ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Istanbul op ‘n drafstap

10 MOET-DOEN-DINGE IN ISTANBOEL

First published in Die Burger, (month unknown) 2011

  1. Verkyk jouself aan die imposante Blou Moskee As jy in die Sultanamet-buurt bly, kan jy elke keer as jy daar verbystap, vinnig inloer. Andersins moet jy ten minste sorg dat jy die Blou Moskee een keer in die dag en een keer in die aand sien.

Die Blou Moskee is deur Sultan Ahmet I gebou en die moskee herinner aan ‘n buikdanseres met aanloklike kurwes en sensuele rondinge.

As jy in die aand in die binnehof staan, kyk jy op na die minarette waarom seemeeue in die skynsel van geel ligte draai. Dalk is jy gelukkig genoeg dat dit boonop ‘n sekelmaan-aand is.

Die Blou Moskee kry sy naam van die derduisende blou teëls wat die binnekant versier. ‘n Foto kan dit eenvoudig nie vasvang nie.

2. Verwyl genoeg tyd by die Topkapi Paleis

Waar anders kan jy ‘n regte harem sien?! Amper alles is nog net soos dit was – jy moet jou net verbeel hoe die meisies gelyk (en gedans) het.

Sit genoeg tyd opsy om alles in te neem – tuine, die tabberds- en juwele-uitstallings, Suleiman Die Manjifieke se swaard, die teëlwerk wat aan ‘n kunsuitstalling herinner, een haar van die profeet Mohamed se baard, die Topkapi Dolk met drie enorme smaragde en die uitsig oor die Bosforus.

Heel gepas, kon Selim Die Sot en Ibrahim Die Malle destyds die Topkapi hul woonplek noem.

Dolmabache (dit beteken opgevulde tuin) is ‘n meer Europese-styl paleis aan die ander kant van die Bosforus.

3. Besoek die Hagia Sophia

In sy kinderjare was dit ‘n kerk, as tiener en jongmens ‘n moskee en nou as volwassene is dit ‘n museum. Amper so oud soos Metusalem daarby, want die Hagia Sophia is al in 1453 voltooi.

Vergaap jou aan die koepeldak, die mosaïek van Christus, die reuse muurmedaljes met goue Arabiese skrif en klim met die trappe op na die galerye wat ook baie bied om te sien.

4. Loop rond by die Grand Bazaar

Dis ‘n doolhof op ‘n doolhof op ‘n doolhof. Maar dis lekker om hier te verdwaal. En maklik om hier geld uit te gee.

Kleurglaslanterns, leerbaadjies, Persiese matte en kelims, bonkige silwer juweliersware, bont doeke, krultoonskoene – alles word deur oorywerige mans met moestasse verkoop. Kibbel moet jy kibbel.

Drink ‘n vingerhoed Turkse koffie by Fez Cafe om jou voete (en kredietkaart) te laat rus.

5. Verwonder jouself aan die Basilika Cistern

Ons kan by die Bisantynse heersers leer – as hul iets doen, het hulle dit ordentlik gedoen. Die Basilika Cistern is deels uit pilare van ruïnes gebou vandaar die onverwagse detail.

Binne-in is dit koel en skemer, water drup-drup en daar’s selfs ‘n koffiekroegie – net, hier word appeltee bedien. Dis ‘n asemskep-plekkie weg van die uitlaatgasse van die geel taxi’s. Deesdae kan jy steeds die karpe sien swem, maar gelukkig word die Basilica Cistern nie meer gebruik om van lyke ontslae te raak nie.

6. Vaar op die Bosforus

Klouter op ‘n veerboot en ontsnap van die harwar van die stad. Op die oewers van die Bosforus gly paleise, hotelle en uitkyktorings verby. Klim af (en weer op) soos jy daarna voel. Vars vistoebroodjies word by een boothalte verkoop. By ‘n ander kan jy joghurt met heuning onder koeltebome eet.

7. Doen inkopies by die Egiptiese of Speserye-Basaar

Stapels lokum (wat ons as Turkish Delight ken), hope droëvrugte, piramides speserye, bondels vye en sakkies henna. Appeltee, appelkoostee, aarbeitee, sekstee (nee, ek weet ook nie hoe dit werk nie). Skakerings van oranje, geel, bruin en ‘n kriewelende neus van ‘n oormaat van geure.

Daar’s ook nog olyfolie-sepies, amberkleurige heuning, Turkse Viagra en tipiese (baie daarvan kitsch) toeriste-aandenkings. By die huis wonder jy wat jou besiel het om dit te koop en wat jy  nou daarmee gaan maak.

8. Whirling Dervishes sal jou kop laat draai

Daar’s min plekke in Istanboel waar jy ‘n sema-seremonie kan sien, maar dis ‘n spirituele (en visuele) ervaring wat jy nie moet misloop nie.

Van die restaurante rondom die Blou Moskee het saans vertonings, maar moet net nie goeie kos daarmee saam verwag nie. Hoewel nie outentiek nie, is dit oor en oor die moeite werd. Andersins kan jy Mevlevi-klooster besoek.

Die dervishes vou hul arms oor hul bors; trap-trap amper op een plek terwyl Sufi-musiek speel en hul tabberds swaai in wye sirkels saam met hulle. Hul regterarms is na die hemel gestrek terwyl die linker grond toe wys. Die linkerhand hou hul simbolies geanker; die regter ontvang seëninge van die hemel.

9. Eet en jol in Nevizade Sokak

In Beyoglu-distrik naby die bopunt van Istiklal Caddesi is ‘n kleinerige stegie (sokak) wat elke aand volgepak is. Borde meze word uitgedra, sigeunermusiek speel, raki vloei en dis sommer net groot pret. Turkse jongmense loop van meyhane (kroegie) na meyhane, toeriste probeer saamsing en vir almal word dit ‘n láát aand.

10. Local is lekker in Istanboel

By 360 kry jy die beste van twee wêrelde: ‘n panoramiese uitsig oor Istanboel en fynproewerskos gemaak deur ‘n Suid-Afrikaanse sjef. Dis sjiek en stylvol, dis staal en glas, dis wit en oranje. Bederf jouself en ondersteun een van ons eie boytjies.

    Eet:  Baie van die kos herinner aan Griekse kos. Maak plek vir joghurt met heuning as nagereg; ook vir moussaka, gevulde eiervrug en Turkse frikkadelle
    Koop:  Tipies Turkse materiale, lanterns en dekoratiewe lampe, sosatie-stokkies van koper en silwer, versierde keramiek, wyepypbroeke vir die strand, kussings, badgoed by Dervis in die Grand Bazaar, gegeurde tee en Turkse koffie
    Luister: Tarkan (insluitende sy lank terug se treffer Shika Dam), Elbette, en Mercan Dede
    Probeer: nargileh met appeltabak rook
    Vermy: Meeste van die restaurante in Divan Yolu-straat is ‘n definitiewe nee o.a. Pudding Shop, sy tweelingrestaurant neffens en die Anatoliese restaurant ‘n paar deure verder. Nog ‘n nee is die restaurant by die Arasta Basaar. Die Lig- en Klank-vertoning by die Blou Moskee is ook teleurstellend

    Leave a comment

    Information

    This entry was posted on November 29, 2023 by in Europa.