ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Mooi, mooier… Montenegro

First published in Rapport, July 2018

Mooie Montenegro

Die naam Montenegro beteken ‘swart berg’. Dis eintlik ironies, want die berge is groen, die see turkoois en die klipgeboue die kleur van heuning. Amper alles is móói.

Die Montegryne is baie lief vir katte

Die Montegryne is, soos ek, baie lief vir katte

Montenegro was eens deel van Joego-Slawië. Sedert hul onafhanklikheid in 2006 woeker die Montenegryne om die land op te bou en toeriste te lok.

Die Sitadel van Dubrovnik in Kroasië – wat die Pêrel van die Adriatiese See genoem word – kan op ‘n dagekspedisie vanaf Montenegro besoek word; só naby is Kroasië en Montenegro aan mekaar.

Moenie by enige kerk in Montenegro verbyloop nie; die religieuse kuns is verbysterend mooi

Moenie by enige kerk in Montenegro verbyloop nie; die religieuse kuns is verbysterend mooi

As jy egter Montenegro vanaf Serwië se kant benader, sal jy dom wees om nie een van die mooiste treinritte ter wêreld te onderneem om hier uit te kom nie.

So ry die trein na Montenegro

Vanaf Belgrado, Serwië se hoofstad, loop ‘n plaaslike trein na Bar in die suide van Montenegro. Jy kan ook in Podgorica, die hoofstad van Montenegro afklim, maar dan mis jy die deel waar die trein langs die asemrowende Skadar-meer verbyry. In een dag – die trein vertrek soggens 9h00 uit Belgrado – ry jy deur 254 tonnels en oor 435 brûe!

Jy kom na donker in Bar aan, maar jy mis nie veel nie aangesien hierdie hawedorp nie veel bied nie.

Sveti Stefan is idillies mooi

Besoek Montenegro in die afseisoen anders is daar orals derduisende mense

Besoek Montenegro in die afseisoen anders is daar orals derduisende mense

Vanaf Bar loop gereelde busse na Sveti Stefan. Op Sveti Stefan-eiland is die eksklusiewe Aman Sveti Stefan Hotel. Dagbesoekers word nie op die eiland – wat met ‘n loopbrug met die vasteland verbind is – toegelaat nie. Dis teoreties moontlik om by een van die hotel se restaurante te bespreek en só die eiland te besoek, maar om dit reg te kry, is nie so maklik nie. Die hotel het ook die reg om jou bespreking op kort kennisgewing te kanselleer.

Sveti Stefan bestaan uit twee dele - die eiland met 'n luukse hotel en die heuwelagtige vasteland

Sveti Stefan bestaan uit twee dele – die eiland met ‘n luukse hotel en die heuwelagtige vasteland

Tot en met die 1950’s het ‘n vissersgemeenskap op Sveti Stefan-eiland gewoon. Dit moes absoluut idillies gewees het.

Die eiland van Sveti Stefan is verbind aan die vasteland, maar is grotendeels eksklusief vir hotelgaste

Die eiland van Sveti Stefan is verbind aan die vasteland, maar is grotendeels eksklusief vir hotelgaste

As jy in die dorpie van Sveti Stefan op die vasteland bly en sekermaak dat jou verblyfskeuse ‘n goeie uitsig het, kyk jy uit op Sveti Stefan-eiland. Mooier gaan jy ver soek om te kry.

Plesierig in Petrovac

Petrovac lê net suid van Sveti Stefan. Busse loop elke paar minute met die kuspad langs; dis ook veilig om te ryloop.

Moenie jou misgis nie - in seisoentyd is die hoofstrand van Petrovac gepak met duisende mense

Moenie jou misgis nie – in seisoentyd is die hoofstrand van Petrovac gepak met duisende mense

Soos die meeste ander plekke in Montenegro is Petrovac volgepak in Julie en Augustus. Dis hoogs aanbevole om die kus van Montenegro buite seisoen te besoek.

Aan die een kant van Petrovac se halfmaan-strand is die Ponta Restaurantkroeg op sy eie landknoets wat oor die see en ‘n eilandjie met ‘n eenvertrek-kerkie uitkyk. Aan die ander kant is ‘n kliphawetjie en ‘n 16de-eeuse Venesiese fort. Langs die hawe is ‘n paar restaurantjies waar jy op die kaai sit en oor die hawebedrywighede uitkyk.

Die bedrywighede in die vissershawetjie by Petrovac gaan ongestoord voort

Die bedrywighede in die vissershawetjie by Petrovac gaan ongestoord voort

Petrovac se visserhawetjie met 'n Venesiese fort daaragter

Petrovac se visserhawetjie met ‘n Venesiese fort daaragter

Przno is pragtig

Przno is piepklein. Jy kan amper ‘n klip van een kant van die strand na die ander gooi. Vanaf Sveti Stefan is daar ‘n drentelpaadjie deur tuine en natuurlike plantegroei na Przno.

By Przno vaar tradisionele vissersbootjies nog uit terwyl restaurantgangers hul doen en late dophou. Die restaurantjies is egter intiem; hulle bedien uitstekende kos en het ‘n ongeëwenaarde uitsig oor die baaitjie en ‘n klein eilandjie met ‘n klipruïne waarheen jy kan swem sou die lus jou pak.

Die lekkerste aand van die hele vakansie was aandete by Konoba More wat met sy voete in die water sit

Die lekkerste aand van die hele vakansie was aandete by Konoba More wat met sy voete in die water sit

Die uitsig vanaf die terras by Konoba (Restaurant) More

Die uitsig vanaf die terras by Konoba (Restaurant) More

Die son sak oor Przno

Die son sak oor Przno

Terwyl die son oor die see voor ons sak, het ons by Konoba More, ‘n visrestaurant, onverbeterlike ansjovis as voorgereg en seekosrisotto geëet.

Met ons vertrek ‘n paar dae later was hulle besig om ‘n musiekverhoog op Przno-strand op te rig aangesien die seisoen om die draai was. Dit het my eintlik hartseer gestem, want besoekers wat hulle dan hier bevind, sal nie naastenby die betowering van Przno kan ervaar nie.

Laat Budva se Ou Dorp jou insluk 

Budva is ‘n busrit van 20 minute vanaf Sveti Stefan. As jy by die bus uitklim, sien jy dadelik ‘n outydse begraafplasie met twee kerkies tussen die grafte getooi met kruise raak.

Waar jy afklim by die bus in Budva begroet hierdie toneel jou

Waar jy afklim by die bus in Budva begroet hierdie toneel jou

Orals in Montenegro is piepklein kerkies en kloostertjies

Orals in Montenegro is piepklein kerkies en kloostertjies

Casper is 'n restaurantkroeg met heerlike vlytbier in Budva

Casper is ‘n restaurantkroeg met heerlike vlytbier in Budva

Net buite die mure van die Ou Dorp van Budva is hotelstrande wat seisoentyd volgepak is

Net buite die mure van die Ou Dorp van Budva is hotelstrande wat seisoentyd volgepak is

Tussen die Venesiese klipmure – Venesië het van 1420 tot 1797 oor ‘n groot deel van die Montegrynse kuslyn regeer – van die Ou Dorp van Budva is boetiekwinkeltjies, kroegies, koffiewinkels, restaurantjies en ‘n hele paar kerke. Binne-in die kerke is versamelings ikone wat jou nog lank sal bybly.

Die Argeologiese Museum strek oor drie verdiepings en vanaf hul dakterras kan jy oor die Ou Dorp uitkyk.

Een van die mooiste plekke op ons planeet is Kotor

Die Baai van Kotor is eintlik baai op baai op baai. Rondom die Baai(e) van Kotor is die Orjen en Lovcen-berge wat in die water van die smal baaie weerkaats. Plek-plek sien jy kloostertjies op die pieke.

In die Baai van Kotor is klipdorpie op klipdorpie op klipdorpie – daar is onder andere Herceg Novi, Risan, Perast en Kotor self. Oral waar jy ry sit vissermanne met visstokke; langs baie van hulle sit ‘n kat wat hoop op ‘n happie as die vis net wil byt.

Winkelhortjies in Kotor kry 'n nuwe laag verf om gereed te maak vir die nuwe seisoen

Winkelhortjies in Kotor kry ‘n nuwe laag verf om gereed te maak vir die nuwe seisoen

Dis heerlik om in die Ou Dorp (Stari Grad) van Kotor tussen die mure wat uit die negende eeu dateer, te verdwaal. Na jy deur die Seehek (Vrata od Mora) wat in 1555 opgerig is, gestap het, is daar baie om te sien.

Óf jy kan heel eerste 1350 trappe teen die heuwel op klim vanwaar jy vanaf ‘n klipvesting oor die baai en die Ou Dorp kan uitkyk óf jy kan die lui opsie kies en deur die stegies dwaal.

Kat se kind knip 'n uiltjie op een van die pleine in die Ou Dorp van Kotor

Kat se kind knip ‘n uiltjie op een van die pleine in die Ou Dorp van Kotor

Die binnekant van die Sint Tryphon Katolieke Katedraal sal jou week laat; moet ook nie by die kleiner kerkies verbyloop sonder om in te gaan nie.

Daar is ‘n Maritieme Museum in ‘n ou paleis – met kanonne  weerskante van die voordeur – en ‘n Katmuseum; helaas, nie eens hierdie geswore katliefhebber het ‘n lang tyd daar spandeer nie. Daar’s klein, stil pleintjies en besige dorpspleine waar sypaadjietafels volgepak sit.

Daar’s wyn-, ikoon- en antiekwinkels en ook die Cats of Kotor-winkel – die Montegryne is ooglopend lief vir katte.

Perast is pret

Perast is prentjiemooi en daarom is dit by verre die gewildste dorpie in die Baai van Kotor. Dié kleine dorpie het 16 kerkies en eens op ‘n tyd was hier 17 paleise.

In die baai self is twee eilandjies; ‘n meer romantiese prentjie gaan jy nie sommer êrens anders raakloop nie. Op die kleinste eiland genaamd Sv Dorde (dit beteken Sint George se Eiland) is ‘n Benediktynse klooster omring deur sipresbome.

Die eiland Gospa od Skrpjela met sy kerkie en vuurtoring op die punt

Die eiland Gospa od Skrpjela met sy kerkie en vuurtoring op die punt

Op die ander eiland genaamd Gospa od Skrpjela (Ons Dame van die Rots Eiland) is ‘n pragtige kerkie wat as ‘n heiligdom vir vissermanne beskou word. Beding ‘n prys met een van dié vissermanne wat jou dan met sy bootjie na die eiland neem. Reël ook vooraf hoe lank jy op die eiland wil spandeer. Daar is ook taxi-bote wat heen en weer vaar.

Vaar saam met een van die vissermanne in sy bootjie na die eilande by Perast

Vaar saam met een van die vissermanne in sy bootjie na die eilande by Perast

Aan die punt van die eiland is ‘n klein vuurtorinkie. Met ons besoek was hulle besig om te verfilm en daar was so ewe ‘n vleuelklavier voor die vuurtoring geplaas.

'n Fliektoneel word verfilm op een van Perast se eilandjies

‘n Fliektoneel word verfilm op een van Perast se eilandjies

Dit het vir my gevoel dat dit nie saak maak hoeveel aande jy in die Baai van Kotor bespreek nie; dis eenvoudig net te min!

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 14, 2019 by in Europa and tagged .