ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

MARIGOLD: BOETIE, SY’S ‘N GOUSBLOM

First published in Die Burger, March 2013

20180306_131225

As Marigold ‘n peuter was, het jy haar wange geknyp. Op jou tande gekners, want dis dan net so óúlik.

Marigold is ‘n buurtwinkeltjie ‘n hanetree weg van frenetiese Kloofstraat. So klein dat jy ten alle tye – as jy jou arms weerskante toe uitsteek – aan ‘n mede-inkopieslaaf kan raak. Stefan Blom en Dagmar Pagel leef hul kreatiwiteit hier uit.

‘n Geel margriet

20180306_131242.jpg

As jy aan ‘n gousblom dink, roep jy ‘n goudgeel of vlamoranje blom op ‘n sandduin in jou geestesoog op. Met die eerste blik op Marigold sien jy geel perspeksdeure en ‘n sliert rooi tapyt op die sypaadjie. Vars blomme peul na buite en flertse kleur wink van binne.

Binne is dit ‘n oase van kalmte; tog kan jy in hierdie klein spasie lank tyd verwyl – die rakke lewer die een na die ander verrassing op. Tussen wit erdewerk roep ‘n blerts oranje,‘n kol rooi of ‘n groen gieter. Een muur is bedek met mini-kuns deur Alex Hamilton, ‘n

‘n Paddaprins met ‘n goue kroon

20180306_131238.jpg

Die groen gieter in die vorm van ‘n wulpse lemmetjiegroen padda met ‘n kroon op sy kop, roep harder as die res. As jy nie groen vingers het nie, moet ‘n groen padda-gieter daarvoor vergoed. Wat verhoed my dan nou om sommer ‘n gerf roosknoppe ook hier aan te skaf sodat die gieter as blompot ook kan dien? ‘n Soen kon ‘n brulpadda na ‘n prins in die kindersprokie verander; sonder ‘n teken van ‘n towerstaf kan ‘n gieter in ‘n vaas omskep word.

Nou gaan die poppe dans

20180306_131231

Steeds in ‘n spelerige bui, sien ek papierpoppe raak. Papierpoppe! Wanneer laas het ek dit gesien? ‘n Vloed herinneringe oorval my. Kleintyd het ek my papierpoppe tot vervelens toe uit- en aangetrek. Hierdie papierpoppe is eintlik blanko kaartjies – ontwerp deur Suzy Altman (ontdek haar styl by www.suzyaltman.com) – wat dieselfde nostalgie by jou vriendinne gaan wakker maak.

Baboesjka baboesjka baboesjka

Ek het ‘n hekel aan plastiekbakkies. Noem dit maar deel van my emosionele bagasie. Op ‘n rak in die agterste altaarhoekie – of so voel dit – by die trappies op staan ‘n deurskynende Russiese baboesjka-flessie. Hiermee kan ek saamleef – dis nou ‘n slim én mooi manier om iets in jou kombuis te stoor. ‘n Baboesjka-boekie vind ook die pad na die kasregister.

Met die uitstap terug oor die rooi tapytjie voel ek soos ek kleintyd gevoel het na ek van ‘n kinderpartytjie teruggekeer het. Steeds opgewonde en kinderlik vervuld.

Loer wat nog by Marigold te vinde is by:
·        http://www.facebook.com/marigoldgiftsandart
·        http://www.iwantthat.co.za/places-to-go/marigold/
 
Besoek Marigold by: De Lorentzstraat 21, Oranjezicht

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 13, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .