ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Juig – al wat leef – in Jordanië

First published in Rapport, March 2018

Ek was hier en 'n kameel was saam met my

Ek was hier en ek het net ‘n T-hemp terug huis toe gebring

‘n Mens hoor en lees so min van Jordanië as reisbestemming dat jy vergewe kan word as jy van mening is dat hierdie Midde-Oosterse land aan die agterspeen suig waar dit plekke wat die moeite werd is om te besoek, aangaan.

Hoewel ‘n heeltemal gematigde land, sal die idiomatiese gebruik van ‘speen’ moontlik nog steeds ‘n tsk-tongklap van sommige Jordaniërs ontlok.  Wees egter gerus – Jordanië is ‘n toerisvriendelike land wat báie bied om te sien en beleef.

Juis in Jordanië

In die heuwelagtige hoofstad Amman met sy oorwegend stowwerige wit geboue roep die muezzin gelowiges vyf keer per dag om te kom bid terwyl Arabiese pop- en buikdansmusiek die res van die tyd vanuit winkeltjies en motors insluitende taxi’s speel.

Hoewel Amman oor sy kwota besienswaardighede beskik, spandeer die gemiddelde toeris nie baie tyd in die stad self nie.

Ja vir Jerash-verkenning

Die ruïnes van die Romeinse stad Jerasj is in 1806 deur ‘n Duitse reisiger, Ulrich Seetzen, ontdek.

Jerash se wandelgang

Jerash se wandelgang

In die Hippodroom-arena kon 15000 toeskouers sit om  strydwaresies te kyk. Vanaf die Hippodroom loop jy deur die Suidelike Hek; oorspronklik was daar vier hekke in ‘n stadsmuur van drie en ‘n halwe kilometer lank, maar min het hiervan behoue gebly. Sodra jou oog op die Forum (Ovaalplein) en die Tempel van Artemis val, gaan jy dadelik jou kamera uitpluk.

Jerash se imposante pilare

Jerash se imposante pilare

So ook in die Straat van Pilare. Oorspronklik was daar akwadukte bo-op die pilare wat reënwater na verskillende dele van die stad laat vloei het. Die Straat van Pilare is steeds met die oorspronklike keistene geplavei en die groewe van die strydwaens se wiele is duidelik sigbaar.

Kyk na ‘n Kaart van die Heilige Land by Madaba

Madaba is op ‘n plato geleë wat oor die Jordaan-vallei uitkyk. Toeriste besoek Madaba veral om die Kaart van die Heilige Land –  wat uit die sesde eeu dateer – in die Grieks-Ortodokse Kerk van Sint George te sien.

Hierdie beroemde kaart is van mosaïekinlegwerk. Op die kaart is Palestina en ‘n deel van Egipte duidelik sigbaar; ook die Nylrivier, Dooie See en die Kerk van die Heilige Graf in Jerusalem.

Die oorspronklike kaart was 25 meter by 5 meter en het uit twee miljoen mosaïekteëltjies bestaan.

‘n Laaste wens by Nebo-berg

Volgens oorlewering het Moses vanaf Nebo-berg die beloofde land gesien.

Dalk die uitsig oor die Beloofde Land

Dalk die uitsig oor die Beloofde Land

In Deutoronomium 34 staan daar: “Toe het Moses opgeklim uit die vlaktes van Moab na die berg Nebo … en die Here het hom die hele land … laat sien … En die Here het vir hom gesê: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.”

Op Nebo-berg is daar klooster- en kerkruïnes, ‘n Moses-gedenkteken en twee kerke, die Theotokos Kapel en ‘n herdenkingskerk vir Moses.

Daar is Bybelkundiges wat glo dat Moses by Nebo-berg begrawe is.

Dryf in die Dooie See

Die Dooie See – wat soms die See van Lot genoem word – is eintlik ‘n soutwatermeer. Dit het die hoogste soutkonsentraat van enige waterliggaam op aarde en is sowat 80 kilometer lank en 18 kilometer op sy breedste. Israel en Jordanië ‘deel’ die Dooie See.

Gaan ontdek self: in die Dooie See kán jy nie sink nie. Moenie eers probeer om jou gegiggel te onderdruk nie. Die gevoel dat jy bo-op die water dryf, maak die innerlike kind in jou wakker. Wees net versigtig om nie die water in jou oë te kry nie – dit brand soos vuur.

Smeer die modder op die seebodem – armroei eers na die vlakwater – oor jou lyf. Dit laat jou vel so sag en nuut soos ‘n babatjie s’n voel.

As jy teen hierdie tyd nog nie ‘n moddermasker van die Dooie See aangeskaf het nie, sal hierdie ervaring jou ongetwyfeld oortuig om spasie vir potjies en buisies skoonheidsprodukte in jou bagasie in te ruim.

Wadi Rum is ‘n ander wêreld

Vir ‘n egte woestynbelewenis waartydens jy jou lyf Bedoeïn hou, gaan die meeste toeriste op ‘n georganiseerde uitstappie na Wadi Rum. Wadi is die Arabiese woord vir ‘woestynvallei’.

Wadi Rum is die ene rooi sandwoestyn met rotsagtige heuwels of koppies wat soos gesmelte versiersuiker lyk.

‘n Nag in die woestyn is doodstil, met talle sterre (wat anders as by ons lyk, want jy is immers in die Noordelike Halfrond) en met ongelooflike sonsondergange en –opkomste. As jy bietjie ronddwaal, is daar baie Bedoeïen-rotsgeskrifte om te sien.

Lawrence of Arabia het baie tyd in die omgewing van Wadi Rum  deurgebring en die fliek oor sy lewe is ook hier verfilm.

Die prag en praal van Petra

Petra is prágtig en is in 300 v.C. deur die Nabateërs uit roossteen gebou en gekap. Die Nabateërs was Arabiere wat in die tyd voor die Romeinse Ryk die spesery-, sy- en slawehandel in dié gebied beheer het. Hul handelsroete het van Damaskus deur die destydse Arabië gestrek.

Een dag se deurloop is totaal onbevredigend. Ruim tyd in vir ‘n 2- of 3-dagpas. Hou net in gedagte dat ‘n multi-dagpas nie toelating maak vir oop dae tussenin nie.

Na jy jou kaartjie gekoop het, stap jy deur die Siq, ‘n nou klipgang van net meer as een kilometer lank. Soos wat jy aan die einde van die klipgang kom, begin jy geleidelik die Skatkamer-graftombe (Khazneh of Treasury) deur ‘n skrefie bespeur. Volgens legende het rowers hul buit hier versteek.

As jy, soos ek, saam met drie Suid-Afrikaanse boertjies daar is, en, soos ek, vooruit in die Siq af geloop het, is dit met ‘n knop-in-die-keel dat jy die trane in hul oë sien. Deur ‘n waas van jou eie emosie natuurlik.

Die Skatkamer en die Ad-Deir (Klooster) se fasades herinner aan mekaar. Om by die Klooster uit te kom, stap jy eers verby ‘n amfiteater met 8000 sitplekke, ruïnes en graftombes. Dan’s dit berg op vandaar.

Dit neem vyf uur – weereens berg op – om die Plek van Offerandes, Aäron se graftombe, die Graf van die Romeinse soldaat  en Haroen-berg te gaan bekyk.

Asemskep in Aqaba

Vier lande deel elk ‘n wig by die eindpunt van die Golf van Aqaba: Taba in Egipte, Eilat in Israel, Haql in Saoedi-Arabië en Aqaba in Jordanië.

In Aqaba kan jy op die strand sonbaai of in een van die baie hotelswembaddens afkoel. In agterstraatjies gaan die alledaagse lewe in Jordanië voort: mans rook waterpype, ‘n boerbok staan vasgebind langs die mark vroue in dowwe jurke koop groente en vrugte.

Begroot so:

Vlugkaartjie: As jy nie tydens piekseisoen vlieg nie, kos ‘n vlugkaartjie met Turkish Airlines tussen R8000-R9000.

1 Jordaniese dinar = R17

Verblyf in Amman: Soos in enige ander wêreldstad wissel die koste en kwaliteit van verblyf drasties. Betaal eerder ietwat duurder en vergewis jouself van vorige gaste se kommentaar.

Minibusvervoer is goedkoop. Veral jongmense praat Engels en help graag.

Gemiddelde pryse vir verblyf, etes en vervoer vir rugsakreisigers, diegene wat meer gemak verkies en laastens dié wat van pamperlang hou, word hier uiteengesit: www.budgetyourtrip.com/jordan

Daar is verskillende toegangsfooie vir internasionale en plaaslike besoekers. Op die volgende webtuiste kan jy sien wat die fooie by die verskillende besienswaardighede en museums is: www.international.visitjordan.com/generalinformation/justthefacts/entrancefees.aspx

Toegangsfooie by Petra: ‘n Een-, twee- of driedagkaartjie is beskikbaar. Een dag is definitief te kort vir alles wat Petra bied. Petra is een van die Sewe Wonders van die Wêreld; dit wat jy sien, kan geld eintlik nie koop nie.

Eendagkaartjie R850

Tweedagkaartjie R935

Driedagkaartjie R1020

Raak solank opgewonde: www.visitpetra.jo

Die Dooie See bring die kind in jou terug

Die Dooie See bring die kind in jou terug

4 comments on “Juig – al wat leef – in Jordanië

  1. Auriel
    July 31, 2019

    Fabulous blog as always and a delight to read.

    • ilsez
      August 10, 2019

      Thank you so much, Auriel.

  2. Tannie Frannie
    July 31, 2019

    Aa, het nou so lekker saam met jou gereis – en geswem 🙂

  3. ilsez
    August 6, 2019

    Die water was nie koud nie, of hoe reken ek, Tannie Frannie?!

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 31, 2019 by in Midde-Ooste and tagged .