ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

TYD VIR TALM IN TULBAGH

 First published in Die Burger, June 2012

Die ene groen en wit. Wit gekalkte mure en donkergroen hortjies en vensterrame en deure. Kaaps-Hollandse huise en kothuisies. Dis Tulbagh. Dis veral Kerkstraat (die enkele straat met die meeste nasionale monumente in die land),  maar ook in die res van Tulbagh.

DSC_0370

Doer agtertoe verrys die skurwe Witzenberge en in die strate kreun akkerbome. Dis die ou Het Land van Waveren. Daar is niks om meer te herinner aan die verskriklike aardbewing wat die dorp in 1969 getref het nie.

Die jaar word ryp in goue akkerblare

DSC_0404

Dis herfs en op stoepe en tuinpaadjies, in die watervoortjies en in Kerkstraat lyk dit of die geel en bruin herfsblare gestileer is. Of iemand hier trou en dit vir effek kunstig rondgestrooi is. Maar op die oomblik lyk Tulbagh elke dag so.

DSC_0358

Dis Sondagoggend en orals sit leepoog naweekbesoekers oor enorme borde spek-en-eiers. Lyk my hier was gistraand ‘n hele paar troues in die dorp. Tulbagh is juis ‘n gewilde plek om te trou. By die toerisme-kantoor is ‘n spesiale brosjure wat jou help om blomme, silwerware, glase, kerse, huweliksuitnodigings en  markiestente plaaslik in die hande te kry; al wat nog kort, is ‘n confetti-verskaffer.

As jy nie kom troue hou het nie, het jy kom bergfietsry. Tulbagh raak al hoe gewilder hiervoor. Dis te oordeel aan al die voertuie met fietsrakke vol bemodderde fietse.

Ek loer by die Tulbagh Hotel – wat uit 1859 dateer – in. By The Olive Terrace is nog ‘n paar tafels wat lyk of hul op ‘n heel gemoedelike manier nog herstel van die vorige aand se gefuif. Ek’t lanklaas so ‘n netjiese plattelandse hotel – wat spog met vier sterre – gesien.

Sal jy met my trou?

DSC_0376

By Things I Love lyk dit of bruide se trousseau van destyds hier versamel is. En te koop is. Deftige eetserviese, opdienbakke, fyn koekbordjies, beenhef-eetgerei. Tussenin byderwetse voorskote en Hollandse gebak. Morokkaanse tafeltjies en keramiekbakke. Vanaf die agterstoep kan jy deurdrentel na Kerkstraat.

Paddagang bring herinneringe terug aan ‘n oggendtroue ‘n dekade of twee gelede wat na middernag en baie glase Krone Borealis by die hotel geëindig het. By Paddagang word nog steeds troues gevier. Met smoorsnoek en bobotie, of waterblommetjiebredie en brandewyntert.

As jy nie in die bui vir tradisionele kos is nie, kan jy salm of mossels met ‘n Belgiese bier by Belgian Kitchen afsluk. Of kyk wat op die daaglikse spyskaart by Readers Restaurant aangebied word. By Moniki is handgemaakte sjokolades, truffles, nougat en marsepein. Rissie of koffie word met pinotage vermeng, en shiraz met sout-en-peper.

Kat se kind

Curious Cats Geskenkwinkel vir nuuskierige agies

Die Tulbagiete blyk katliefhebbers te wees. By Readers is die Curious Cats-geskenkwinkel en twee leeugrootte kat-standbeelde langs die tuinpaadjie van die oudste huis in Kerkstraat. Hier het die sieketrooster oftewel die leser (vir die siek mense) eers gebly.

By Marmalade Angel ‘n paar deure verder regeer Sumak, die gemmerkat. Sy kou ‘n kriekbeentjie terwyl jy na die beeldhouwerk, juweliersware, skilderye, handwerk, vetplante en kristalle loer.

DSC_0435

In hierdie vallei word daar ook wyn verbou. In my studentedae het ek met Theuniskraal Riesling leer droë witwyn drink. Die Jordaans boer al van 1927 hier met wingerd.

By Saronsberg is dit moeilik om te kies tussen die wit en die rooi

Daarenteen het Saronsberg eers in 2002 op die toneel verskyn. En stormenderhand pryse begin verower. Hier proe jy uitmuntende wit en rooi wyne in ‘n argiteksontwerpte wynproelokaal amper op die rand van ‘n dam in die uitgestrekte, informele tuin. ‘n Versameling kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns kan besigtig word.

As die gordyn sak

By die Saronsberg Teater op die dorp het van Jack Parow tot Chris Chameleon en Valiant Swart al opgetree. By Café Bravo langsaan verskyn Albert Frost met ‘n kitaar of vyf gereeld op die musieklys.

Rijk’s Private Cellar is nie heeltemal so nuut soos Saronsberg nie, maar het ook later tot die wynmaakbedryf in Tulbagh toegetree. Van die staanspoor af het Rijk’s se wyne met al hul toekennings bewys dat hulle weet wat hulle doen.

As jy van ‘n plekkie in Tulbagh hoor, moet jy maar ‘n plan maak om daar uit te kom. Die restaurant met die singende sjef is nie meer daar nie en Hunter’s Retreat met sy kapelletjie is nou Manley Wine Lodge (die kerkie is steeds daar, maar van ‘n huweliksgas in haar koeirok wat tussen die skape staan, is daar nie nou meer ‘n teken nie).

Jy kan darem nog Tarzan-skoene hier koop! Hulle het al selfs ‘n grootte 23-skoen gemaak! Kyk wat daar nog alles te kry is, by www.tarzanshoes.co.za

 

VIER KERSFEES IN DIE WINTER
 
Dis al ‘n jaarlikse instelling dat Tulbagh in die winter Kersfees hou. Dis heel gepas as die omringende berge met sneeu bedek is.
·        Behalwe vir wynproe en kunsuitstallings word daar vermaak  vir die kinders gereël; daar word ook ‘n Kersmark gehou
·        Kersvader kom spesiaal vanaf die Noordpool om die verrigtinge by te woon
·        As jy te oud vir Kersvader is, kan jy die Rock with Santa-party bywoon
·        Tulbagh Fietsryklub bied hul eerste pretrit met verskillende afstand met ‘n baie mooi roete aan. Verkry al die nodige inligting by: www.tulbaghmtbclub.co.za
·        Lees meer oor Kersfees in die winter by www.tulbaghtourism.co.za
·        Kerkstraat bied ‘n wye verskeidenheid Kaaps-Hollandse verblyfsopsies aan:                     www.cdq.co.za

 

AS JY NIE BERGFIETSRY OF TROUE HOU NIE:
·        By die Twee Jonge Gezellen Landgoed, vind keldertoere twee keer per dag in die week plaas, en een keer op ‘n Saterdag. Die ondergrondse sjampanjekelder is ‘n moet-sien. Lees meer by: www.tjwines.co.za
·        Op die Kimilili-plaas word die heerlikste kase deur kaasmakers wat in Frankryk opgelei is, gemaak en verkoop. Jy kan saam koeie melk as jy vooraf reël. Skakel 023 231 1503.
·        Ry perd op ‘n maanligaand! Skakel Jo Lister by 082 884 9881 of lees meer by: www.horseabout.co.za

2 comments on “TYD VIR TALM IN TULBAGH

  1. Posy Hazell
    October 19, 2017

    Hi Ilze
    Please can you send me your email adderss. We would like to invite you to a function. Kind regards
    Posy Hazell

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 10, 2017 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .