ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

TUSSEN TREINE EN STASIES

First published in Die Burger, September 2019

DSC_0453

J.N. Brand vertel alles oor sy laaste rit op sy geliefde treine

 

As treine in jou bloed is, blý dit daar. Vra maar vir Johan Brand wat na sy aftrede net nie treine kan laat los nie.

Voor hy nog die treinstang op 63 in Januarie 2016 neergelê het, het hy reeds geweet dat hy by Ceres Rail Company betrokke wou raak. Sedertdien werk Johan as vrywilliger, een van drie treinbestuurders (let wel: nié drywers), wat al om die ander naweek op die lokomotiefritte uithelp.

‘n Treinbestuurder dryf nie die trein nie; ‘n treinbestuurder is personeel- en passasier-georiënteerd. Johan beskryf dit so: “As vrywilliger by Ceres Rail Company werk ek nou met mense; ek het geweet wat vóór in ‘n trein aangaan; nou weet ek ook wat ágter aangaan.”  Per slot van sake is daar ‘n breë spektrum van alles wat kan opduik.

Wat dit vir Johan nog lekkerder maak om op Ceres Rail Company se treine uit te help, is dat hy baie afgetrede Transnet-personeel ontmoet. Party ken hy nie, ander het hy net jare laas gesien. Dan lóóp die stories. So baie begin met ‘In my pa se tyd …’ of ‘Toe my oupa nog …’

This slideshow requires JavaScript.

Dis op ‘n treinrit vanaf Kaapstad oor Sir Lowryspas na Elgin-spoorwegmark dat ek nie anders kon as om vir Johan Brand op te let nie. Nie omdat hy ‘n volle twee meter in sy sokkies staan nie, maar omdat hy gelyk het of hy in die kajuit of langs die trein op die stasieperron hóórt.

Dis toe dat Johan laat val dat hy vir 18 jaar ‘n Blou Trein-masjinis was. Ek moes net meer van sy loopbaan, wat ook sy passie is en was, hoor.

DSC_0455

Johan Brand in sy huiskroeg

Oor ‘n beker koffie vra ek ‘n paar maande later vir Johan hoe dit alles vir hom begin het.

“Ek het in ‘n spoorweghuis in Goodwood grootgeword. My pa was ‘n rangeerder. Deesdae is die benaming hiervoor ‘n terreinbeampte,” vertel hy met wat ek as nostalgie eien. Hy het reeds op vyf jaar oud vir sy ma gesê hy wil ‘n treindrywer word. In later jare het hy ook geweet dat hy spesifiek by die Soutrivier-depot wou werk.

Toe Johan skool verlaat het, was hy nog te jonk – jy moes 18 wees – om as stoker te werk. Dit het hom nie afgesit nie; hy het as algemene werker by die spoorwegwerkswinkels begin.  Al wat hy egter wou doen, is om “op die voetplaat te werk”. Dit is hoe daar destyds na die werk van ‘n treindrywer verwys is.

Daar is drie soorte treindrywerkwalifikasies: diesel-elektries, elektries en stoom, leer ek.

As antwoord op my vraag hoe hy vanuit die werkswinkel by die “voetplaat” beland het, is sy opmerking so ewe dat ek hom “terug op die spoor” van sy storie bring. Sonder dat Johan dit besef, is treintaal ook deel van sy alledaagse spreektaal.

Só het Johan se loopbaantrajek verloop: eers het hy as algemene werker by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens begin om ondervinding van trok- en passasiersrytuigmeganika op te doen; toe is hy na Soutrivier-werksplaas waar hy by die herbou van elektriese lokomotiewe betrokke was. Na ‘n proefvakleerlingskap as sweiser kon hy in aanmerking kom om as treindrywersassistent opgelei te word.

Treindrywers het destyds gewoonlik as skoonmakers van die lokomotiefkajuit en die –ketel begin; daarna het jy vuuraansteker geword waarna jy na leerlingstoker bevorder is. Teen die tyd wat jy as stoker op die opelyn aangestel is, kon jy passasierstreine ry.

Vóór passasierstreine het jy eers as junior treindrywer op stadiger treine wat ook nie te swaar is nie, gewerk. Dan kom pendeltreine, maar nie snelpassasierstreine, ‘naamtreine’ (die Blou Trein of die Wit Trein, die destydse trein van die staatspresident) of spesialeplofstoftreine nie. Net spesialistreindrywers kon dié treine dryf; hulle was die “vegvlieëniers” onder die treindrywers en is baie streng gekeur.

Terwyl een van Johan se drie gemmer-en-wit katte, sy oogappels, my pen probeer vang terwyl ek naarstigtelik skryf soos wat hul oubaas oorborrel van vertel, sê hy: “Dis ‘n láááng pad, ek sê jou.”

Maar as jy eers die bekwaamheidseksamen as spesialistreindrywer geslaag het, dan “is jy topklas.” Dán kan jy alle tipe treine insluitende die Blou Trein dryf.

This slideshow requires JavaScript.

Johan Brand spog met ‘n ongeluksvrye rekord van treinry regdeur sy loopbaan. Daarby het hy in sy lewe as masjinis 7 616 000 passasiers vervoer, 7 miljoen kilometer trein gedryf en 32 500 000 miljoen ton spoorvrag vervoer.

Hy kan nie eers aan iets anders dink wat hy met sy lewe wou doen nie. Selfs toe ek aandring, dink hy diep en antwoord toe net: “Dieselfde, nee net dieselfde.” Nie almal is gebóre treindrywers nie, maar hy weet hy is ongetwyfeld iemand wat op treine móés wees. Dit voel nie eers vir hom of hy ooit gewerk het nie; dit was vir hom soos een, lang, uitgerekte vakansie; al was daar baie dae “opdraande”, kom die treintaal weer deur.

Benewens treine is sy stokperdjies lees (hy lees elke dag die koerant), radio luister (veral RSG), hengel en toer.

In sy kroeg, genaamd ‘Johan se kroeg’, pryk die ronde metaalskyf wat met Johan se laaste rit as treinmasjinis voor op die lokomotief vasgemaak is. Daarop staan ‘My laaste rit – JN Brand 12/01/2016 – My last trip’. Ek sien ook talle foto’s van treine, ‘n treinmuurhorlosie, sy kinders se bewaarde skoolprojekte, ‘n artikel oor treindrywers met die opskrif ‘Ons was meer weg as tuis’ en les bes, ‘n ‘I love my cat’-magneet.

Een van die drywers wat voor Johan afgetree het, het op sy werkafskeidpartytjie gesê: ”Daar ís ‘n lewe na Transnet. Maar, as die trein verby, gáán jou kop draai.”

Dis wáár van Johan Brand. Dis nie net sy kop wat draai nie. Hy is nog dáár waar die tjoeke- en sakkepakke saam met sy hart klop.

Soos wat Sakkie Nel, operasionele bestuurder van Transnet, by Johan Brand se afskeidsgeleentheid gesê het: “Mister Brand, ek gaan jou onthou.”

Ek weet ek gaan ook vir Long John, soos wat hy onder baie van die treindrywers bekend was, onthou.

‘n Jintelman met wie “die lokomotiewe gepraat het” en wat trots sê: “Ek het n wonderlike loopbaan by Transnet gehad en geen maatskappy in Suid-Afrika sou aan my kon bied wat ek by Transnet geleer het nie. Alles wat ek het vandag het, is te danke aan Transnet en ek is innig dankbaar daarvoor.”

  • Vind meer uit van die Ceres Rail Company en die roetes wat hulle treine ry: ceresrail.co.za
  • Lees meer oor die Blou Trein: bluetrain.co.za
  • Lees op die Facebook-bladsy Footplate Memories nostalgiese herinneringe en interessanthede oor treine.
DSC_0458

Johan Brand voor sy huis

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 4, 2020 by in About trains / Oor treine and tagged .