen vir romerige hoenderkerrie. Wees gewaarsku: die spelling van die restaurant se naam word in elke reisgids en webwerf op ‘n ander manier gespel.

In Luxor lê die sjarme van die Sofitel Winter Palace Hotel in die vergane grandeur. Dis die ene Oosterse matte, kandelare en fluweelstoele, maar dis ietwat verbleik en soms kan jy ‘n vinger deur ‘n stoflagie trek.

Die King’s Head Pub is binne loopafstand vanaf die Winter Palace. As jy lui vir loop voel, kan jy ‘n minibustaxi naderwink.

Dalk gebeur met jou wat met ons gebeur het – saam met ons in die taxi was ‘n polisieman aan wie se pols ‘n oortreder vasgeboei was. Die polisieman het vriendelik ‘n geselsie aangeknoop; die oortreder se mondhoeke was afgerem en sy lewenslus geblus.

By die King’s Head is drankies heelwat goedkoper as by die hotelle, die kroegman is gemoedelik en in een hoek is ‘n Bob Marley-huldeblykmuur.

In Aswan het die Sofitel Legend Old Cataract Hotel (waar Agatha Christie se Death on the Nile deels afspeel en waar die 1978-film geskiet is) ‘n ongelooflike uitsig oor die mooiste deel van die Nyl. Oor ‘n glas ligverkoelde Omar Khayyam Cabernet Sauvignon wens jy die aand moet nooit end kry nie.

Les jou dors

Gepraat van wyn, dis dúúr in Egipte. Nog soveel te meer as jy nie plaaslike wyn bestel nie. Meestal laat die Egiptiese wyn veel te wense oor.

Die Egiptenare hou oorwegend by shai (tee), koffie (ahwa), hibiskustee (karkade) wat warm of koud na gelang van die weer bedien word, vars sap of ayran (‘n mengsel van jogurt, water en sout wat ‘n mens lekker afkoel as dit so bloedig warm raak).

‘n Grepie uit die verlede

Omtrent vyftig kilometer suid van Luxor lê die dorpie Esna. Toeriste besoek Esna uitsluitlik om die Tempel van Khnum te sien.

As jy voor die tempel staan, kan jy aan jou regterkant die oorblyfsels van ‘n karavanserai sien. As jy egter in die stegie aan jou linkerkant afloop en in die eerste stegie daarna regs draai, sal jy op ‘n ou olyfpars afkom. Dit word nog met die hand of ‘n donkie in die rondte gedraai. Die hout knars, die geur van olywe draal in die lug en jy wonder onwillekeurig hoe lank dit al só in hierdie platdakgeboutjie gedoen word.

Lees en leer meer van Egiptiese kombuise en smake: Apricots on the Nile: A Memoir with Recipes deur Colette Rossant

2 comments on “Elders in Egipte is dit sonnig en warm

  1. Toortsie
    March 9, 2019

    Ek het jou reis deur Egipte baie geniet.

  2. ilsez
    March 15, 2019

    Dankie, Toortsie! Hul geskiedenis is so fassinerend. Lekker kos ook natuurlik!

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 8, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .