ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

ISTANBOEL IS ÍN

First published in Rapport, February 2011

Eers Konstantinopel, nou Istanboel. Die stad van duisende minarette.

Istanboel is ‘n mezze-bord van bedrywighede, van plekke om te besoek, van inkopies bowenal. Tot ‘n paar jaar gelede was Istanboel spotgoedkoop; helaas, deesdae is pryse nader aan dié van Europa. Soos ‘n polisieman opgemerk het: “The information in your travel guide is history.”

Die kurwes van die Blou Moskee

Selfs al sou jy tien keer na Istanboel reis, sal daar steeds elke keer genoeg wees om te sien, en, ahem, te koop. Moskees, paleise, markte, fonteine, ou-styl en nuut-ontwerpte winkels, en hamans (badhuise). Ou omies met maroen fezze; Turkse tannies met deurleefde gesigte wat op hul hurke deeg knie; jonger verwesterse Istanboelloes van albei geslagte en altyd reisigers van orals oor.

Die Bose Oog vir geluk is oral te sien

Almal praat van Istanboel

Reeds in die mid-1500’s is Istanboel in ‘n reisboek in die vorm van ‘n lang brief beskryf as ‘n stad wat eintlik ‘n  “natuurlike skepping (is) wat veronderstel is om die wêreld se hoofstad te wees.” ‘n Dekade later het ‘n ander skrywer dit as die “paradys” beskryf.

Dan was daar Alphonse de Lamartine, die Franse skrywer, se woorde: “If one had but a single glance to give the World, one should gaze on Istanbul.”

Istanboel staan wydsbeen oor die Bosforus, een voet in Asië, die ander in Europa. Die indruk wat ‘n mens kry, is dat dit maar ‘n kreupel voet in  Europa is hoewel hulle hard bearbei om deel van die Europese Unie te word. Vir besoekers is dit egter ‘n plus, want dit maak van Turkye ‘n eksotiese bestemming.

Nie een van die besienswaardighede is vervelig of bloot ‘n gehaper op historiese betekenis nie. Waar anders kan jy ‘n regte dienkum harem sien? Of waar anders kry jy ‘n kerk wat ‘n moskee was voor dit ‘n kerk was…? Of ‘n paleis met ‘n kristalklavier?

Daar is wel ontstellende armoede en die agterbuurtes hou asem op vir ingeval nog ‘n aardbewing verbykom.

Stap in Sultanamet

Die meeste toeriste kom nooit buite die grense van Sultanamet nie. Verstaanbaar, want daar’s so baie te sien. Gebruik die Blou Moskee as jou landmerk.

Die Blou Moskee is blou van bínne. Subtiel, maar asemrowend (‘n dêm outydse woord; gaan kyk self).  Besoek die Blou Moskee ‘n minimum van twee keer – in die dag, en na donker (maar nie gedurende gebedtye nie, en nie skamel geklee nie). As jy naby genoeg bly, gaan sommer elke dag twee keer. Die atmosfeer, wat nie te gewyd is nie, bied rus vir die siel. As jy in die aand in die binnehof staan, skyn die ligte geel en seeumeeue vlieg laag sodat hulle net soms sigbaar is. As die sekelmaan skyn, is dit emosie-belaai. As die imam dan ook nog begin roep…

Om die spreekwoordelike draai is die Hagia Sophia. Die geskiedenis begin  in 537 as die grootste kerk van die Christendom; in 1453 het Mehmet die Veroweraar dit as ‘n moskee ingewy en dit het as sulks gebly tot 1935 waarna dit as museum verklaar is. Jy sien eerste die hoofkoepel raak; dan die reuse sirkelmedaljes met goue Arabiese letters. Stap op na die galery om die mosaïek te sien. Die kerk se kat is uitermate liefdevol en sal heeldag op jou skoot spin en knie as jy haar ‘n halwe kans gee. Knyp ‘n paar minute af om haar goed te laat voel.

Imposant ongeag van watter kant jy dit beskou

Net om die hoek is die Topkapi Paleis. Dis die plek waar die harem (ook die seraglio genoem) gesien kan word – kry betyds jou aparte kaartjie met aparte fooi. Een van die vorige heersers, Seliem die Sot, het in die bad verdrink na hy te veel sjampanje gedrink het. Maak jouself gereed om die oorblyfsels van ‘n erg dekadente leefstyl te sien. Daar’s binnehof op binnehof, geborduurde kostuums wat ideaal vir ‘n tema-party sal wees, heelwat krone, ‘n uitsig oor die water, Chinese porselein in die paleiskombuise, en natuurlik die Topkapi Dolk met drie reuse smaragde. Die grootste een het my aan ‘n koolkop laat dink. Ek wil die lepels hê wat ek gesien het! In die Tulp-Tuine of Vierde Binnehof is ‘n deftige restaurant met gepaste dekor-elemente. Die klein museumwinkeltjie verkoop pakkies blanko kaartjies met teëlmotiewe wat jou vriende sal beïndruk.

As jy kan (afhangende van die verpligte toertye), los die harem vir laaste. Dis die kersie op die (in hierdie geval definitief spreekwoordelike ) koek. Alhoewel die woord “harem” onder andere oorspronklik ‘privaat’ beteken het, is hier ook erg gekafoefel – Moerat III het 112 kinders gehad. Min van die oorspronklike harem is oop vir besoekers, maar dit wat te sien is, is fassinerend. Oorwegend blou teëlwerk is gedetaileerd en die fontein wat die sultan se kreune moes verdoesel, laat ‘n mens bespiegel. Dalk is dit maar goed die besnydingskamer is toe vir die publiek.

Oorkant die Hagia Sophia – pasop vir die onvoorspelbare verkeer veral die geel taxi’s – is die Basilika Cistern. Moenie dieselfde fout as ek maak en wag tot die derde besoek aan Istanboel om dit te besoek nie. Dis deur die Bisantynse keisers in 532 v.C. gebou en daar swem selfs visse in die kanale. Dis heerlik koel binne en die gedempte lig skep ‘n spookagtige atmosfeer. Oorspronklik is die water vir die paleis hier gestoor en dit blyk dat die plek vir ‘n eeu of drie hierna vergeet is. Êrens gedurende hierdie vergete tydperk het gewetenloses selfs lyke hier afgegooi. Bekyk die onderstebo Medusa-pilare van naby. Voor jy met Divan Yolu-straat opstap na die Grand Bazaar, drink soet tee of iets kouds in hierdie ongewone atmosfeer.

Op die sirkel, skuins agter die Basilica, is ‘n keramiekwinkeltjie met billike pryse, vriendelike diens en ‘n verskeidenheid – teëls, mini-teepotjies, warmpotstaanders, koffiebekers en baie meer – te koop.

Reg, nou’s jy gekultiveerd genoeg. Stap verby die Hippodroom; ‘n sydelingse blik is genoeg. Vra sommer vir iemand waar jy moet regs draai om by die Grand Bazaar uit te kom. Hoe verder jy van die sentrale deel van die Bazaar beweeg, hoe beter word die pryse. Buite die Grand Bazaar is dit nóg goedkoper. Binne-in is meer as 4000 winkels en dis ooglopend dat dit ‘n toeriste-trêp is, maar dit maak dit nie minder lekker om daar tyd te verwyl nie. Die winkeleienaars is oorentoesiasties, maar hulle kan geïgnoreer word. ‘n Vingerhoed sterk koffie by Fez Café is ‘n móét. Langsaan by Dervis verkoop hulle weelderige bad-bederfgoed uit Anatolië.

Die Spesery (ook genoem Egiptiese) Mark is kleiner en minder chaoties as die Grand Bazaar. Daar’s ‘n kortpad tussen die twee, maar jy voel nie baie welkom as jy hierlangs loop nie. Ook is hier meestal plastiek, jasrokke en namaaksels te koop. Behalwe Turkish Delight (hier word dit lokum genoem), gedroogde vye, saffraan, nougat, halva en ander speserye, is by die Egiptiese Mark ook Turkse Viagra (sonder waarborg) en sekstee te koop. Turkse lokum proe glad nie soos dit wat ons hier Turkish Delight (in blinkpienk papier) ken nie. Die geure alleen laat jou swymel – pistasieneut, roos en lemoenbloeisel is ‘n paar terwyl klapper by al die geure gebruik word.

Boekliefhebbers kan onder geen omstandighede die Ou Boek Basaar (Sahaflar Çarşisi) misloop nie. Van die instap wil jy net oor die boeke streel en aan die ou bladsye ruik. Hier is ook besondere etse te koop. Verder is dit die bymekaarkomplek van verrimpelde Turkse omies wat die sake van die dag bespreek.

Kry ‘n blik op Istanboel vanaf ‘n boot op die Bosforus. Hop op een van die veerbote by Eminönü en ry so ver as wat jou lus hou.  Klim af by Anadolu Kavagi waar jy – as jy energiek is – kan heuwel op loop om die uitsig oor die Swart See te sien, en – as jy lui is – jy Kanlica joghurt met versiersuiker kan eet. ‘n Blok of drie agtertoe is ‘n interessante krapwinkel. Voorheen was hier by die vasmeerplek die heerlikste, varsste visrolletjies te koop, maar nou nie meer.

Te sien op die Bosforus

Met die afklim gaan verken Beyoğlu aan die ander kant van die stad. Tot redelik onlangs was dit by wyse van spreke die ander kant van die spoorlyn (in hierdie geval die rivier), maar nou het dit ontpop in ‘n juppierige area. Jy stap oor die Galata-brug waar hengelaars staan en hoop. By Dolmabahçe Paleis is die rye lank, maar die kristalklavier wag binne. Istiklal Caddesi is ‘n inkopieslaaf se droom.

Saans is Nevizade Sokak dié plek om te wees. Stemme zoem en musiek speel terwyl raki vloei by talle sypaadjiekafees en restaurantjies. Dit voel of jy deel van die wie’s wie onder die Istanboelloes is. Die Turke het hul verstom daaraan dat ons ons eie reis-bakspel saambring en speel.

Die ander helfte van die wie’s wie is dalk in 360 in Istiklal Caddesi self. 360 se sjef is Suid-Afrikaans, die banke is halfmane, die mure is van glas en die uitsig is oor die hele Istanboel. Die spyskaart het sulke interessante kombinasies dat ek ‘n notaboekie wou uithaal om idees neer te skryf. Sorg dat daar ‘n swart rokkie of netjiese broek in jou tas is; anders laat hulle jou nie in nie (en kyk jou so neusoptrekkerig op en af).

Sit in styl by 360 in Istiklal Caddesi

Terug aan die oorkant sal jy agterkom jy raak moeg vir die ewige uitnodigings om appeltee te drink. Soms lui dit na interessante gesprekke en leer jy meer van die kultuur ken; meestal lei dit na aggressiewe verkoopstegnieke en partykeer na onvanpaste voorstelle. Gepraat daarvan, die hupse Turke en sommige winkeleienaars of hul agente, het frases uit verskillende tale aangeleer; dus as hulle dink hulle het geëien waarvandaan jy kom, gebruik hulle herhaaldelik ‘n frase of drie tot groot irritasie. Verder hoef jy net verby ‘n winkel te stap om ‘yes please’ te hoor wat veronderstel is om jou aan te moedig om geld te spandeer. Inteendeel.

Vrugtetee is baie gewild in Turkye

Turkye is ‘n mengsel van die moderne en die tradisionele. Dis baie verwesters, maar steeds sal jy soms ‘n vrou met ‘n stootwaentjie (en in ‘n gewaad) sien wat ‘n paar tree agter haar man (in Westerse klere) loop.

'n Algemene gesig in Turkye

Álmal spandeer baie geld in Istanboel. Dis ‘n inkopie-mekka. Agter die Blou Moskee is Arasta Basaar met winkels wat kwaliteit aanhou. Ja, dis eksklusief, maar dis ook kwaliteit en variëteit.

Daar is baie leerartikels in Turkye te koop

Ek moet nog die persoon ontmoet wat nie iets het wat hulle na die tyd besef hulle nog by die  Grand Bazaar wil hê, nie. Dalk een van die koper-en-glas lampe of lanterns wat aan 1001 Nagte herinner. Of ‘n nargileh (waterpyp) wat juis nou die in-ding is.

Lampe en lanterns te kies en te keur

Terwyl jy nou in elk geval moet teruggaan, gaan kyk ook na Çemberlitas Hamami wat uit 1584 dateer. ‘n Turkse bad en skrop voel of dit jou boonste laag vel afstroop en na die tyd is jy blinkskoon en terselfdertyd moeg en verfris.

Onthou jou laaste Turkse koffie voor jy na die lughawe vertrek!

 

Eet:  Baie van die kos herinner aan Griekse kos. Maak plek vir joghurt met heuning as nagereg; ook vir moussaka, gevulde eiervrug en Turkse frikkadelle
Koop:  Tipies Turkse materiale, lanterns en dekoratiewe lampe, sosatie-stokkies van koper en silwer, versierde keramiek, wyepypbroeke vir die strand, kussings, badgoed by Dervis in die Grand Bazaar, gegeurde tee en Turkse koffie
Luister: Tarkan (insluitende sy lank terug se treffer Shika Dam), Elbette, en Mercan Dede
Probeer: nargileh met appeltabak rook
Vermy: Meeste van die restaurante in Divan Yolu-straat is ‘n definitiewe nee o.a. Pudding Shop, sy tweelingrestaurant neffens en die Anatoliese restaurant ‘n paar deure verder. Nog ‘n nee is die restaurant by die Arasta Basaar. Die Lig- en Klank-vertoning by die Blou Moskee is ook teleurstellend

 

 

 

One comment on “ISTANBOEL IS ÍN

  1. Phoebe Van Reenen
    March 15, 2017

    Pragtige leesstuk!

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 15, 2017 by in Europa.