ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Louis Nigrini se uurwerke kantel níé

First published in Die Burger, February 2020

Om 'n horlosie reg te maak, verg diep konsentrasie en fyn instrumente; sommige is dieselfde as wat tandartse gebruik

Om ‘n horlosie reg te maak, verg diep konsentrasie en fyn instrumente; sommige is dieselfde as wat tandartse gebruik

 In Bredasdorp in die Overberg is ‘n horoloog wat al meer as 42 jaar ‘n horlosieregmaakwinkel, Suidpunt Horlosies, bedryf.

Louis Nigrini vervaardig weliswaar nie self horlosies nie, maar hy kan énige horlosie, van armhorlosies tot wekkers, van staanhorlosies tot hanghorlosies, regmaak.

Vir Louis Nigrini is dit 'n plesier om elke dag werk toe te gaan

Vir Louis Nigrini is dit ‘n plesier om elke dag werk toe te gaan

Horlosies is Louis se passie. Hy verklaar entoesiasties: “My werk is soos my stokperdjie. Dit is nie ‘n ag-ek-moet-alweer-gaan-werk-gevoel nie – dis lekker, dis interessant en elke binnewerk of uurwerk is uniek op sy eie manier. Ratte was en is nog steeds my passie. Omdat ek meganies aangelê is, is ek nog net so opgewonde om ‘n masjien of uurwerk uitmekaar te haal as 40 jaar gelede.”

Wat ‘n wonderlike uitkyk en voorreg wat min mense beskore is!

Waar het dit alles begin, wonder ek.

Louis onthou sy kleintyd: “Dit het alles begin met die ontdekking van my pa se stukkende Zobo-sakhorlosies. Na die tweede of derde een wat ek uitmekaar gehaal het, het ek gesien waar die fout is. Later het ek in die skoolkoshuis ook aan horlosies gekrap, soveel so dat my klasonderwyser by Swanepoel Juweliers op Bredasdorp vir my parte gekoop het.”

Louis het agt kilometer buite Napier, Bredasdorp se buurdorp, grootgeword. Hy was gek oor die plaaslewe; sy kinderjare was “sorgeloos, met diere en oop vlaktes”.

In sy laaste skooljaar het Louis by die einste Swanepoel Juweliers onder die leiding van die eienaar, Piet “Muggie” Swanepoel (in die Overberg het amper almal byname) begin werk. In 1970 het hy voltyds daar met sy indiensopleiding of vakleerlingskap begin. Dís waar hy geleer het presies hoe om horlosies reg te maak.

In 1978 het hy die winkel oorgekoop en sy korrespondensiekursus by die Milwaukee International College in Amerika voltooi. Op 25 Julie 1978 sal die deure van Suidpunt Horlosies 42 jaar lank oop wees.

Die Milwaukee International College – waar ook Louis se assistent, Lonelda Taljaard, die korrespondensiekursus in 2000 voltooi het (meer oor haar later) – bestaan ongelukkig nie meer nie.

Die kursus het uit ‘n teoretiese eksamen en praktiese afdeling, waar jy “binnewerke en –stukke inmekaar moes sit”, bestaan. Sover Louis weet, is daar nie ‘n skool of universiteit in Suid-Afrika waar jy tans horlosieregmaak kan leer nie.

Louis Nigrini by sy liasseerkas met sigaretboksies waarin die binnewerke van verskillende fabrikate horlosies gestoor word

Louis Nigrini by sy liasseerkas met sigaretboksies waarin die binnewerke van verskillende fabrikate horlosies gestoor word

Met die verloop van jare het Louis sy werk en sy winkel se organisasie as’t ware meer vaartbelyn gemaak met dit wat hy by ander geleer het.

Agter ‘n gordyntjie in ‘n liasseerkas word ou “30’s-sigaretboksies” gebruik om binnewerke van verskillende “fabrikate, modelle en nommers” te bêre.

Terwyl Louis by ‘n werktafel werkskaf, dra hy ‘n tipe voorskoot wat hy soms om sy nek bind. Hy verduidelik: “ Dit doen wondere vir iets wat van die tafel val en op jou skoot beland, alhoewel dit nie alles keer nie. Soms spring ‘n skroefie uit ‘n pinset (fyn tangetjie) en dan is jy op jou knieë aan die soek. Gelukkig gebeur dit nie baie nie.”

Louis se assistent, Lonelda Taljaard, is óók sedert kleintyd gek oor horlosies. Sy onthou hoe sy as kleuter tydens middagslapies haar ma se arm gevat en onder haar kop neergesit het sodat sy na haar ma se horlosie kon lê en luister. Sy spot dat sy van kleins af “getik” is, maar voeg vinnig by dat ‘n mens deesdae versigtig moet wees om soiets te sê!

Dit laat my daaraan dink dat ek eenkeer gelees het hoe ‘n mens by ‘n klein katjie of hondjie wat net van hul ma weggeneem is, ‘n wekker wat tik-tok onder ‘n warm kombers moet neersit. Dit herroep die hartklop van die ma in die baarmoeder en maak hulle kalm. Wie sou kon raai dis waarvoor ‘n oorlosie kan instaan?!

Lonelda, ook oorspronklik van Napier, vertel dat haar oom Dirk destyds vir “oom Louis” kom vertel het van haar “wat so krap aan horlosies”.

In Maart 1996 het sy op ‘n Maandag vir ‘n onderhoud na Suidpunt Horlosies gekom; op Woensdag het sy ingeval! Dit was die beste besluit van haar lewe, klink dit vir my, terwyl ek my verkyk aan die horlosiewysters wat sy met die hand gemaak het.

Louis Nigrini het van kleins af aan horlosies gevroetel en werskaf

Louis Nigrini het van kleins af aan horlosies gevroetel en werskaf

Ek wonder hardop hoeveel horlosies Louis binne Suidpunt Horlosies het. “Mil-juisende!”, lag hy uitbundig. Eintlik weet hy nie, maar dis BAIE, dít weet hy.

Louis se grootste gros kliënte is plaaslik (uit Bredasdorp, Napier, Arniston en Struisbaai), maar Suidpunt Horlosies het ook gereelde kliënte uit omliggende dorpe en Kaapstad. Dan is daar vakansiegangers wat gereelde kliënte geword het en selfs toeriste wat elke keer as hul in die land is, by hom kom aandoen.

Die wonderlikste insidente het al by Suidpunt Horlosies afgespeel.

Een kliënt het in ‘n simfonie-orkes gespeel. Hy was so dankbaar oor sy horlosie wat herstel is dat hy een middag met sy viool ingestap het om vir Louis en Lonelda ‘n mini-uitvoering te gee.

Dan het hulle jare gelede aan ‘n koekoekhorlosie van ‘n dominee op Struisbaai gewerk. Louis verduidelik dat ‘n koekoekhorlosie met twee blaasbalkies werk. Draadjies lig die balkies en laat dit val om die koekoekgeluid te maak. Na die horlosie herstel is, is dit opgehang om te toets. Die draadjies was per ongeluk omgeruil. In stede van “koe-koe-e-e” het die horlosie luidkeels “oooo-koek” laat hoor. Louis en Lonelda lag nou nog lekker hieroor.

Die oudste horlosie waaraan hierdie twee al gewerk het, was ‘n soort “lanternhorlosie” wat uit 1680 dateer.

Van toeka tot nou het ‘n tipiese werksdag by Suidpunt Horlosies baie verander. Dertig jaar gelede kon Louis op een dag ses opwenhorlosies diens (uitmekaar haal, skoonmaak en inmekaar sit), maar deesdae neem dit drie tot vier dae. Nie net is die dorp heelwat groter nie, maar ‘n mens moet meer tyd spandeer bv. om batterye te vervang terwyl kliënte wag.

Nog iets wat verander het is die aflewering van bestelde onderdele. In die ou dae is die pakkies per pos aangestuur; groot pakkies het met die trein gekom. Nou word koeriers gebruik.

As jy gelukkig is, sal jy die “klokbewaarder” op ‘n toonbank sien slaap as jy by Suidpunt Horlosies inloer. Dié klokbewaarder is ‘n swart kat genaamd Mendelsohn. Sy is ‘n “kuierkat” wat so 200 meter van die winkel af woon en wat amper daagliks kom kuier. As Mendelsohn teen toemaaktyd nog daar is, loop hy saam met Louis na sy motor. As die deur oopgemaak word, klim hy self in. Dan ry Louis ewe gedwee om die blok tot by die kat se huis waar kat se kind self afklim, want hy weet presies waar sy huis is.

Louis is so toegewyd dat hy soms deur die week tot 19h30 werk, want “ek kry dan meer gedoen as die deur toe is”. Saterdagmiddae na eenuur werk hy aan groot muurhorlosies waarvoor daar andersins nie tyd is nie.

Sover hy weet is daar nog horlosieregmakers soos hy – in Worcester, Hermanus, Swellendam, Heidelberg en Graaff-Reinet.

  • Suidpunt Horlosies, All Saintsstraat 31, Bredasdorp

          Telefoon 028 424 2080

 

 

 

One comment on “Louis Nigrini se uurwerke kantel níé

  1. Tannie Frannie
    July 21, 2020

    Watter bekoorlike plek!

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 20, 2020 by in Iemand - of iets - wat my fassineer, Oral(s) in die Overberg.