ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

ITALIAANS IN DIE BOLAND

First published in Die Burger, November 2012

EET BY ‘N BOERE-ITALIANER

La dolce vita – die goeie lewe. Dis in oorvloed te bespeur by Giuseppe Massolini se boheemse kothuis op Belair langs Fairview met hul akrobatiese bokke. Hier woon hy al agt jaar lank.

Met my eerste besoek aan Giuseppe het hy pas ses kilogram biscotti uit die oond gehaal. Vandag se baksel is gegeur met anys, neute en lemoenskil. My mond water; die espresso borrel amper oor en ek doop onbeskaamd biscotti in my koppie.

Ons lek ons lippe af

Hier kom sit jy aan by Giuseppe se lang, smal tafel en eet jou keduks. Jy kan dit eenvoudig nie verhelp as Giuseppe kosmaak nie. Dis nou iets waar hy hom uitmuntend van sy taak kwyt. Vir hom is dit nie ‘n taak nie – dis ‘n skepping in ‘n skottel. Nie ewe mooitjies gerangskik nie – dis oorvloediglik opgeskep, sommer opgestapel.

Net soos Giuseppe oorwegend Italiaans is, maar aan’t Afrikaans (al heel vlot – piu o meno of min of meer, reken die pseudo-boere-sjef) en Xhosa leer is, is sy kos bowenal Italiaans, maar soms geïnspireer deur ‘n ander kontinent, ‘n ander sjef, iets êrens gelees of ‘n nuwe idee.

Hy is in Dar Es Salaam gebore; het in Italië studeer en gewerk; ‘n kontrak by die Southern Sun-hotelgroep het hom na Suid-Afrika gebring. Waar hy summier besluit het om aan te bly na hy Tafelberg gesien het. Hy voel deel van die “Kaapse volk”, sê hy; hy is mal oor boerekos en “boeretannies”. Dit het hom lank geneem om vriende te maak – Afrikaners is van nature ‘n versigtige klomp, reken hy.

Giuseppe het lank in Buitenkantstraat in die stad gewoon, maar nou sien die stad hom nie meer so gereeld nie. In 1994 “toe almal blikkies kos gekoop en weggebêre het”, het hy ‘n huis hier gekoop, borduur hy voort. Tipies Italianer beweeg sy hande saam soos hy praat.

Ons is hier om te eet

Brrmm, brrrmmm, ry ons met die lang, geplaveide paadjie na die Massolini-woning. Aan die bestuurder se kant wink die Taalpaal op die granietberg. Alles lyk groen en welig; boompies in die tuin is geometries gesnoei en Crazy Daizy, die  vriendelikste brak,  kom snuffelgroet. Venite affamati! (Sorg dat julle honger is wanneer julle hier aankom!) het Giuseppe vooraf gesê.

‘n Gemeste kalf word geslag

Giuseppe is te besig in die seiljaggrootte-kombuisie – jy vind self jou pad na binne. Sommer van die staanspoor af by die agterdeur in, so asof ou amici is. La tavolo (‘n gedekte tafel – die Italianers is spesifiek as dit by hul koswoorde kom) wat binnekort van die kosbakke gaan kreun, staan tot teen die voordeur – almal kan net-net verbyskuif.

Aan die sykant van die kothuis (dit lyk na ‘n ou plaaswerkershuisie) word die eerste gang bedien. Lang drelle lap is sommerso bo-oor die prieel (en ons koppe) gedrapeer. Tipies Italiaans waak drie engele oor die groentetuin. ‘n Tuindwerg hou die gaste skrams dop.  Munte op ‘n nagemaakte rots herinner losweg aan die Trevi-fonteine. Liefde word in rooi-en-goue Bollywood-styl op die oorkantse muur uitgespel. In die badkamer is ‘n versameling eendjies – een met ‘n bril, een met polka-kolletjies, ‘n horde geles en een pienke.

Smulpape sit aan

Die Italianers hóú van eet. Die boere ook. Tog vermoed ek die Italianers wen met ‘n kortkop.  Giuseppe bedien ‘n vaste spyskaart van 8 tot 10 gange. Venite affamati! het Giuspeppe mos gewaarsku. Spyskaarte wissel na gelang van die seisoen hoewel hy kliënte se voorkeure in ag neem. Sommige groepe bestel keer op keer dieselfde, want dis eenvoudig net so squisito.

Net om almal in die regte bui te kry – nie dat dit nodig is nie – word crostini of bruschetta op die mooiste ou opdienborde uitgedra. Peusel-peusel liefs, want Giuseppe is die risotto-koning van ‘n distrik wat ver wyer as die Boland strek.

Sy gunsteling-risotto? Van watter kleur hou jy? stel hy die teenvraag. Rosso, verde, gelo o arancione? In Giuseppe se kombuis tower hy groen (met aspersie, artisjok, pesto en spinasie uit sy tuin), oranje (pampoen en botterskorsie met  saffraan) en rooi (spek, tamatie en rooiwyn) risotto – nooit sonder ‘n stewige  porsie gorgonzola bygeroer – op. Aaa, dis deels die rede hoekom ons hier is. Ons sou nog ‘n paar keer so voel.

Vandag is dit varklende in roosmaryn en knoffel gemarineer, met suurlemoen en heuning bedrup en daarna vir drie uur in die oond geprop. Dit word met goudbruin botter-appelrepe bedien. Dit hoort saam soos Adam en Eva. Of sout en peper. Osso buco is ‘n ander lipafleklekker gunsteling.

Dit lyk soos die vleispotte van Egipte, oftewel Italië

Hier verloor almal hul skaamte. Of hul Emsie-Schoeman-etiket. Smul, rus. Skep, rus. Net om die hele proses telkemale te herhaal. Ma dimmi te, hoekom was die risotto tog so romerig? Basta con sta pasta! Ons stap heen en weer tussen die tuindwerg se tafel en die binneste tafel waaroor moeder Maria en ander beelde ‘n ogie hou.

Giuseppe se middagetes raak al meer gewild. Na hy vir die eerste keer vir Adele Searl gekook het – al bewende, want hy was so op sy senuwees – het die kliënte begin instroom. Hy vertel met groot smaak dat baie van die mans – as hul Woensdae wil gaan gholf speel – vir hul vrouens sê: “Hier’s bietjie geld, liefie, gaan eet by Seppie”.

Mamma mia, dít was nou ‘n maal duisend, kreun ons. G’n wonder hierdie Italiaanse sjef se etes is so gewild nie. Hy verlei jou met sy sjarme en sy kos.

Bespreek ‘n middagete by Giuseppe Massolini:
Bespreek by 084 976 5939 of 021 863 1187
Giuseppe kook vir minimum 10 mense; maksimum 14.
Bring jou eie wyn.
Aanwysings: Reg langs Fairview – aan die Paarl se kant – op die Suid-Agter-Paarl-pad
Buon Appetito!

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 18, 2018 by in Afrikaans foodies and tagged .